Tuiskoms: Waar ons vandaan kom en waar ons heen gaan

Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting, is as die eerste bekleër van Akademia se NP van Wyk Louw-ereleerstoel aangewys. (Foto: Verskaf)

Hiermee enkele uittreksels uit Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting, se jongste boek, Tuiskoms: Waar ons vandaan kom en waar ons heen gaan.

Boshoff beklee ook die Afrikaanse privaat hoëronderwysinstelling, Akademia, se NP van Wyk Louw-ereleerstoel vir kultuurkritiek en dien as ondervoorsitter van die FAK. Hy was voorheen president van die Orania Beweging, voorsitter van die Orania Verteenwoordigende Raad en woon sedert 1997 in Orania.

Tuiskoms word as ʼn merkwaardige reis van herbesinning beskryf wat ʼn helder hoop tot die toekoms verskaf.

Vooraf

… Só is dit met ons tuiskoms: nie sonder tweestryd in ons gemoed nie, en tog ondubbelsinnig in ons selfbevestiging: Ons sal nie langer van onsself vervreem word deur die kwaadwillige optrede van mense wat dink dat ons ondergang hulle sal bevoordeel nie. Soos in die verlede wil ons weer en steeds goeie verhoudings met die mense rondom ons handhaaf, maar as ons in die laaste drie dekades iets geleer het, is dit dat goeie verhoudings op die fondament van selfstandigheid gebou word, en dat groter selfstandigheid dan weer op goeie verhoudings gebou kan word. Maar dit begin by selfstandigheid. (bl. 9)

Aanloop – soos ‘n koringkorrel

… Só teenstrydig is dit om óns te wees. Ons is nie meer die Afrikaners wat ons was nie en ons weet nog nie duidelik wat ons gaan wees nie. Maar die beeld van die koringkorrel wat moet sterf om te kan lewe, troos ons tog aansienlik. Om die waarheid te sê, dit help ons om weer sin te maak, om weer iets te dóén. (bl. 13)

… Afrikaners het talle meer en minder volhoubare oorlewingstrategieë in werking gestel en daarmee ten minste ons wil om nie te ontbind nie ten toon gestel. Baie moet nog gebeur, maar vandag lyk dit ten minste weer moontlik.

Ons volk se natuurlike rykdom aan leierskap, ondernemingsgees, waagsaamheid en deursettingsvermoë het weer aan die bod gekom. Ons mense het nie in hulle eie ondergang berus nie en ons onderlinge lotsverbondenheid het van ons ‘n formidabele netwerk gemaak wat op talle maniere na mekaar omsien. Dalk moet mens dit nie in te veel besonderhede beskryf nie; dit mag Suid-Afrikaanse wetgewers net planne gee …

Die punt is dat die laaste Afrikaner, die een wat in die Suid-Afrikaanse staat beliggaam was, verbygegaan het, maar dat ‘n nuwe Afrikaner in sy plek gebore is, beliggaam in ‘n nuwe sin vir plek en ‘n nuwe sin vir self; dat die breuke in ons geskiedenis die voortgang na ons toekoms nie gestuit het nie. (bl. 27-28)

Waar die knoop lê: demografie

          … Afrikaners se getalle in die groter geheel het so gekrimp dat ons ons aanspraak op ons vaders se erwe nie kan afdwing nie, maar dit neem nie weg dat ons steeds ‘n selfstandige bestaan op ‘n volhoubare grondslag vir ons kinders wil nalaat nie. Dit is ‘n kwessie van demografie… maar wat presies is demografie? (bl. 32)

… Ons voorouers se vestigingsgeskiedenis, die verkryging van grondgebied en alles wat daarop gebou is, het in ʼn tradisionele en agrariese era plaasgevind en dit het hulle in staat gestel om groter gebiede en bedrywe te besit en te beheer as wat hulle self kon bewerk. Staatkundige reëlings het hulle in staat gestel om dit met behulp van vreemde arbeid te bewerk sonder dat dit onmiddellike politieke gevolge sou hê en die modernisering van wat mettertyd Suid-Afrika geword het, is deur meer moderne, wit ondernemerskap en meer tradisionele, swart arbeid gekenmerk. Ondernemerskap en arbeid het toenemend vervleg geraak en die interafhanklike verhouding tussen die wit en swart bevolkings, wat in ʼn tradisionele samelewing in die wit bevolking se guns was, het danksy interne en eksterne lewens- en wêreldbeskoulike verwikkelings wat eie aan moderne samelewings is, in die swart bevolking se guns geswaai. (bl. 41-42)

