Uittreksel 2: Onvertelde stories van Afrikaans

Uittreksel uit Burger ‘48

Kurt Strauss is op 26 Mei 1935 in Berlyn gebore as Kurt Erwin Ittershagen, en het tot in Maart 1947 daar gewoon. Dié oud-onderwyser woon deesdae op Graaff-Reinet. Ons gesels een snerpende koue wintersdag in 2010 oor hoe hy dit ervaar het om deur onbekende mense in ‘n onbekende land aangeneem te word.
Met die aanhoor van sy lewensverhaal besef ek weer die ou cliché: die waarheid klink soms vreemder as fiksie.

Hy was een van die oudste weeskinders en onthou die oorlog baie goed. “Ons het regdeur die oorlog in Gerichtstrasse gewoon. Eers in ‘n woonstelgebou by nommer 83, totdat dit deur ‘n fosforbom getref is. Toe die bom die plek tref, was ons gelukkig in die kelder. Dit was heel goed toegerus, maar die hele gebou het gebewe en ons kon nie by die deur uitkom nie. Gelukkig was daar ‘n ondergrondse gang tot by ‘n ander straat.”

Hy onthou hoe hy daardie dag in November 1943 in die middel van die straat voor hul woonstelgebou gestaan het, en gesien het hoe sy pa die gebou inhardloop om iets te red. “Nou moet jy weet, waar fosfor loop, daar brand hy. My pa kon darem ‘n paar goedjies red. Alkant van die straat was alles in ligte laaie.”

Daardie dag het waarskynlik bygedra tot sy pa se dood in Maart 1944. “Hy is dood aan dubbele longontsteking, en die fosforwalms wat hy daardie dag ingeasem het, het seker maar sy longe geaffekteer.”

Kurt se ma is weer ‘n paar maande later getroud, die keer met ‘n soldaat van die SS. “Ek onthou die swart uniform, en dat ons baie lekker kos gekry het. Ek dink my ma het getrou dat ons kan kos kry. Voor dit het ons baie kere honger gely,” vertel hy. “Ons het eenkeer selfs die bure se hond geslag en geëet.”

Dít sal hy nooit vergeet nie. “Dit was my beste maatjie, Wolfgang Szangulis, se hond.” Ek probeer my indink hoe ‘n jong kind so iets moet verwerk, maar kan my nie eers verbeel nie.

Kurt was die enigste kind. Die dag voor die wapenstilstand is sy stiefpa Peters naby hul woonstel in Gerichtstrasse no. 79 deur Russiese soldate gevang en tereggestel.

Toe het ‘n ander soort ellende vir die jong seun begin. Dit was weer net hy en sy ma, en weer die verskriklike stryd om oorlewing. “My ma kon darem altyd ‘n bietjie melk kry om vir my te gee. In ruil daarvoor moes sy ‘n bok aan die anderkant van die straat gaan melk vir iemand anders.”

“Toe sy weer een maal oor die straat hardloop, het ‘n bom naby haar ontplof. Die skerwe het haar teen die kop getref.”

Sy maatjie Wolfgang se ma was ‘n verpleegster in ‘n bunker – “seker tien of vyftien verdiepings hoog, van soliede beton” – wat Hitler laat bou het.” Kurt onthou daar was vier lugafweerkanonne bo-op.

“Wolfgang se ma het hom gestuur om vir my te kom sê my ma is gewond en daar in die bunker. Ek was toe amper tien jaar oud. Dit was in Mei 1945.” Die klein seuntjie moes by sy ma uitkom en die bunker was omtrent twee kilometer ver. Daar was net een manier om daar te kom, en dit was om te hardloop. Rondom hom het die oorlog aangehou. Klein soos wat hy was, het hy al geweet om plat te val as hy net ‘n vliegtuig hoor. “As hy verby is, dan hardloop ek maar weer verder,” onthou hy.

“Toe ek daar kom, sien ek my ma in ‘n klein kamertjie op ‘n draagbaar lê. Ek het haar trouring en horlosie herken en sy het baie verbande om haar kop gehad. Sy was bewusteloos. Die verpleegster het vir my gesê my ma sal die volgende dag by die huis wees, maar sy is daardie nag oorlede.”

Sy stiefpa het ‘n dogter gehad by wie hy vir ‘n paar weke kon gaan woon. “Sy was seker so 19 of 20, en ook ‘n weeskind.” Maar hy het nie lekker gebly nie, en onthou dat hy selfs op sy verjaarsdag ‘n pak slae gekry het.

