‘Uittogboek’: Reissak inspireer voorblad

Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. Met ʼn boel bagasie
rondom my gesprei, wat mettertyd gedy het en nie meer
in koffers pas nie. Dié berg ek in geruite China bags wat
tot barstens toe bult, bly ooppeul, by die nate verweer
en rafel. (Uit die gedig “Fremdkörper 6”)

Die voorbladontwerp van boeke is ʼn noukeurige proses waarin skrywers en uitgewers saam kopkrap oor die treffendste ontwerp.

Johan Myburg het aan Maroela Media vertel dat ʼn uitstalling waarin ʼn kunstenaar geruite reissakke gebruik het, die voorblad van sy jongste bundel, Uittogboek, geïnspireer het.

Uittogboek, Myburg se vierde digbundel, het in 2017 by Protea Boekhuis verskyn en is vanjaar met die Hertzogprys vir poësie bekroon.

“In 2008 het ek Dan Halter se werk met plastiek-geweefde sakke gesien as deel van die MTN New Contemporaries-uitstalling in die galery van die Universiteit van Johannesburg,” onthou Myburg.

Hy het gehou van die manier waarop Halter met dié werk kommentaar lewer op manifestasies van vreemdelingskap – ook ’n prominente tema in Uittogboek.

In sakke, gemaak vir migreer,
skuil my familie se geskiedenis, my afkoms – ingebed
in stoere geloof –  (Uit die gedig “Fremdkörper 6”)

Myburg het in daardie stadium aan ʼn manuskrip gewerk met die werkstitel “Fremdkörper”, ʼn Duitse term wat iets soos “vreemde liggame” beteken en dui op ʼn “indringer” soos ʼn roosdoring wat jou steek, afbreek en onder die vel agterbly.

“Ek het Halter se werk nie onmiddellik betrek by die manuskrip nie. Nietemin moes die indrukke van die uitstalling in my kop bly draal het.”

Die manuskrip wat hy in 2016 aan die uitgewer voorgelê het, het die einste Duitse term as titel gehad.

“Met die gelyknamige reeks van ses gedigte (en ander soos “Corpus alienum” by name en etlike ander verwysings in die bundel na “vreemd” of “vreemdelingskap”) het ek gemeen dit is ʼn titel wat die lading dek van die verse in die bundel,” verduidelik Myburg.

Hier sal ek bly staan, solank ek voortdurend kan bedink
hoe ánders om vreemdheid as die voorhande te formuleer. (Uit die gedig “Fremdkörper 6”)

Maar hy het vermoed dat dié Duitse titel problematies kan wees, omdat dit ʼn vreemde konsep in Afrikaans is. Ná terugvoer van ʼn keurder wat sy vermoede bevestig het, het Myburg besluit op Uittogboek.

Halter se kunswerke het weer by Myburg opgekom toe hy en die uitgewers op ʼn voorblad moes besluit.

Johan Myburg (Foto: Verskaf)

“Ek het met Halter gesels en hy het ingestem dat ek dié betrokke werk, Transnational Block, 2014, ʼn handgeweefde argivale druk – ʼn latere werk as dié wat ek oorspronklik in 2008 gesien het – kan gebruik.”

Uittogboek se voorblad is deur Hanli Deysel ontwerp.

Dié 63-jarige woordsmid het sy digdebuut in 1984 met Vlugskrif gemaak. Sy tweede bundel, Kontrafak, is in 1994 uitgegee waarna Kamermusiek in 2008 verskyn. Die Eugène Marais-prys is in 1995 aan hom vir Kontrafak toegeken.

Benewens sy digvernuf is Myburg ook ʼn gerekende kunskritikus, joernalis, hy tree dikwels op as kurator vir kunsuitstallings en gesels weekliks op RSG se Skrywers en boeke oor internasionale letterkunde en nuusgebeure.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.