Troula Goosen lees voor uit ‘Raaiselsee’

Troula Goosen (Foto: Monette Grobler)

As jong student het Troula Goosen, skrywer van die Raaisel-reeks, dikwels op Stanfordsbaai, naby Gansbaai in die Wes-Kaap, by haar ouers se strandhuis gaan vakansie hou. Die Strandveld-streek met sy grotte en ryk geskiedenis van skeepswrakke het juis vir Troula geïnspireer om dié reeks te skryf.

“Dit is vir my belangrik dat elke storie teen ’n prikkelende milieu afspeel: Op ’n interessante plek wat regtig bestaan en vandag nog besoek kan word,” sê sy.

Al drie Raaisel-stories speel in die negentiende eeu in die groter Kaap-omgewing af. In Raaiselklip bevind Gabriel hom in Di Schouwburg, of die Komediehuis soos wat die slawe daarna verwys het. Dit was die eerste klipteater in Europese styl in Suid-Afrika. Die gebou is intussen gerestoureer en in ʼn kerk omskep.

In Raaiselster beland Leopold in die tolhuis in Michellspas naby Ceres. Dit is die enigste van Ceres se historiese geboue wat behoue gebly het. Daniel, in Raaiselsee, bevind hom aan die Overbergse kus in die omgewing van Gansbaai, De Kelders en Stanford.

“Die verhale is avontuurryk en speel teen ʼn historiese agtergrond van togryers, diamante, rooftogte, slawehandel en skeepswrakke af,” verduidelik Troula.

Maroela Media het by Troula aangeklop om meer oor haar Raaisel-reeks te wete te kom.

Hoe het sy die karakters se name in die Raaisel-reeks gekies?

Die milieu bepaal meestal die karakters se name, vertel Troula. “Sodra ek besluit het teen watter milieu die storie gaan afspeel, stel die karakters hulle aan my bekend en soos ek skryf, leer ek hulle beter ken.”

Soms het die karakters se name wel ʼn dieper betekenis, soos in Raaiselklip, waar Regina se naam “mag” beteken.

As die boek in ʼn rolprent verwerk sou word, watter plaaslike akteurs sal daarin speel?

Natuurlik sal dit ideaal wees as sy gepaste kinderakteurs vir die rolle kan kry, maar as Troula jonger weergawes van ouer akteurs kan opspoor sal Willem Botha, Adrian Steyn en Christia Visser deel van die rolverdeling wees.

“Botha sal die rol van Daniel speel en Steyn as Malgas. Maar dalk is ek nie heeltemal objektief nie, omdat al twee manne voor my op Riversdal grootgeword het,” verklap Troula. Sy meen dat Visser goed in die rol van Caitlin pas.

Watter karakter wat sy tot dusver geskep het, is haar gunsteling, en hoekom?

Troula meen sy is “geheg aan die hele ou spul”. Maar as sy een moet uitsonder sal dit Daniel in Raaiselsee wees.

Daniel wil so graag sy lewe verander sodat sy oorlede pa tevrede sou wees. Maar dan begaan hy ’n oordeelsfout waarvoor hy homself bitterlik verwyt en wat hom al hoe dieper in die moeilikheid laat beland.

“Sonder dat Daniel dit besef tree hy egter die hele tyd dapper en met integriteit op. Na al die struikelblokke wat hy trotseer, verstaan hy teen die einde wie hy is en weet hy sy pa is trots op hom,” verduidelik Troula.

Wat was haar gunstelingboek as kind?

“Toe ek ’n kind was, het ons nie die verskeidenheid jeuglektuur gehad wat vandag beskikbaar is nie,” sê Troula. Sy onthou dat hulle met reekse soos Saartjie, Trompie en die Uile grootgeword het. Dan was daar ook ’n Mientjie-reeks deur Sita waaroor sy gaande was.

Troula het ook volwasse literatuur gelees en historiese fiksie verslind.

“’n Boek wat ek onthou, is Die Slot Ehrenstein deur S Swanepoel. Ek het dit op my pa se boekrak ontdek en dit sommer self gelees. Historiese fiksie het my na ander wêrelde meegevoer en daarom nooi ek vandag se jong lesers om saam met my op opwindende tydreise te gaan”, sê Troula.

Oor die boek

Wanneer Daniel ’n meisie in ’n rolstoel op Simonstad se kaai raaksien en besluit om haar hangertjie te steel, beland hy onverwags op ’n skip wat hom wegvoer na Skulpiesbaai. Maar wie is die ou vrou wat met die strandjutwolf langs die see verskyn? En waarom tree Caitlin so boosaardig op, terwyl sy vrees dat die Seevrou haar gaan kom haal?

Oor die skrywer

Goosen droom sedert haar kinderjare daarvan om te skryf. Na ʼn aantal besige jare as binneversierder op Riversdal het sy in 2008 ʼn aanlyn skryfkursus voltooi. Sy skryf sedertdien kortverhale en novelles vir opvoedkundige uitgewers. In 2016 is Spooksoene, haar eerste vollengte jeugverhaal, met ‘n ATKV-Woordveertjie bekroon. Goosen woon in Bettysbaai.

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing van Raaiselsee deur Troula Goosen. Die voorlesing word in samewerking met die skrywer en uitgewer moontlik gemaak. Neem kennis dat die voorlesing nie in ʼn klankateljee opgeneem is nie, maar deur die skrywer self.
  • Vir Raaiselster en Raaiselsee is daar gratis onderwysgidse in PDF-formaat op NB-Uitgewers se webwerf beskikbaar.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R170,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.