Na ‘n maand het die Rooikruis hom verwyder, en hy is deur ene mevrou Fischer aangeneem. “Dit was seker die heel moeilikste tyd in Berlyn. Sy het my uitgestuur na die Russe om klere vir kos te ruil. As ek nie ‘n goeie ruil gemaak het nie, het sy my met ‘n kats – dis ‘n stok met sewe riempies aan – geslaan.”

Later, toe die klere op was, was daar niks meer om te ruil vir kos nie. “Toe stuur sy my stasie toe om steenkool van die trokke te steel. En aartappels en koring.” Die klein seuntjie het gou geleer: waar sy kop kon deur, kon sy lyf deur. “Ek het deur die beestrokke se boonste klein venstertjies geklim en gesteel.” Hy het geen ander keuse gehad nie. As hy met leë hande by die huis kom, het hy weer pak gekry met die kats.

Hy is dikwels deur die spoorwegpolisie gevang. “Dan bly ek die nag in die polisiekantoor, en die volgende oggend loop ek maar weer. Sy het my nooit kom haal nie.”

Mev. Fischer het Kurt duidelik net vir haar eie gewin aangeneem, en later selfs na die boere buite Berlyn gestuur om te gaan kos steel. “Onthou nou, ek is ‘n stadsjapie. Eendag het ek ‘n klomp sampioene in die woud gepluk, en toe is hulle almal giftig. ‘n Ander keer kon ek niks kry om te steel nie, maar kom toe af op ‘n klomp boontjies. Lekker groot boontjies!” Toe hy by die huis kom, moes hy hoor dit was nie boontjies nie, maar peule van ‘n boom. En natuurlik het hy weer pak gekry. Geen wonder dat hy tot op die ouderdom van elf nog sy bed natgemaak het nie.

Ek probeer my indink hoe moeilik sy lewe was. “Die boere het my soms gevang en ‘n paar klappe gegee. Maar wat, of ek nou pak by die huis of by die boer gekry het, pak sou ek kry.” Die Russiese soldate het almal wat kos by hulle gehad het, by die stasie voorgelê en die kos gekonfiskeer. “So, ek moes maar leer om op ‘n bewegende trein te spring,” vertel hy doodluiters. Asof enige tienjarige seun sulke goed moes leer doen. “Soms moes ek selfs op die dak van die trein ry, of aan die kante vasklou.”

Soms het hy jong bome buite die stad afgekap en met die hout Berlyn toe aangesukkel.

Die ergste was dat die vrou alles wat hy huis toe gebring het na groot risiko en baie ontberings, op die swartmark vir sigarette geruil het. “Sy het soos ‘n skoorsteen gerook.”

Eendag is hy terug na sy ou blyplek om vir sy maatjie Wolfgang te gaan kuier. “Toe gee Wolfgang vir my ‘n poskaartjie wat sy ma vir my gehou het. Dit was aan my ma gerig, en was van my oom Frank, wat wou weet of ons darem veilig is. Ek onthou toe ons het eenkeer vir hulle gaan kuier in Schleesen toe ek seker so vier jaar oud was.”

Eendag kon klein Kurt nie meer die mishandeling uithou nie en het hy besluit om weg te loop. “Ek het nie meer die poskaart gehad nie, maar Schleesen onthou.” Met een Duitse mark by hom – “dit was omtrent ‘n sjieling werd” – is hy in Maart 1947 stasie toe. Daar het hy gevra waar gaan die trein heen.

“Die trein was op pad Schleeswig toe en vir my het dit baie soos Schleesen geklink. Ek besluit toe die een is so goed soos die ander, maar Schleeswig was in die heeltemal teenoorgestelde rigting. Ek gaan klim toe in ‘n steenkooltrok en krul myself in ‘n hoekie op tot die trein vertrek. Daarna het ek na ‘n leë beestrok oorgeklim. Ek het daardie nag amper verkluim.”

Die volgende dag het die trein iewers gestop en ‘n spoorwegwerker het hom gesien en gewaarsku dat die Russe die trein ‘n entjie verder gaan voorkeer. “Hulle het die grens dopgehou sodat niemand uit Oos-Duitsland kon vlug nie.”

Kurt het toe na die naaste plaashuis gestap en op pad baie Russe teëgekom. Die plaasboer het aangebied om hom te help, en hom weggesteek tussen kiste op sy perdekar en tot anderkant die grens geneem. “Hy het vir my mieliebrood vir die pad gegee, en vir my ‘n treinkaartjie tot in Hamburg gekoop. Dit was nog steeds in die teenoorgestelde rigting van waar ek wou wees, en ek het die hele pad op die trein se dak gesit.”

