Stuur my groete aan Salomé

Jackie Grobler

’n Ongewone spanningsverhaal met die Pretoria van die Anglo-Boereoorlog as agtergrond. In die vroeë oggendure van 15 Maart 1901 word Salomé de Waal wakker gemaak deur ’n dringende klop aan haar kamervenster. Dit is die Boereverkenner Hans van Zyl wat wegkruipplek soek van sy Kakie-agtervolgers. Hans, ’n ou vriend van Salomé se verwonde broer Piet, word Salomé se enigste kontak met die Boere op die slagveld. Hoe moet sy die opwinding verstaan wat Hans se besoeke elke donkermaan meebring? Sy is immers getroud, al beskou sy haar man, Albert, as ’n verraaier omdat hy vir die Britse besettingsmag werk. Dan is daar ook die sjarmante maj. Bruce Symington, wat betower word deur Salomé se skoonheid én haar andersheid.
Salomé raak net so verstrengel in die spioenasienetwerk in Pretoria as in haar eie verwarde gevoelens, haar pligsbesef en haar politieke oortuigings. Eers wanneer sy as hulpverpleegster in die Irene-konsentrasiekamp gaan werk, word die oorlog vir haar werklikheid en neem sake ’n verloop wat sy nie kon voorsien het nie.
Gebeure wat mekaar vinnig opvolg en ’n realistiese tekening van die agtergrondsgegewe sorg vir ’n besonder knap verhaal wat die leser meesleur.

Oor die outeur
Dr. Jackie Grobler is ’n historikus van Pretoria met ’n besondere kennis van die Anglo-Boereoorlog, wat in hierdie roman oortuigend as agtergrond aangebied word. Hy is beskikbaar vir onderhoude.

Uitgewer: Protea
Prys:R200-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.