Ubuntu-verhaal seëvier by kinderboekpryse

(Foto: Maroela Media)

Jaco Jacobs is Donderdag as een van die wenners van die tweejaarlikse Exclusive Books IBBY SA-pryse aangewys.

Die pryse word onderskryf deur die Internasionale Raad op Boeke vir Jongmense (IBBY), ʼn niewinsgewende organisasie wat ʼn wêreldwye netwerk van mense verteenwoordig wat daarna streef om kinders en boeke bymekaar te bring.

Jacobs het die prys ontvang vir Ons is een (Pan Macmillan) wat sy vertaling is van We Are One (Pan Macmillan) deur Refiloe Moahloli.

Moahloli is ook vereer vir die gehalte van haar skryfwerk in We Are One. Dit is ʼn warm, vertroostende boek oor vriendskap en ubuntu wat ons ooreenkomste en verskille vier. Die boek is deur Zinelda McDonald geïllustreer en dit is ook in Zoeloe en Engels beskikbaar.

Jaco Jacobs (Foto: Verskaf)

Jacobs deel die vertaalprys met Ndabayakhe William Zulu wat Karen Theunissen se I Have Brown Skin and Curly Hair in Zoeloe vertaal het as Nginsundu Nginezinwele Ezisongene. Die boek neem kinders deur die unieke en dikwels onvertelde geskiedenis van Suid-Afrika. Dit demonstreer hoe ʼn gemengde-ras-erfenis tot hulle fisieke verskille kan bydra en tog kan hulle steeds deel wees van een familie.

Chantelle en Burgen Thorne ontvang die prys vir hulle illustrasies in Kantiga Finds the Perfect Name (Jacana Media) deur Mabel Mnensa.

Jacobs het al twee keer vantevore die IBBY-erelys gehaal, met sy boek Suurlemoen! en vir sy vertaling van Willemien en die geel kat.

Sy oeuvre is in 2019 deur IBBY vir die Hans Christian Andersen-toekenning benoem. Niki Daly, wat sommige van Jacobs se boeke geïllustreer het, is saam met Jacobs vir dié toekenning benoem. Daly is al voorheen vir dieselfde toekenning benoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MakersMark ·

Natuurlik sal dit wen. Vraag is of ubuntu toegepas word tussen die mense wat dit so in ander se kele wil afgedruk?

VaalDonkie ·

Ek like jou nogal wanneer jy nie oor die C-woord praat nie

Anonymouse ·

Klink vir my na ‘n pragtige boek. Ek sal hom aanskaf vir my kleinkinders. Ek wonder of daar ‘n woord is vir mense wat enige iets wat rasse harmonie bevorder, afkraak en gal braak daaroor. Ek is seker ek het al so ‘ woord gehoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.