Uittreksel 2: Broers in die stryd

Onskuldige bloed

Nog ‘n Hollander wat in die Kaapkolonie tereggestel is, was Piet de Ruyt, blykbaar die eerste man aan Boerekant wat tereggestel is vir die dra van ‘n Kakie-uniform. Lord Kitchener het vroeër bevele uitgevaardig dat enige Boere wat in ‘n Britse uniform gevang word, deur ‘n standregtelike krygsraad verhoor moes word, en indien hulle skuldig bevind is, moes hulle op die plek doodgeskiet word. Die verhaal rondom De Ruyt se gevangeneming is ietwat komies, maar nie minder tragies as dié van Veenstra nie.

De Ruyt, ʼn voormalige lid van Theron se verkennerskorps, het hom later in die Kaapkolonie by Generaal Ben Bouwer se kommando onder Generaal Smuts bevind. Hy was een van ʼn geslote groep van elf man wat deur Deneys Reitz die ‘Rijk Section’ gedoop is – ʼn ironiese verwysing na die vodde wat hulle as klere gedra het. Jan van Zijl, ook ʼn Hollander, was ook in dié groep, soos Reitz self. Die afdeling is deur Smuts gevra om as sy verkenners op te tree.

Laat in September 1901 is Smuts se kommando deur Britse troepe in die Bedford-distrik in die Oos-Kaap agtervolg, toe De Ruyt en ʼn paar ander man by ʼn herberg op die plaas Chancery Hall, suid van Adelaide, oornag het. Ná maande van ontbering op kommando was die versoeking van ʼn goeie voorraad sterk drank te groot, en die manne het hulself uiteraard geniet – De Ruyt blykbaar meer as die ander. ‘There was plenty of beer and spirits at the inn,’ het Reitz vertel, ‘and although few of the men had tasted liquor for a year or more, there was no drunkenness, but Piet de Ruyt, our Hollander companion, took too much, and when the commando moved away at dusk, he was left asleep unnoticed. Weeks later we learned that he had been discovered in a room, and as, like most of us, he was dressed in a British uniform, the poor fellow was executed, in all probability before his fuddled brain had time to take in what was happening.

ʼn Ander weergawe is dat nadat hy ter dood veroordeel is, De Ruyt die hasepad gekies het die bos in, maar aangesien die vuurpeloton reeds gereed was, het hulle hom platgeskiet. Hy is óf op die plaas óf in ʼn naamlose graf in die Adelaide-begraafplaas begrawe.

Vir meer inligting oor die boek, klik hier.
Om nog uittreksels uit dié boek te lees, klik hier en hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.