Die westelike deel van Duitsland, en spesifiek Hamburg, was baie meer georganiseerd. “Daar was al passasierstreine,” vertel hy. Die arme klein seuntjie het van huis tot huis gestap en gevra waar sy oom Frank is. “By ‘n hotel het ‘n vrou my besig gehou terwyl haar man die polisie bel, en toe ek weer sien, word ek na die Jügendwonheim (jeughostel) in Eutin geneem.”

Daar kon hy skoolgaan, maar dit was steeds moeilik om te oorleef. “Ons moes snags gaan hout steel, en daar was altyd te min kos vir almal. Ons het byvoorbeeld drie keer per week Reuben gekry. Dis beetsop, sonder enige vleis, en was niks lekker nie. Ek kon vir jare daarna nie beet eet nie. Die leier van die jeughostel, Paul Kant, het gesê ons moet steel sodat almal in die plek genoeg kos kan kry. Maar hy het ons ook verbied om van kleinboere of uit mense se tuine te steel. Ons mag net van groot boere gesteel het. Soms het ons voël-eiers geëet – dit was soms al half-uitgebroei, maar jy kry darem iets in jou maag.”

Paul en sy vrou Gertrude wou Kurt graag aanneem, maar het nie genoeg geld gehad nie. (Tog het die band tussen hulle die toets van die tyd deurstaan, en Gertrude het later jare twee maal vir Kurt en sy gesin in Suid-Afrika kom kuier.) Hulle wou egter vir die arme weeskind ‘n beter lewe verseker, en toe Paul hoor van die DKF se projek om weeskinders deur Afrikaners te laat aanneem, het hy met Onkel Schalk en dokter Vera geskakel.

Die klein seuntjie het smiddae na skool in mense se tuine gewerk vir ‘n sakgeldjie, en Kurt vertel trots dat hy later al ‘n 100 mark gespaar het. “Eendag na skool, toe ek in iemand se tuin werk, hou oom Schalk en dokter Vera en Paul daar stil in ‘n motor. Hulle vra toe of ek Suid-Afrika toe sal wil gaan. Ek het nie ‘n idee gehad waar dit is nie, maar sou enige iets doen net om beter kos te kry.”

Hy is saam met oom Schalk-hulle Lübeck toe. “Daar het ek vir die eerste keer ‘n stukkie lemoen geëet. Ons het een lemoen tussen seker twaalf van ons verdeel, en met skil en al geëet,” onthou hy.

Hulle is in Hanover ingeënt, en is toe met die trein na die hoek van Holland. Vandaar is hulle oor die Engelse kanaal Londen toe. Dit was ‘n aaklige reis oor die stukkie see. “Seker 99% van ons 83 kinders was seesiek. Ons het op die vloer gelê en dit was ‘n vreeslike opgooiery.”

Nes Ruth, onthou hy Londen veral oor die hotelhysbak. “Ons het op en af gery, op en af. Aanmekaar.” In Londen was daar ‘n ander lekkerte: almal het nuwe klere gekry.

Kurt onthou ook die seereis met die Winchester Castle. “Dit was ‘n groot skip – 20 012 ton – en eintlik ‘n troepeskip. Ons het in groot kajuite met dubbeldekker-beddens geslaap.”

Hy was een van ‘n paar dertienjariges op die skip. “Lothar Neethling, Monica de Wet en Horst Bremer was ook so oud soos ek. Terloops, Horst was die enigste Katoliek onder ons en sy oom was die bekende Karl Bremer.”

Dit was nou wel lekker om meer kos te kry, maar Kurt onthou dat die verandering in kos baie pitswere vir hom en ander kinders veroorsaak het. “Party was so groot soos gholfballe.”

Maar daar was genoeg pret. “Ons het kussinggevegte met die reddingsgordels gehou,” lag hy. “Horst het ‘n sokkerbal gehad waarmee ons in Hanover gespeel het. Ons het dit rondgeskop op die dek. ‘n Engelsman vat toe die bal af en skop dit oorboord.”

Hy onthou ook die liedjies wat hulle op die skip moes leer.

Toe hulle by Madeira aangedoen het, het een van die Engelse passasiers vir hom ‘n paar muntstukke gegee. “Daar was sulke bootjies wat tot by die skip gekom het om hoede te verkoop. Dan gooi die ou ‘n tou na die venster toe en jy gooi die geld af. Toe ek my geld afgooi, het hy my gevloek en gesê dis te min. Hy het uiteindelik darem sy hart versag en vir my ‘n hoed opgestuur.”