… Die vraag wat nou na vore kom, is egter hoe die demografiese werklikhede wat Afrikaners op minderheidspolitiek aangewese gemaak het, verstaan moet word as dit ons in die toekoms vir suksesvolle meerderheidspolitiek moet toerus. (bl. 48)

… Waar Afrikaners hulle tans so dikwels in die greep van ‘n krimpende spiraal vasgevang voel, gaan daar nuwe horisonne oop op politieke, ekonomiese, kulturele en ander terreine as mens positief op die volgende sleutelvraag kan antwoord – die groot demografiese vraag: Het jy genoeg mense vir jou planne en het jy genoeg planne vir jou mense? Die antwoord lê in ons elkeen apart én ons almal saam se hande. (bl. 53)

Kultuuroorlog – om anders te dink

… Ook onder ons het daar in dié dae dinge gebeur wat verdien om gedenk te word. Ten spyte daarvan – of dalk juis danksy die feit – dat ons destyds nie die toon aangegee het nie, het ons dikwels ʼn tweede gedagte geskenk aan wat ons onderneem het. En dit is aan dié tweede gedagteskenkery dat ons die frase ‘n ryk en vol bestaan te danke het. (bl. 55)

… Die punt is dat dit gevoel het soos om op die strand te staan as die water onder jou terugtrek en die sand skielik onder jou voete week word voordat dit weer kompakteer: jy kan net nie heeltemal seker wees waar jy staan nie. In ‘n tyd van leegte en gebrek aan inspirasie het nóg die heersende orde, nóg die opposisie daarteen, van links óf van regs, ons verbeelding aangegryp of behou. Ons antwoord daarop kon nie bloot nog ‘n politieke denkbeeld binne die heersende denkraamwerk wees nie, dit sou iets poëties, iets skeppend en esteties vereis as dit in aantreklikheid met die aankomende veranderings en die voorstaanders daarvan moes kompeteer. (bl. 63-64)

.… Ek sit en skryf aan hierdie artikel by ‘n deftigrige koffiewinkel in Pretoria waar ons dikwels bymekaar gekom het voordat ons Orania toe getrek het. Ek raak versonke in herinnerings aan die opwinding wat die Boheemse vooruitsigte op ‘n nuwe begin in Orania by ons gewek het. Ek sien ‘n meisie met perfekte kleurkodering tussen vingernaels en skoene wat croissants koop by die spesialisbakkery langsaan, en wat aan haar oggend in die winkels, haar trollie vol organiese voedsel en pragtige snyblomme dink as ‘n ryk en vol bestaan. Sy dra ‘n rokkie waarvan die prys gewis nie die hoeveelheid materiaal wat nodig was om dit te maak weerspieël het nie en ek besef dat my eie beeld van ‘n ryk en vol bestaan destyds nie heeltemal vreemd van hare was nie. Dit is ‘n leeftyd gelede. (bl. 85-86)

“Tuiskoms” is die jongste boek uit Carel Boshoff se pen. (Foto: Vryheidstigting/Facebook)

Wending – denkende leierskap

… Die temperamente van denkers en van leiers verskil. Waar ‘n sin vir die ewewig van argumente vir die denker ‘n deug is, kan dit vir die leier ‘n struikelblok wees; vir hom is duidelike skeidslyne en beslissings noodsaaklik en wie dit moeilik vind om keuses te maak en besluite te neem, sal dit moeilik vind om leiding te gee. Selfs waar dieselfde persoon soms denker, soms leier sou wees, soos Plato se filosoofkoning veronderstel is om te wees, sou die twee rolle nie soomloos in mekaar oorgaan nie. Twee teenstrydige houdings moet in gespanne balans gehou word om onder bepaalde omstandighede die toepaslike deugde te beoefen. Die denkerleier sal in sy samestelling iets vind wat skif eerder as meng. (bl. 97)

… As demokrasie dan meer na ʼn kultuur as na ʼn stelsel verwys, dan maak dit van denkende leierskap en van denkers se leierskap meer as net ʼn deug; dit maak daarvan ʼn noodsaaklikheid. Dit maak van denkers en leiers, in soverre die onderskeid op grond van ʼn oorwig van eienskappe na die een of die ander kant gemaak kan word, medestaanders in die publieke domein. Demokrasie vereis dat denkers en leiers nie met ʼn groot óf nie, maar met ʼn groot én verbind word. (bl. 104-105)

… Die groter prentjie, daardie ontwykende perspektief vir diegene wat die openbare domein sonder die nodige insig en talent betree, is in politieke verband nie die vrug van individuele genialiteit nie. Dit is die vrug van deelnemende diskoers waar argument, sentiment en simbool op sodanige wyse beliggaam word dat burgers oor ʼn breë front daarby aansluiting kan vind, al is almal nie ewe veel op die voorpunt nie. Die verantwoordelikheid vir denkende leierskap berus uiteindelik by beide denkers én leiers en by beide diegene wat leiding gee én diegene wat leiding ontvang – al is nie een van dié onderskeide waterdig nie. (bl.121-122)

