Uitgewery hou ’n aand van bewaring

Sophia Kapp het Dinsdagaand by die Pierneef-teater in Villieria, Pretoria, met Wendy Maartens en Dibi Breytenbach oor hulle jongste boeke gesels. Foto: Verskaf.

Lapa Uitgewers het verlede week bewaarder gespeel en bestek van stories, stropers, renosters, leeus, olifante en Afrikaans opgeneem.

Die skrywer Sophia Kapp het Dinsdagaand by die Pierneef-teater in Villieria, Pretoria, met Wendy Maartens en Dibi Breytenbach oor hulle jongste boeke gesels.

Maartens se kinderboek, Sylvester, Ramkat van die Groot-Karoo, bevat 22 verhale wat gemik is op jong lesers. Die gevierde leeu, Sylvester, is die titelkarakter, maar die boek gaan ook oor die bewaar van volksverhale en stories wat té min vertel word. Die Suid-Afrikaanse soldaat, Job Maseko, die Kaapse banneling, Sjeg Yusuf, onbekende bewaringshelde soos Mark Shrimpton, die Sankunstenaar !nanni en die stoute Tyl Uilspieël, plus nog baie meer karakters se stories word in hierdie pragboek saamgevat.

Dibi Breytenbach se Dowe Gode en Blinde Gode handel oor renosterstropery. Sy het geweldig baie navorsing gedoen, maar verpak uiteindelik dié feite in naelbyt-lekkerleesstories.

Lente Roode, die hoof van die Hoedspruit-eenheid vir bedreigde spesies (HESC), was by die geleentheid om te praat oor haar rol in die bewaring van renosters, jagluiperds en ander bedreigde spesies, asook haar liefde vir Afrikaans.

José en Reinette Palmer is vereer omdat hulle leesreeks oor die pers olifantjie, Tippie, reeds meer as 445 000 eksemplare verkoop het. Tippie is feitlik elke week op die Nielsen-top-100, drie van hierdie boekies was op die kortlys van die 2019-Sefika-toekennings. Elke storie is uniek en gebaseer op klanke wat beginnerlesers moet leer ken.

Aangesien elke storie geskryf word om unieke klanke te bevat, kan die boeke nie vertaal word nie. Daarom het die Palmers ’n splinternuwe reeks geskryf vir Engelse lesers. Die Engelse reeks is formeel bekendgestel by Dinsdagaand se geleentheid.

Om Tippie se sukses te vier, het Lapa ’n skenking gedoen aan Hoedspruit se rehabilitasie-en-ontwikkelingsprogram vir olifante (HERD). Só word die uitgewery vir ’n jaar deel van ’n jong olifantjie se pleegsorgprogram.

Van Loveren het die aand so effens gladder laat verloop deur wyn uit die landgoed se bekende Rhino Run-reeks te skenk. Van elke bottel wyn wat verkoop word, gaan ’n deel van die opbrengs aan die bewaring van renosters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.