Op die skip moes die groepie oudste kinders help om die kleintjies besig te hou. “Marietjie Malan en haar boetie was in my groep. Toe ek Stellenbosch toe gegaan het, het ek een middag na kerk Morgenson toe gegaan waar die Malans gewoon het. ‘n Bediende het die deur oopgemaak. Ek was so 19 of 20, en Marietjie elf. Toe ek vra of ek met Marietjie mag praat, het dr. Malan geweier. Hulle het gesê sy is by die Sondagskool.” Kurt het besluit om na Sondagskool weer ‘n draai te gaan maak. “Ek het ‘n seun in die tuin gesien, en verduidelik wie ek is. Hy het egter ook geweier dat ek mag ingaan.”

‘n Ander keer het hy vir Marietjie en mevrou Malan by die fliek gesien. “Toe vra ek of ek met Marietjie mag praat, maar haar ma het weer geweier.” Kurt het haar wel jare later raakgeloop. “Blykbaar mag haar eie biologiese broer nie eens haar troue bygewoon het nie.”

Kurt is aangeneem deur Lukas Christoffel Strauss, later ‘n NP-senator vir die Gordonia-distrik, en sy vrou Malie. Hulle het naby Kakamas geboer, en vir Kurt gevra of hy ‘n Strauss wil word en of hy Ittershagen wou bly. “Toe word ek Ittershagen-Strauss. Ek wou nie graag my Duitse van prysgee nie, maar het gevoel hulle het die moeite gedoen om my aan te neem, en ek wou hulle nie in die gesig vat nie.” Die Strausse het ook ‘n dogter van hul eie gehad. “May is vyf jaar ouer as ek,” vertel Kurt.

Sy nuwe pa het die enigste slaghuis in Kakamas besit, en vir die tienerseun wat net ‘n paar weke tevore nog honger gely het, was dit natuurlik hemel op aarde. “Lekker kos was nommer een by my. Ek het drie keer ‘n dag vleis geëet,” onthou hy laggend. “Ek het geglo vleis is die heel beste groente!” Sagte vet gemeng met stroop op ‘n lekker warm sny brood is nog ‘n lekkerte wat hy goed onthou. “Ek kon sommer ‘n hele brood opeet!”

Die weer was vir hom ‘n “verskriklike aanpassing”, want Kakamas is een van die warmste plekke in die land. “Ek kon eers so twee-uur of drie-uur in die nag aan slaap raak, as die westewind eers opsteek.” Hy lag as hy vertel hoe baie koeldrank hy in die hitte gedrink het. “Die Oros-bottels het die hele motorhuis volgestaan!”

Hy kan nie kla oor sy aanneem-ouers nie. “Hulle was baie lief vir my en het my regtig bederf. Ek het ‘n baie sorgvrye kindertyd gehad van toe af, sonder enige bekommernisse. Ek het ook lekker maats gehad.” Horst is deur ‘n prokureur van Kakamas aangeneem, en die twee Duitsertjies en Horst se aangenome broer Jack Laubscher het die Suid-Afrikanertjies leer sokker speel.

Hy het nooit soos ‘n aangenome kind gevoel nie. “Vir hulle was ek soos ‘n eie kind. My eerste Kersgeskenk was ‘n .22-geweer, en ek was ‘n week op Kakamas toe ek my eerste eie fiets gekry het en my agterent daarmee afgeval het!”

“My ma veral was baie lief vir my. Jy weet mos hoe dit is – die seun en die ma, en die dogter en die pa. Hulle het vir my universiteitsopleiding ook betaal, en vir my my eerste motor gekoop toe ek begin onderwys gee het. Toe my pa oorlede is, is alles in die testament gelykop verdeel. Dit was vir my ‘n bewys dat ek waarlik hul eie kind was.”

Sy ouers het nooit gekla oor die aanpassing met ‘n byna-tiener wat hulle moes leer ken nie. “Ek het hulle van die begin af Mutti en Vati genoem.” Hy onthou die aankoms by die Duitse klub baie goed. “Daar regs in die hoek het ‘n klomp sakke lemoene gelê. Toe ek kantoor toe geroep is, het dokter Vera en ‘n man en vrou my ingewag. Vera sê toe dis jou nuwe ma en pa, en ek het hulle dadelik Mutti en Vati genoem. Maar dit was toe nie my pa nie, maar ‘n familielid van my ma, ds. Rooi Tobie Hanekom.”

