Storietyd: ‘Jakkals nooi ooievaar vir ete’

‘n Illustrasie uit “Jakkals nooi ooievaar vir ete” wat in Storiekaros verskyn. Dit is deur Megan Bird geïllustreer (Verskaf deur Lapa Uitgewers)

Hier volg “Jakkals nooi ooievaar vir ete” wat in Storiekaros verskyn. Die gedeelte is goedgunstig deur Lapa Uitgewers verskaf.

Jakkals en Boer was nie goeie vriende nie, want Jakkals was altyd besig om kwaad te doen. As hy die dag regtig vol streke was, het hy by Boer se huis ingeglip en van die biltong en melktert gesteel wat Boer se vrou gemaak het.

Op ’n mooi lente-oggend sien Jakkals hoe Boer en sy vrou die wa inspan om dorp toe te gaan. “Nou is my kans!” giggel Jakkals.

“Vandag eet ek my knuppeldik aan daardie parmantige haan wat my elke oggend wakker kraai. En sommer daardie vet wit hen en haar nuwe kuikens ook,” sê hy terwyl hy sy lippe aflek.

Boer en sy vrou het skaars om die draai verdwyn of Jakkals kruip uit sy skuilplek. “Dalk moet ek eers by die kombuis gaan inloer,” sê hy. “Ek kan altyd vannag weer terugkom hoenderhok toe, maar dis nie altyd so maklik om by die huis in te glip nie.”

En so waar as vet, daar staan die kombuisvenster op ’n skrefie oop. Jakkals maak dit versigtig oop en klouter in. Hy val sommer weg aan die biltong en koeksisters en sappige pasteie. Toe hy dors raak, maak hy ’n bottel gemmerbier oop en drink die hele bottel leeg tot net die rosyntjies op die bodem oorbly.

Net toe Jakkals nog ’n koeksister wil hap, hoor hy iemand by die voordeur. Dis Boer wat sy beursie vergeet het en al die pad moes terugry om dit te kom haal.

Jakkals gryp ’n string boerewors, ’n pak spek en ’n ronde kaas voordat hy deur die venster spring.

By die huis besluit Jakkals om ’n pot sop te kook en sy buurvrou, Ooievaar, te nooi vir aandete. Hy hou nie juis van haar nie, maar nadat sy hom die vorige keer genooi het, sal hy haar seker móét nooi.

Jakkals wens dat hy eerder die hele pot sop vir homself kon hê, maar hy stap tog na Ooievaar toe en nooi haar om die aand by hom te kom eet.

“Ag, maar dis dierbaar van jou,” giggel Ooievaar en fladder haar ooglede. “Ek kom alte graag.”

Daardie aand bring Ooievaar ’n bossie blomme en twee kerse en help Jakkals om die tafel te dek. Maar Jakkals is so ongeskik dat Ooievaar nie haar oë kan glo nie. Al waaraan hy kan dink, is die pot sop wat hy nie met haar wil deel nie.

“Ek wens die koddige ding wil eerder huis toe gaan,” brom hy.

“Miskien kry sy ’n vreeslike kopseer of maagpyn of iets!” Maar niks gebeur nie.

Toe dit opskeptyd word, maak Jakkals ’n nare plan. Hy haal sy platste borde uit die kas en skep die sop daarin.

Terwyl Jakkals smul dat die sop spat, sukkel Ooievaar haar morsdood. Al probeer sy hoe hard, kry sy net die punt van haar snawel in die bord gesteek. Sy kry nie ’n mondjie sop opgeslurp nie.

Jakkals giggel in sy mou. Maar omdat Ooievaar ’n ware dame is, maak sy asof daar niks fout is nie en bedank Jakkals vir die heerlike maaltyd.

“Jy het vanaand soveel moeite gedoen dat ek jou graag môre-aand ʼn bietjie wil bederf,” sê Ooievaar met ʼn soet glimlaggie.

Jakkals kan sy geluk nie glo nie. Eers het hy sy hele pot sop vir homself en nou wil die dom ooievaar hom nog vir ete ook nooi! En sy is juis so ’n goeie kok.

Toe Jakkals die volgende aand aan Ooievaar se deur klop, kom die heerlikste geure deur die oop venster aangesweef. Dit ruik na skaapboud en gebraaide aartappels, geelrys en soetpatats, waterblommetjiebredie, souskluitjies en vla. Jakkals trippel eintlik rond van lekkerkry.

“Kom gerus in,” nooi Ooievaar vriendelik. “Ek skep net gou op.”

Jakkals gaan sit solank aan tafel. Hy het heeldag niks geëet nie omdat hy hom vanaand by Ooievaar knuppeldik wil eet.

“So ja,” sê Ooievaar en sit twee hoë flesse met smal openinge op die tafel neer.

Een vir haar en een vir Jakkals.

“Eet gerus,” glimlag sy liefies. “Sulke lekker kos mag nie koud word nie.”

Toe val sy weg en smul heel eerste aan die waterblommetjies.

Jakkals probeer eers om sy tong in die fles te kry, toe sy snoet en later sy pote. Toe hy dit nie regkry nie, dop hy die fles om en daar val alles KAPLAKS! op sy gesig.

Jakkals gluur na Ooievaar. Toe storm hy by die huis uit sonder ʼn krieseltjie kos in sy maag, maar met geelrys in sy ooghare en soetpatat aan sy snorbaard.

Daardie dag het Jakkals sy les geleer en nooit ooit weer so ’n nare poets op enigiemand gebak nie. En vir die res van sy lewe was hy spyt oor daardie heerlike souskluitjies waarby hy nooit uitgekom het nie.

  • Lees meer oor Storiekaros deur Wendy Maartens hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.