‘Terreur in Kaboel’, skrywer deel reis ses jaar later

Hannelie Groenewald, skrywer van ‘Terreur in Kaboel’, het ses jaar gelede haar gesin in ʼn terreuraanval in Kaboel verloor (Foto: nb.co.za)

Ses jaar gelede is Hannelie Groenewald se man, Werner, en hul twee kinders, Jean-Pierre en Rodé, op grusame wyse tydens ʼn terreuraanval in Kaboel, Afganistan, vermoor.

Maroela Media het met Hannelie gesels oor haar helingsproses, haar verhouding met God en die impak van haar boek Terreur in Kaboel. Sy deel ook raad met Christene wat traumatiese gebeure moet verwerk.

Die Groenewalds het in 2002 Pretoria verlaat om sendingwerk in Afganistan te gaan doen. Ondanks familielede wat hulle afgeraai het om dit te doen, het Hannelie en haar man die moed van hul oortuiging gehad dat dit God se roeping is.

Werner was destyds predikant by die NG-gemeente in Moreletapark. Na ʼn paar sendingreise in die buiteland het hy en Hannelie geweet dit is waarheen hulle moet gaan. Werner het toe ʼn kweekskool in Kaboel gestig wat Afgaanse Christene as predikante opgelei het.

“As gevolg van Werner se opleidingsentrum het almal van ons geweet. Ongelukkig het die Taliban ook van ons te hore gekom en agterdogtig begin raak,” vertel Hannelie.

Hulle gesin is weke voor die aanval dopgehou. Elke beweging, roetine en selfs die binnekant van hul huis is noukeurig deur die aanvallers bestudeer.

Op 29 November 2014 het ʼn groep Afgaanse mans op die Groenewalds se huis in Karte Seh, ʼn voorstad van Kaboel, toegesak. Hannelie was die enigste lid van die gesin wat daardie dag nie tuis was nie.

Dié aanval het nie ongesiens gebeur nie. Binne enkele ure het dit skokgolwe deur die wêreld gestuur en Hannelie is oorval met versoeke om haar getuienis te deel.

Terreur-in-Kaboel“Ek is nie ʼn skrywer nie en ek het nie beplan om ʼn boek te skryf nie,” erken sy. “Maar soos wat ek deur gemeentes genooi is om my getuienis te deel, het ek besef daar is soveel mense wat diep geraak word deur my verhaal.”

Ongeveer ses maande na haar terugkoms in Suid-Afrika het sy ingestem om ʼn boek te skryf. Terreur in Kaboel is in 2017 deur Lux Verbi uitgegee.

Hannelie vertel dat die skryfproses haar opnuut met emosies en trauma gekonfronteer het. Sy beskou dit as ʼn groot deel van haar helingsproses.

“Ek het nie vooraf gedink dit sou so ʼn invloed hê nie,” sê sy. Hannelie het dikwels haar getuienis by kerke, seminare en ander geleenthede gedeel, maar sy het nie soveel emosie ervaar wanneer sy daaroor gepraat het nie.

Sedertdien het Terreur in Kaboel in Engels en Nederlands verskyn.

Stichting De Ondergrondse Kerk (SDOK), ʼn Nederlandse organisasie wat met vervolgde Christene werk, het verlede jaar vir Hannelie gekontak en laat weet dat hulle belangstel om haar boek te vertaal. Dit is uitgee met die titel De hoogste prijs.

Hannelie vertel opgewonde dat haar boek binnekort ook in Spaans en Portugees vertaal word.

“Ek is ʼn paar weke gelede deur ʼn sendingorganisasie van Amerika gekontak. Hulle wil graag Spaanse en Portugese e-boeke vir aspirantsendelinge uit Suid-Amerika gee wat na afloop van hul opleiding na Afganistan sal vertrek,” sê sy.

Hannelie is verheug oor die invloed wat haar boek wêreldwyd het.

“Ek sou dit nooit in my wildste drome kon dink nie. Ek glo dat God ʼn doel het daarmee en dit is vir my ‘n reusevoorreg om op hierdie manier ʼn klein bydrae tot die uitbreiding van God se koninkryk te maak.”

  • Luister bo-aan die artikel na die volledige onderhoud met Hannelie Groenewald, skrywer van Terreur in Kaboel. Sy gesels met Maroela Media oor die helingsproses, haar verhouding met God en sy deel raad met Christene wat ook traumatiese gebeure moet verwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.