Storieman sien weer die lig

Die immergewilde Storieman-reeks wat in die 1980s deur Leon Rousseau uitgegee is, en vir ʼn geruime tyd uit druk was, sien weer in Augustus die lig.

Die Storieman-reeks was ongetwyfeld een van die grootste kinderboeksuksesse van ons tyd. Dié reeks, gekenmerk deur die vrolike kabouter met die rooi broek, groen baadjie en veerpluimhoed op die voorblad, het die wonderlike wêreld van stories vir duisende Suid-Afrikaanse kinders oopgemaak en ‘n onlosmaaklike deel van hulle grootwordjare en opvoeding gevorm. Mense vandag in hulle 20’s of 30’s raak nou nog kinderlik opgewonde as ʼn mens Storieman noem en verklap dalk selfs dat hulle hul rooi Storieman-tassie en kasette steeds iewers bewaar!

Maroela Media het vroeër berig Human&Rousseau (‘n druknaam van NB-Uitgewers), het in samewerking met Rousseau, besluit om vanjaar ‘n omnibus van die gewildste Storieman-stories uit te gee.

Hierdie omnibus-uitgawe is ‘n versameling van die mooiste en gewildste plaaslike- en feëverhale. Dit sluit die oorspronklike voorlesings op twee CDs in. Luister in hierdie uitgawe na geliefde verhale soos Besie, Van Hunks en sy pyp en Wolraad Woltemade, asook na die klassieke Brolloks en Bittergal en Jakkals en Wolf-stories.

Daar is ook feëverhale soos Die drie varkies en Gouelokkies om weer van nuuts af te betower. Storieman is so ontwerp dat selfs die jongste kind dit kan gebruik. By die huis, in die motor… Storieman is daar. Honderde aanhangers wag reeds opgewonde vir hierdie opwindende nuwe uitgawes.

Bestellings kan op kalahari.com gedoen word teen R119.95.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pieter ·

Storieman is bietjie voor my tyd… Ek onthou eerder vir Storiemuis boek en Rympieman! Ek dink tog om weer n kans te he om so iets te kan kry van ons jong dae is regtig wonderlik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.