Kultuurvrede – anders bedink

… Om die begrip gemeenskap dus uit die oogpunte van politiek, ekonomie, geloof en kultuur aan die orde te stel, vereis dat nie een van dié oogpunte aan die ander opgeoffer word nie. Dat elke gemeenskap onvermydelik ‘n ekonomiese kant het en in die lig daarvan ondersoek kan word, neem nie weg dat elke gemeenskap ook ‘n geloofsdimensie het wat sy teenwoordigheid ook op die ekonomiese en politieke terreine voelbaar maak nie. Dat die geloof op sy beurt ‘n allesomvattende aanspraak maak, neem eweneens nie weg dat die ekonomie en politiek ook hulle stempel op die gemeenskap – en selfs terug op die geloof self – afdruk nie. Geeneen van die perspektiewe kan alleen die volle omvang van die geheel aan die lig bring nie en elkeen verdien om gerespekteer te word vir wat dit bied. (bl.127-128)

… As die politieke aspek van ‘n gemeenskap dan om magsverhoudings gaan, is dit duidelik dat ons hele republikeinse tradisie ons voorberei om ‘n voorkeur te hê vir ‘n ewewigtige magsbalans, vir kritiese deelname, vir wederkerige erkenning, vir waardering van die verlede en vir idealisme met die oog op die toekoms. En só beskou is politiek niks om van afkerig te wees nie, inteendeel. Wat wel waar is, is dat die ontmagtigende individualisering van mense deur stelsels wat geen tuiste bied nie en daarom geen goeie politiek moontlik maak nie, afgewys en verplaas moet word deur ‘n tuistelike gemeenskap waarin ons ook polities kan gedy. Dit is in ons hande. (bl. 135-136)

… Selfstandigheid, veral ekonomiese selfstandigheid, is nie dieselfde as isolasie nie, maar dit is wel om jou omgang met ander op selfstandigheid te bou. Hoewel vryheid meestal met politieke erkenning en selfstandigheid verbind word, is die vermoë om jou eie besluite te neem en uit te voer tot ‘n groot mate ‘n vraag van ekonomie. Van tuiskoms is daar dus min sprake sonder die aanwending van hulpbronne op so ‘n wyse dat dit ‘n positiewe verhouding tussen insette en uitsette teweeg bring. (bl. 141-142)

… Die antwoord op die vraag na ons plek in die wêreld word op ‘n treffende manier deur die simbool van die kruis uitgebeeld. Die kruis is die eenvoudigste uitdrukking van ‘n vertikale verband, dié tussen God en mens, die geloofsverband, en van ‘n horisontale verband, dié tussen mens en mens, in besonder in die gemeenskap wat dit oproep. Ons elkeen apart, maar ook ons almal saam se plek is, ten spyte van kleiner verskille, op die kruispunt tussen ons verhouding met die ewige en ons verhouding met die tydelike; die kruispunt tussen ons verhouding met God en ons verhouding met mekaar. (bl. 144)

… Kultuur bied dus ‘n perspektief op die verskynsel “gemeenskap”, nie allesoorheersend nie, maar op ‘n manier tog oorkoepelend – en die koepel skep ‘n ruimte wat gevul moet word, waaronder die ware, die skone en die goeie hulle kan tuismaak en tereg kan kom, waaronder die deugde beoefen kan word en vir die welstand van komende geslagte voorsiening gemaak kan word. Want dit het alles te doen met hoe ons dink. En kultuur, soos geskiedenis, word gemaak – maar ook gevind. Dit was altyd alreeds daar, dit word altyd eers gevind en dan gemaak, en die maak is ‘n oormaak van wat ons gevind of ontvang het. Sonder die geskenk van die geskiedenis, sonder die tradisie, sou ons magteloos gewees het, want uit die niet kan ons nie skep nie, dit behoort tot die goddelike orde. (bl. 151-152)

Demografie – ontknoping

… Die twee denkers van buite Afrikanergeledere wat ingesien het wat soveel Afrikaners nog nie kan of wil insien nie, naamlik dat ons volk se oorlewing van ‘n nasionale tuiste gaan afhang, bring ons opnuut te staan voor die vraag waarmee Hoofstuk 2, wat oor ons demografiese krisis handel, afgesluit het. Die punt was dat demografie nie bloot ‘n kwessie van klein of groot getalle is nie, maar van mense binne hulle natuurlike verband en verspreiding soos dit mettertyd verander. Getalle, verspreiding/konsentrasie, verandering oor tyd – dit is die elemente wat gesamentlik demografie uitmaak. (bl.168-169)

