Tienerfiksie wat sprankel

Tieners wat lief is vir lees kan nou al kliphard begin skimp om die volgende boeke present te kry om die komende luilekker Desembervakansie te lees. Hierdie wonderlike vier boeke vir tieners word deur LAPA Uitgewers uitgegee en sal vir ure se leesvermaak sorg.

SSS-Omnibus 1

(Nerine Ahlers & Alet Steenkamp), 11+ jaar, 344 bladsye

Moderne tienerfiksie op sy heel beste! Drie boeke, Selfone, skelms en sjokolade, SMS’e, skurke en spinnekoppe en Sepiesterre, sokkies en skobbejakke, in een omnibus. Hierdie reeks is uiters gewild en die verkope beaam dit – van Selfone, skelms en sjokolade is al meer as 18 000 kopieë verkoop! Die vyfstuks, Lindie, Talita, Mia, Gina en Andrea, is saam in Bergrif Meisieskool se koshuis. Bo en behalwe die gewone tienderdinge soos romanse en modes en grimering uittoets, vang hulle ook graag koshuiskattekwaad aan. Dis lekker om jonk te wees en die vyfstuks beleef vele naelbyt avonture en het hope pret saam. Van katastrofiese haarstyle, skoolkampe en revues tot twee geheimsinnige mans wat agter Lindie en Talita aan is, ’n Franse sjef en die kans om dalk op TV te wees. Die SSS-boeke sal menige tiener ure lank vermaak. Die lekkerleesstories is vars en oorspronklik en die dialoog sprankel.

Uittreksel: “Op die boonste trap steek ek vas. Dik rookwolke bondel van onder af op. Ek sal nie hier kan afgaan nie! Ek swaai om. Dan onthou ek van my selfoon in die kamer en ek hardloop die trappe twee-twee op na die graadnegegang toe.”

Koop die boek by Graffiti Boeke vir R160-00

 

As mens geluk kon proe

(Zelda Bezuidenhout), 13+ jaar, 192 bladsye

Arnelia dink ’n opwindende persona vir haarself uit toe sy saam met haar ma vanaf Kaapstad na Potchefstroom verhuis. Niemand by haar nuwe skool hoef te weet dat sy eintlik ’n loser is nie. Maar dinge verloop nie volgens plan nie en sy slaan haar naam behoorlik met ’n plank toe sy op Entrepreneursdag met ’n volgelaaide skinkbord voor die hele skool neerslaan. Die herskryf van haar lewensdraaiboek het geflop en haar lewe het nou in ’n sit-kom verander. Daar is dan nie eens ’n snoepie by die nuwe skool om Vreetzilla se lae bloedsuiker ’n hupstoot te gee nie. Boonop is daar ’n paar katterige meisies wat daarop uit is om haar lewe onaangenaam te maak. Die enigste ligpunt in haar lewe is Dewald Fourie van Dewaldistan, een van die coolste plekke op Planeet Oukei, maar natuurlik sien hý háár nie eens raak nie. Wanneer Dewald se lewe onverwags omvergegooi word, gryp Arnelia en haar maats in. Hulle begin ’n mobiele snoepie by die skool.

Hierdie tienerverhaal is propvol humor en deernis wat die leser daaraan herinner dat geluk dikwels in die klein dingetjies te vinde is. Dis in gemaklike tienertaal geskryf sonder om enigsins prekerig voor te kom. Dit was ook die naaswenner in LAPA se Jeugromankompetisie in 2017.

Uittreksel: “Wat ek wél ontstellend goed kan onthou, is die wrede simfonie van minstens eenhonderd stemme – meisies én seuns – wat binne sekondes oorgeskakel het van gedempte giggels na volskaalse piepie-my-nat-skaterlag. Ek onthou ook die warm gloed wat soos kits-masels op my wange uitgeslaan het. En hoe my oksels begin jeuk het van pure verleentheid.”

Koop die boek by Graffiti Boeke vir R144-00

 

Reënboogrant Tieners, Omnibus 2

(Louise van Niekerk) 13+ jaar, 376 bladsye

Shani en haar ouer sussie Sunettte se tienerjare op Reënboogrant is allesbehalwe vervelig. Dit ontbreek beslis nie aan opwindende tienerpret, partytjies en kêrels nie. Duisende lesers het nou al die Reënboogrant Tieners-boeke verslind en aanklank gevind by die immergewilde reeks. Omnibus 2 bevat die volgende drie opwindende titels, naamlik Drome en dramas, Hartebreker en Anderkant die Reënboog. Die skrywer laat lesers die bladsye gretig omblaai om meer te lees oor die uitdagings van grootword wat Shani, Sunette en hulle vriende die hoof moet bied. Die karakters se lewens is allesbehalwe vervelig en met deelname aan ’n skoonheidskompetisie, ’n aantreklike hartebreker en rolle in ’n sepie is die aksie volop. Die skrywer ken die leefwêreld van hoërskoolkinders en daarom is haar stories so geloofwaardig.

Uittreksel: “Sy het in haar hele flippen lewe nog nie so baie goed gehad waaroor sy gelyk moet stres nie. Sy stres oor haar skoolwerk. Sy het al twéé toetse gepluk! Sy stres oor Sunette – maar sy wil liewer nie daaraan dink nie, want dan stres sy net al hoe meer.”

Koop die boek by Graffiti Boeke vir R164-00

 

Weg

(Nerine Ahlers & Alet Steenkamp), 13+ jaar, 152 bladsye

Hierdie naelbyt-spanningsverhaal was ook ’n finalis in LAPA se Jeugromankompetisie in 2017. Niekie se ouers werk vir ’n jaar oorsee as argitekte by ’n groot buitelandse firma en laat haar toe om alleen in haar eie woonstel te woon. Haar niggie, Amelie, ’n lugwaardin, bly darem langs haar. Niekie, ’n matrikulant en kunstenaar, verdwyn egter spoorloos ná ’n rusie met haar kêrel, Zack. Omdat Niekie al voorheen onverwags die pad gevat het om te gaan skilder saam met haar kunstenaarsoom, is die polisie nie dadelik agterdogtig oor haar verdwyning nie. Zack is dadelik bekommerd oor sy beeldskone meisie se veiligheid. Wat sou van haar geword het? Boonop het nóg ’n meisie verdwyn! Hoe lank tyd het hulle om Niekie op te spoor voordat sy dalk in ’n skeepsvraghouer Midde-Ooste toe gesmokkel word? Tieners sal hierdie spannende verhaal beslis nie maklik neersit nie.

Uittreksel: “Dit maak mens gek,” sê Zack vir Jana. “Om elke keer te hoop jy kry iets en dan is daar niks en niemand nie. Ons is nou al deur die hoeveelste gebou en ons het vir elke hawelose mens Niekie se foto gewys en daar is net mooi niks.”

Koop die boek by Graffiti Boeke vir R136-00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kop ·

Die SSS – boeke klink vir my na afkyk by die Maasdorp reeks van Stella Blakemore. Hoe heerlik het ons as kinders nie gelees aan Maasdorp, Saartjie, Trompie, Keurboslaan, Soekie en Jasper nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.