Treurgrond – 20 jaar van plaasaanvalle in Suid-Afrika

Dr. Dirk Hermann en genl.maj. Chris van Zyl

In reaksie op die wrede moord op Thinus Uitenweerde (55) gaan die Solidariteit Beweging ʼn reuse internasionale veldtog teen plaasmoorde van stapel stuur wat deur AfriForum gelei sal word. Uitenweerde is vroeër die jaar op sy plaas Aliesrust buite Reitz met klippe doodgegooi. Sy hande en voete is vasgebind en hy is lewend in ʼn vlak graf gegooi voordat hy vermoor is.

Die internasionale veldtog word beplan rondom ʼn nuwe skokboek oor plaasmoorde, Treurgrond – 20 jaar van plaasaanvalle in Suid-Afrika. Die boek beskryf 1 363 moorde wat tydens 2 617 aanvalle op plase en klienhoewes plaasgevind het en het ʼn ouderdomsbeperking van 18.

AfriForum het reeds een duisend kopieë van die Engels weergawe van Treurgond bestel. Die boek gaan aan ambassades, internasionale mediahuise, die Verenigde Nasies en ander internasionale liggame oorhandig word. Volledige detail van die veldtog gaan eersdaags bekend gestel word.

“ʼn Land mag nie toelaat dat een van sy burgers lewend in ʼn vlak graf gesit word en met klippe doodgegooi word nie. Sulke wreedhede moet van die dakke af uitgeskreeu word. Ons mag nie daaroor stilbly nie. Oor die afgelope twintig jaar is letterlik duisende mense op Suid-Afrikaanse plase en kleinhoewes in soortgelyke voorvalle aangeval, aangerand, verkrag en vermoor,” het dr. Dirk Hermann, een van die skrywers van die boek, gesê.

Die boek is saamgestel deur dr. Dirk Hermann adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit en genl.maj. Chris van Zyl van TLU SA en word deur Kraal Uitgewers uitgegee.

Hermann se oom, Frik Hermann, is in Februarie vanjaar wreed op sy plaas vermoor. “Ek gaan nie toelaat dat Oom Frik bloot deel van statistiek word nie. Ek wil ʼn monument vir Oom Frik en ander wat so wreed op plase vermoor is, bou en ek doen dit deur ʼn boek. Ons het te lank stilgebly.”

“Ons wil ook deur die boek saam met die familie treur. Ons wil dink aan diegene wat so wreed vermoor is en vir dié wat agterbly sê: ons gee om. Ons wil aan die plaasgemeenskap sê: Suid-Afrika dink aan julle. Ons wil egter ook sê daar is te min wat saam treur. Daar is talle wat koud staan teenoor die trane. Deur die boek wil ons vir almal in Suid-Afrika vra: “treur saam!” verduidelik Hermann.

Treurgrond is ook ʼn spieël wat voor Suid-Afrika gehou word. Dit is die eerste keer wat Suid-Afrika gekonfronteer word met al die moorde in een spieël. Volgens Hermann is die boek ʼn spieël wat verskeie groepe aankla. “Dit kla die regering aan. Geen regering mag soveel moorde op ʼn deel van sy gemeenskap toelaat nie. Dit is ook ʼn spieël wat die media aankla. Die vrye pers het sy plig versaak indien die wrede moorde net aanhou en aanhou. Dit is ʼn spieël wat die gemeenskap aankla. Ons moet almal in die strate wees oor die moorde. ʼn Demokrasie mag dit mos nie toelaat nie. Dit is ʼn spieël wat die geraas van die stilte van die internasionale gemeenskap aankla.”

Hermann beklemtoon dat die boek skok, maar reken dat dit juis die doel van Treurgrond is. “Omdat ons nie die volle prent van plaasmoorde in Suid-Afrika het nie, is die debat daaroor nie volledig nie,” verduidelik hy.
“Ons vertrou dat die boek tot so ʼn mate ook druk op die nasionale en internasionale dialoog sal plaas dat die regering nie langer plaasmoorde sal kan ignoreer nie,” sê Hermann.

Hy meen dat die boek ook ʼn terapeutiese rol moet speel. “Suid-Afrika word gekonfronteer met een van sy grootse skandes en gaan gedwing word om dit te hanteer. Al is dit ook pynlik, vertrou ons dat die boek gaan help om Suid-Afrika ʼn veiliger plek vir ons boere en plaaswerkers te maak. Daar word nie net vergeet van dié wat dood is nie. Deur die boek kry hulle dood ook betekenis in ʼn groter stryd om die wrede moorde te stop,” sê hy. “Deur die AfriForum-veldtog gaan hulle wat dood is se stemme dwarsoor die wêreld gehoor word.”

Uitgewer: Kraal Uitgewers
LET WEL: Die boek is tans uit druk. Ons sal inligting op Maroela Media publiseer indien Kraal Uitgewers ʼn tweede oplaag laat druk.

Klik hier om meer te lees oor Treurgrond se bekendstelling

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.