… En soveel as wat klein eenhede, families en stamme by wyse van spreke, gekoester en beskerm moet word, kan ons die groot ordes nie sonder ons volksverband tegemoet gaan nie. Die Suid-Afrikaanse ryk sal ons mense onder die dekmantel van nasiebou inlyf, of die globale ryk van liberale individualisme sal ons in Engels tweede taal assimileer, of ons vyande sal ons uitmoor. Al drie die dinge vind reeds plaas, ons verloor elke dag mense daaraan. Ons kan ons nie daarin berus nie en die oplossing sal groot genoeg vir die probleem moet wees. Nie net genoeg mense vir ons planne nie, maar ook genoeg planne vir ons mense is nodig; gekoördineerde planne, iets soos ‘n nasionale strategie, want ons is te min om ons energie te verspil of teen mekaar te werk.

Die ontknoping van ons demografiese krisis lê in planmatige konsentrasie en samehangende optrede met die oog op beide ‘n nasionale tuiste vir die toekoms én die ander plekke waar ons mense hulle tans en in die toekoms gaan bevind. (bl. 179-180)

Afloop – die politiek van tuiskoms

… Dit sou ‘n gemeenplaas wees wat kwalik verdien om herhaal te word, dat mense – veral jongmense – nie net ‘n toekoms nie, maar ook ‘n sin vir die toekoms nodig het. Om ‘n toekoms te hê, beteken dalk nie veel meer as om te verwag dat die son môre gaan opkom nie, maar dit sê nog nie noodwendig meer as dat elke dag ook genoeg van sy eie kwaad bring nie. Die verskil tussen om bloot ‘n toekoms en ‘n sin vir die toekoms te hê, kan mens dalk beskryf as die verskil tussen om probleme te sien kom teenoor kans te sien vir die probleme wat kom. (bl. 184-185)

… Die etniese lotsverbondenheid met behulp waarvan Afrikaners nie net staatsmag bekom het nie, maar dit dadelik ook gebruik het om hulle mense se nood te verlig en hulle op te hef, is as volksliefde en -lojaliteit aangebied. (bl. 187)

… Enige poging om vandag vir die toekoms van ons volk in te tree, sal by ons vermoë om toepaslike denkbeelde te vorm, staan of val. Om dit politieke denkbeelde te noem, is dan nie dieselfde as om ons hele lewe tot ‘n eng definisie van politiek te reduseer nie, maar gee wel erkenning aan die feit dat die manier waarop ons aan verhoudings in die samelewing beslag gee, ‘n uitwerking het op die manier waarop ons die toekoms ingaan. (bl. 190)

… In ʼn sekere sin beoefen Afrikaners nog altyd minderheidspolitiek; ons is net die laaste drie of wat dekades baie meer bewus daarvan. (bl. 201)

… Die punt is dat die samehang waarmee ons van ons verstrooiing versamel moet word, in die verlede én in die toekoms in ons volkskap opgesluit lê, in die lotsverbondenheid van ʼn lewenskragtige nasionale kultuurgemeenskap wat opnuut aan sy eie bestaansvoorwaardes moet voldoen. Almal weet dat dit baie anders sal lyk as enigiets wat ons voorheen geken of beplan het, al weet almal nog nie dat ons daartoe verbind is nie – nie eers óns almal nie! (bl. 213)

… En wat meer is – ons weet dit uit ons geskiedenis en ons sien die tekens daarvan ook vandag – Afrikaners wat ervaar dat hulle ‘n goeie toekoms kan verwesenlik, is nie selfsugtig of suinig of net op hulle eiebelang afgestem nie. Die beweging na binne, die politiek van tuiskoms, lê alreeds die voorwaardes neer vir ‘n beweging na buite… maar dit is ‘n storie vir ‘n ander keer. (bl. 214)

***

Hierdie uittreksels uit die boek, Tuiskoms: Waar ons vandaan kom en waar ons heen gaan, is goedgunstig deur die Vryheidstigting verskaf. Voorafbestellings van die boek kan tot voor 1 April 2022 teen R150,00 per boek gedoen word. Die gewone prys vir die boek is daarna R220,00 per boek. Bestel by [email protected] of bel Yolandi by 079 514 4901.

Danie Goosen en Carel Boshoff bespreek die boek Tuiskoms. Kyk hier na die boekbespreking:

Vryheidstiging: Oop gesprek

Danie Goosen en Carel Boshoff oor TUISKOMS

Posted by Die Vryheidstigting on Thursday, March 24, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.