Stories vir perdeliefhebbers

Marga Jonker se Perde-omnibus 1 wat drie vollengte verhale getiteld Sonder Chocolate Charlie, Brigadier en die raaiselponie en City Girl en die swart hings bevat, word uitgegee deur Tafelberg Uitgewers.

Tienermeisies, veral dié wat lief is vir diere (en perde in die besonder), sal sommer hierdie omnibus sommer baie geniet. Die sagtebandboek beslaan 436 bladsye wat in ’n gerieflike leesformaat gedruk is en waarde vir geld bied. Dit is die perfekte vakansieleesstof, en ek sou as ek nog ’n tiener was, dit bêre vir die lang, koue Junievakansie wanneer mens niks anders wil doen nie as om iewers snoesig op te krul met ’n dik boek.

Jonker skryf gemaklik en onderhoudend. Sy betrek selfs iemand soos ek wat nie baie van perde weet nie sonder inspanning by haar stories. Reeds op die heel eerste bladsy het sy my laat wonder oor haar gebruik van “reun” vir ’n perd, maar toe ek daaroor nalees, kom ek agter dat hoewel die manlike dier ’n “hings” is, word die gesnyde “reunperd” genoem. So leer ek toe sowaar iets wat ek nie geweet het nie.

In die eerste storie, Sonder Chocolate Charlie moet Nell op doktersbevele ’n nagmerrie-joernaal byhou. Sy kan glad nie die ongeluk onthou waarin sy seergekry het en haar geliefde Charlie hom doodgeval het teen ’n gevaarlike berghang nie. Sy kry wel soms nagmerries oor die gebeure, maar is die aaklige drome dít wat wel gebeur het? Intussen bly die stem in haar kop skree: “Freak! Perdemoordenaar!” Intussen kom daar ’n nuwe Palomino-ponie op die plaas aan en sorg vir hope konsternasie.

In die tweede storie, Brigadier en die raaiselponie, hou Zahn en haar suster, Alexandra, en dié se kêrel saam met hulle langverlore pa vakansie in die inheemse bosse naby Plettenbergbaai. Zahn se geliefde Brigadier is ook daar, maar hy is duidelik angstig en nie op sy gemak nie, want hy is gewoond aan Melkbosstrand se ooptes. Was dokter Sibella, die kruiedokter, reg toe sy gewaarsku het dat daar naglopers in die bosse is?

In die laaste storie, City Girl en die swart hings, gaan Nicole saam met haar ma op ’n navorsingstog oor dolfyne aan die Kaapse Weskus. Sy sou egter veel eerder tuis wou bly om ’n perdespringkursus by Golden Acres, Pretoria se prestige ryskool, by te woon. Sy ontmoet egter ruiters – glo verlangs familie van haar – wat lyk asof hulle in ’n cowboy movie hoort. Sy voel eers gekrenk oor die bynaam “City Girl” wat sy kry, maar besef later dat sy ’n onvergeetlike vakansie beleef op dié plek vol verrassings.

Ek het heerlik aan al drie hierdie stories gelees en het veral die dialoog en dinamika tussen die karakters geniet. Dit is avontuurverhale met genoeg misterie en ook romanse in om enige jong meisie (en seun!) te vermaak. Die leef- en denkwêreld van hedendaagse kinders word geloofwaardig uitgebeeld.

Jonker dra die boek op aan ene Theresa en Mikhael, maar veral ook aan Bessie. Vorige boeke van haar wat Tafelberg uitgegee het, se titels is Gabriella en die hertog van harte (2015), Jenna en die leesperd (2016) en Maya en die musketier (2019).

Skaf Perde-omnibus 1: Sonder Chocolate Charlie en ander gunstelinge by toonaangewende boekwinkels aan of bestel dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.