Tom Dreyer, die IT-boffin wat dig

Tom Dreyer (Foto: Verskaf)

Tom Dreyer, wat die Afrikaanse kategorie van Avbob se poësiekompetisie in 2019 gewen het, meen rekenaartegnologie en skryfkuns bied veel meer ooreenkomste as wat ʼn mens besef.

“Ek dink die landskap is besig om te verander, maar daar is steeds baie mense wat ʼn groot wanindruk van rekenaartegnologie het,” sê Dreyer.

“Dit beteken nie dat jy op Excel rondspeel of verskillende opsies in Word oorweeg nie. Wanneer jy op ʼn sekere vlak van programmering beweeg is dit die mees kreatiewe ding wat jy jouself kan indink.”

Dreyer vergelyk dit met die beplanning van ʼn roman waar karakters en die storielyn ook uitgepluis moet word.

“Dit is soos ʼn netwerk van verhoudings waar die skrywer moet uitwerk hoe al die punte bymekaar kom,” vertel hy. Boonop is die oplossings eindeloos.

Dreyer het sonder enige formele opleiding die rekenaarwêreld betree, danksy ʼn goeie dosis kennis en ervaring wat hy oor die jare op sy eie ingewin het.

Hy onthou dat die begin van sy loopbaan as programmeerder ʼn terloopse ontmoeting was wat gedurende die laat negentigs tydens die wêreldwye voorspoedgolf in die IT-bedryf plaasgevind het.

Dreyer het ʼn beurs ontvang om ingenieurswese te gaan studeer, maar gou besef dat dít nie vir hom is nie. Sy lewenspad het ʼn paar draaie geloop voordat hy vir ʼn BA-graad ingeskryf het. Hy het sy meestersgraad in kreatiewe skryfwerk onder leiding van Etienne van Heerden aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Sy roman Stinkafrikaners (2000) het voortgevloei uit die praktiese komponent van dié graad. Dit is later met die Eugène Marais-prys bekroon.

Ná sy MA-graad het Dreyer met ʼn skok besef dat hy nie werk het nie en het toe vir ʼn doktorsgraad ingeskryf. Dit is tydens die lukrake ontmoeting in Stellenbosch dat sy toekoms ʼn ander koers ingeslaan het.

Ek het een dag die eienaar van ʼn IT-onderneming in Stellenbosch raakgeloop,” vertel hy. “Hulle was besig om ʼn adventure game te skryf en hy het my toe gevra om die storie vir die speletjie te skryf.

Só het Dreyer se skryfwerk vir hom ʼn nuwe hoofstuk ontsluit wat jare later steeds brood en botter op die tafel sit.

Hy is ʼn vryskutjoernalis wat voorheen vir Beeld, DeKat en Insig geskryf het. Hy is ook ʼn kranige digter en skrywer van romans, rubrieke en kortverhale.

Hy het sy amptelike buiging as digter in 1997 gemaak toe van sy gedigte in Nuwe Stemme 1 opgeneem is. Dié bundel is onder leiding van Anastasia de Vries en George Weideman saamgestel en deur Tafelberg Uitgewers uitgegee.

Sy poësie het ook in die bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte verskyn wat deur Gerrit Kromrij saamgestel is.

Erdvarkfontein, Dreyer se debuutroman, het in 1998 verskyn en in 2007 het sy eerste kortverhaalbundel Polaroid die lig gesien.

Dreyer is ʼn taalliefhebber wat dit van kleins af geniet het om die drade van stories met mekaar te verbind.

“Dit was altyd vir my lekker as ons ʼn opstel moes skryf,” onthou hy. “Ek sou op my bed gaan lê en die hele opstel in my kop uitwerk.

“Afrikaans is my taal – dit voel altyd asof jy ʼn geleende jas aanhet as jy enige ander taal gebruik.” Maar hy skram nie weg daarvan om ook in Engels te skryf nie.

Om te kan skryf verg introspeksie en waagmoed om emosies uit te delf, vertel hy. Soms is dit makliker om afstand te doen, maar ander kere is dit ʼn pynlike proses om gebeure te herleef of herinneringe te verwoord.

“Die skryfproses wissel van heerlik tot absoluut miserabel. Party dae lees jy die gedigte of woorde en daar is geen verwondering nie,” erken hy.

Tom Dreyer, Etienne van Heerden en Jaco Botha (Foto: Verskaf)

Dreyer se gedig “Slaap jy solank, dan hou ek die fort”, een wat hom diep geraak het, is vir Jaco Botha wat saam met Dreyer die MA in kreatiewe skryf gedoen het, geskryf. Botha het in 2011 sy eie lewe geneem.

“Ek en Jaco het die laaste tyd voor sy dood min kontak gehad. Ek het begin ondersoek instel en deur gemeenskaplike vriende uitgevind dat hy nie op ʼn goeie plek was nie.

“Hy het die dag voor sy dood vir twee uur met my oor die foon gesels. Ek het na die tyd besef hy het waarskynlik gebel om totsiens te sê.”

Dreyer onthou dat hy die gedig op ʼn reënerige Sondag geskryf het, en dat hy erg emosioneel was. Hy het dit op Facebook gedeel waarna ʼn goeie vriend hom aangemoedig het om dit vir Avbob se poësiekompetisie in te skryf.

Hy was verheug oor dié toekenning, sowel as Avbob se bydrae tot die bevordering van die poësielandskap in Suid-Afrika.

“Avbob doen ongelooflike werk met die kompetisie,” sê Dreyer. “Ek is gretig om deel van die inisiatief te wees.”

Avbob se poësiekompetisie is die eerste keer in 2017 met groot sukses aangebied. Sowat 6 000 digters het vir die kompetisie geregistreer en net meer as 20 000 gedigte is ingeskryf. Dié kompetisie het in die tweede jaar gegroei tot bykans 29 000 gedigte wat deur 11 400 digters ingeskryf is.

  • Die wenners van Avbob se derde poësiekompetisie word 6 Augustus om 18:30 tydens ʼn regstreekse uitsending aangekondig. Klik hier as jy die geleentheid virtueel wil bywoon.
  • Avbob nooi aspirant- en gevestigde digters om nou hul gedigte vir die vierde poësiekompetisie in te skryf wat op 30 November 2020 sluit. Alle inskrywings kan aanlyn op Avbob se poësiewebwerf ingedien word.

Wil jy dalk nog meer oor Dreyer uitvind? Kyk hier na ʼn episode van I Wish I’d Said, ʼn televisiereeks van Avbob se digkunsprojek wat deur SABC2 vervaardig is:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.