Stryd in die bos

Johan Fourie

’n Helikopter kom laag oor die bosse aangevlieg. Die helikopter, ikoon van wildbewaring in Afrika. ’n Skoot klap. Die renosterkoei steier. Dan kom sy weer op die been en hardloop met mening om weg te kom van die gevaar. ’n Tweede skoot klap. Dié slag struikel die koei en rol in die stof. Bloed spuit met ’n dik straal uit haar kop, om ’n laag rooi skuim in die sand te maak.

Die saagdraer druk die lem teen die basis van die horing, styf teen die vel. ’n Mens moet nie mors nie. Die saag skree skril soos dit deur die horing sny. Die brandreuk hang swaar in die lug. Bloed en stukke vel trek in ’n stroom die grasveld binne. Dan val die horing met bebloede basis in die sand.

In die jaar 2010 is 333 renosters in Suid-Afrika deur stropers vernietig en in 2011 is daar teen Augustus alreeds meer as 290 renosters gestroop. Dis die hartverskeurende werklikheid en gebeure waaraan Johan Fourie in sy boek Stryd in die bos ʼn stem gee.

Gaan die manne van Xikhova betyds al die leidrade kan opspoor om nog ʼn renostervangs te stuit? Barry, Pierre en Johan is lid van die spesialis-eenheid wat die drie manne van die ECI bystaan in hul pogings om renostertropery te keer. Dan is daar ook nog Jane en Koba wat op ʼn meer vroulike manier inligting uit die manne moet kry…

Johan Fourie skryf onderhoudend en met eerlikheid en passie oor die skemer wêreld van die stropers – mense wat gevorderde tegnologie, helikopters en groot geld inspan vir hul duistere motiewe. Sy deeglike kennis van die veld, natuur en die taktiek wat die stropers gebruik dra daartoe by dat hy die leser ʼn naelbytervaring gee oor ʼn saak wat elke Suid-Afrikaner na aan die hart behoort te lê. Die leser is telkens saam met die spesiale magte bly oor hul suksesse, maar ook saam met hulle ontsteld as hul weer ʼn renoster verloor.

Johan Fourie slaag daarin om die strategieë van die wildstropers asook die pogings om hul te uitoorlê op ʼn spannende wyse aan die leser voor te hou sonder om die leser te ontstel, maar terselfdertyd die leser skerp onder die indruk te bring tot watter uiterstes die stropers sal gaan. Hierdie is ʼn moet-leesboek vir elke natuurliefhebber wat die welsyn van ons renosterbevolking op die hart dra. Agter in die boek word ook inligting gegee van verskillende hulpaksies t.o.v. die bewaring van renosters en die leser word ook verwys na maniere waarop die gewone burger betrokke kan raak in die bewaring van hierdie uiters bedreigde spesie.

Oor die outeur
Johan Fourie is ʼn natuurbewaarder en eienaar van die Cape Nature College Wild Life Training. Hy het in sy twintigerjare as helikoptervlieënier in die SA Lugmag gewerk. Die bekoring van die natuur het egter te sterk geword en in 1982 is hy na die Krugerwildtuin. Vir die volgende vier jaar het hy die Lebomboberge in die ooste van die wildtuin as natuurgids verken. Na sy dienstermyn op staptoere is hy oorgeplaas na omgewingsopvoeding en natuurbestuur. Vyftien jaar later besluit hy om sy eie onderneming te stig om natuuropleiding aan natuurbewaringsorganisasies en die publiek te bied.

Stryd in die bos sal begin Oktober by alle toonaangewende boekwinkels beskikbaar wees, asook by On the Dot by 0861 668 368.

R10 van elke boek wat verkoop word gaan aan die Stop Rhino Poaching Fund.

Lees ook meer oor Wêreld Renoster dag.

Lees ‘n uittreksel uit Stryd in die bos hier

Uitgewer: Naledi
Prys: R159,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.