Storie van Pretoria begin by oeroue berge

Prof. Anton van Vollenhoven, argeoloog en buitengewone professor in geskiedenis aan die NWU, het sy nuwe boek, “Die geskiedenis van Pretoria: Van vroegste tye tot hoofstad en Jakarandastad”, uitgereik. (Foto: Verskaf)

Het jy geweet dat Pretoria se geskiedenis sowat 1 miljoen jaar gelede terugstrek, toe mense van die Acheulkultuur hier gevestig het?

Prof. Anton van Vollenhoven, argeoloog en buitengewone professor in geskiedenis aan die Noordwes-Universiteit, het hierdie feit uit sy nuwe boek, Die geskiedenis van Pretoria: Van vroegste tye tot hoofstad en Jakarandastad, tydens die bekendstelling van dié boek vertel.

Dié boek is Dinsdag in samewerking met die FAK by die Voortrekkermonument ter viering van Pretoria se 166ste bestaansjaar vanjaar bekendgestel.

“Hoewel daar in die boek dank betuig word, wil ek in die besonder my dank uitspreek teenoor dr. Danie Langner en die FAK, sonder wie se ondersteuning hierdie boek nie die lig sou gesien het nie.”

Daar is al verskeie werke gepubliseer oor die geskiedenis van Pretoria en elkeen daarvan het meriete in eie reg. Wat hierdie boek anders maak, is dat dit die eerste keer is dat inligting omtrent die voorgeskiedenis van die gebied in detail geboekstaaf word.

Benewens geskiedenis, bring dit dus ook inligting uit argeologiese navorsing na vore. Daarbenewens word die geskiedenis van die hoofstad met omgewingsgeskiedenis gekontekstualiseer. ’n Verdere aspek is dat die bewoning van die gebied, voor dit as Pretoria bekend gestaan het, in groot besonderhede in die werk weergegee word. Dit werp in besonder ’n blik op die pioniersgeskiedenis van Pretoria. Die ontstaan van Pretoria, wat onlosmaaklik verbind kan word met die funksie daarvan as hoofstad, geniet vervolgens aandag. Die laaste gedeelte van die boek is ’n toonbeeld van kultuurgeskiedenis aan die werk en fokus op die geskiedenis van die vele jakarandabome wat aan die stad sy bynaam – Jakarandastad – gegee het.

(Foto: Verskaf)

Volgens Van Vollenhoven is die doel van die “mees omvattende boek tans oor Pretoria” om ’n oorsig van die geskiedenis van Pretoria weer te gee. Hy het albei die navorsingsvelde waarin hy gespesialiseer het, ingespan om hierdie “boek anders te maak”.

Van Vollenhoven, wat self ’n inwoner van die Jakarandastad is, het gesê: “Dit is werklik vir my ’n voorreg dat ek ’n inwoner van Pretoria kan wees. Om dan nog intens daaroor navorsing te doen, is ’n absolute bonus.

“Pretoria is ’n woonplek van vele presidente soos MW Pretorius en Paul Kruger gewees, maar ook persone soos Johannes en Lucas Bronkhorst, Andries Vermeulen, Andries du Toit, die Minnaar- en Erasmus-families, James Clark en Walton Jameson (albei alias Jacaranda Jim), Ystertydperkbewoners onder wie hoofman Msi en sy nageslag, asook die plek waar Australopithecine tydens die Steentydperk ’n tuiste gevind het.”

Hy het gesê dít is ook die plek van sy hart en toe sy stad se lof besing deur ’n frase uit Koos du Plessis se liedjie “Pretoria” uit volle bors te sing.

Prof. Anton van Vollenhoven teken ‘n kopie van sy nuwe boek. (Foto: Verskaf)

“Die geskiedenis van Pretoria is veral van belang omdat die ontstaansgeskiedenis van die stad daarmee verband hou dat dit juis as hoofstad daargestel is. Dit is belangrik om daarop te let dat pres. MW Pretorius nie bloot ’n dorp in die Apiesriviervallei en omgewing tot stand wou bring nie, maar dat hy juis ’n hoofstad daar wou stel. Dit maak van Pretoria een van die min wêreldstede wat met hierdie doel voor oë gestig is.”

As lusmaker vir die gaste en om ook enigiemand aan te spoor om dié boek te lees, het hy ’n paar kitsfeite oor die Jakarandastad gedeel:

  • Dit is vernoem na kommandant-generaal AWJ Pretorius, held van die Slag van Bloedrivier.
  • Dit is aangelê op die plase Daspoort en Elandspoort.
  • Dit kry elektrisiteit in 1894.
  • In 1897 kry dit suksesvol munisipale status.
  • Dit is steeds die tuiste van talle wilde diere.
  • Die twee fonteine in Groenkloof verskaf steeds sowat 5% van vars water vir Pretoria.
  • Daar is tans sowat 65 000 jakarandabome in Pretoria.
  • Die grootste natuurlike witstinkhoutwoud kom hier voor.
  • Pretoria beskik oor die tweede oudste natuurreservaat in Suid-Afrika, naamlik die Groenkloof-natuurreservaat.
  • Dit is die mees gefortifiseerde stad en is drie keer in sy geskiedenis gefortifiseer.

Die geskiedenis van Pretoria: Van vroegste tye tot hoofstad en Jakarandastad is by die FAK beskikbaar. Stuur vir Izelle ’n e-pos by [email protected] om jou eksemplaar te bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.