Taalmonument bied kursus oor boekherstel en -bindery

Argieffoto (Foto: jarmoluk, Pixabay)

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) bied van 27 tot 29 September ʼn gevorderde boekherstelkursus aan oor tegnieke soos leerbind- en bladgoudwerk.

Dit volg op ʼn hoogs geslaagde inleidende kursus oor die herstel van boeke wat Junie vir 15 deelnemers aangebied is. Die boekherstelspesialis George Wentzel het die kursus gelei en word deur kursusgangers as ʼn “besonder dinamiese en plesierige aanbieder” beskryf.

“Ek beveel hierdie kursus vir mense aan wat graag meer oor boekherstel wil leer,” sê Colleen Chatt, wat aan die inleidende kursus in Junie deelgeneem het.

Angelo Carelse wat ook die kursus bygewoon het, meen dit het hom gemotiveer om met iets nuuts en opwindends voort te gaan.

Wentzel, ʼn gekwalifiseerde meesterboekbinder het meer as 45 jaar ondervinding en het voorheen in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika se boekbewaringsafdeling gewerk. Hy beywer hom tans om dié skaars vaardigheid te onderrig en het al meer as 50 rampbestuur- en boekbindwerkwinkels landwyd aangebied.

Sy gevorderde kursus in September is geskik vir beginners en mense wat reeds basiese boek- en papierherstelwerk onder die knie het.

Tydens die tweetalige driedagkursus sal deelnemers onder meer drie boeke maak, Solanderbokse bou, stikwerk van bladsye doen en baie meer oor boekherstelwerk leer. Die program sluit ook die volgende in: basiese konsepte, werksprosedures asook demonstrasies van en praktiese oefeninge in skutblaaie, boekbindwerk, leerbindwerk, omhulsel-afronding en bladrugsteun.

Die kursus kos R2 000 per persoon wat ʼn sertifikaat van bywoning en ʼn stel basiese gereedskap insluit. Vir meer inligting hieroor, nader Jeffrey Pietersen by [email protected] of skakel 021 872 3441 om meer te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Dis nou iets wat ek graag sou wou doen. Ek is mal oor boeke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.