Hulle het ‘n paar dae by die Hanekoms in die stad gebly, en Kurt onthou die uitstappie stad toe vir nuwe klere en skoene. “Ek het met stukkende skoene in Kaapstad aangekom. Ek sal nooit my eerste nuwe klere vergeet nie. Dit was ‘n grys kortbroek en ‘n wit hemp. En ek het nog ‘n klomp ander goed gekry: baadjies, skoene, alles. Ai, ek het toe so lekker baie klere gehad.”

Die Strauss-gesin het onverwags nog ‘n ander Duitser bygekry. “In 1952 het oom Jan Spies van Kakamas, ‘n huisvriend van my pa, geadverteer vir ‘n Duitse arbeider. Toe kom Johan Eggers vir hom werk. Ongelukkig vir hom is oom Jan intussen oorlede – die brief met dié nuus is waarskynlik op see by hom verby, want hy het niks daarvan geweet toe hy in Desember 1952 met die trein op Kakamas aankom nie. Tannie Spies het gesê sy kan hom nie meer werk gee nie. Ek moes hom by die stasie gaan ontmoet, want ek was die enigste een wat kon Duits praat. Die tannie het ingestem om hom vir ‘n maand werk te gee.”

Toe sy pa nog grond by Keimoes koop, het Kurt gevra of sy pa vir Johan kan werk gee. “Hy het dit toe gedoen, maar Johan het eers vir ‘n jaar by ‘n ander vriend van my pa gewerk om ondervinding met druiwe op te doen. My suster kom kuier toe vir die universiteitsvakansie en raak verlief op die Duitser. Toe sy klaarmaak op universiteit, het sy ‘n pos as musiekonderwyser op Keimoes gekry, orreliste geword en met Johan getrou. Johan het een van die grootste boere in die omgewing geword.”

In 1963 het Kurt verloof geraak, maar in die Junie-vakansie by sy ma gekla dat hy nie lus was vir die verlowing nie. “My ma stel toe voor ek moet Duitsland toe gaan. Ek kon dit nie bekostig nie, en het maar net drie jaar onderwyservaring gehad. Maar ek kry toe ‘n onderwyspos in Kiel in Schleeswig-Holstein. Daardie somervakansie kry ek toe ‘n saamry-geleentheid Berlyn toe. Ek wou eintlik vir mev. Fischer ‘n paar klappe gaan gee vir al die mishandeling,” vertel hy. “Ek wou regtig wraak neem.”

Hy was 29, en het haar by haar ou adres gaan opsoek. “Toe maak ‘n ou vrou die deur oop en ek sê ek soek vir mev. Fischer. Die vrou wil toe weet hoekom, en toe ek verduidelik, vertel sy my dat Frau Fischer na ek weggeloop het, nog ‘n kind aangeneem het. Dié is net so mishandel, en kon dit later nie langer verduur nie en het oor die balkon gespring en selfmoord gepleeg. Blykbaar het mev. Fischer net kinders aangeneem vir die welsynstoelaag van die staat.”

Hy kon darem uitvind dat mev. Fischer in Oos-Berlyn woon. Dit was destyds onder Russiese beheer, en Kurt moes deur die berugte Checkpoint Charlie gaan om haar te gaan soek. Hy het by die polisie haar adres gekry en haar in Mendelstraat 17 opgespoor.
“Sy was nou Frau Richter en so vriendelik dat sy die wind skoon uit my seile geneem het. ‘Ek het darem nie vir jou te veel geslaan nie,’ het sy nog so ewe gesê. Ek kon darem by haar ‘n foto van my ma en sekere familie-dokumentasie kry.”

Maar hy was nog steeds kwaad oor wat sy in sy kleintyd aan hom gedoen het, en het goed geweet dat alle pos aan Oos-Berlyners gelees word. “Terug in Suid-Afrika het ek vir haar ‘n anonieme brief geskryf waarin ek geskryf het dat sy binnekort vergoeding sou ontvang vir die dienste wat sy vir die regering van Suid-Afrika gelewer het,” vertel hy laggend. Hy weet egter nie of sy daaroor in ernstige moeilikheid gekom het nie.

Na die ruk in Duitsland het hy geweet: hy mis niks van Duitsland nie.

Hoekom het hy ‘n onderwyser geword? “In ons tyd was daar mos nie baie beroepsvoorligting nie. Ek het van kinders gehou en ek was goed in boekhou. En mal oor sport! Toe ek op Stellenbosch kom, het ek ingeskryf vir ‘n B.A. in liggaamlike opvoeding met Duits as my ander hoofvak. Maar ek het net een jaar in my lewe Duits gegee.” Hy lag lekker as hy vertel dat hy in Duitsland altyd daarvan gedroom het om ‘n bakker of ‘n slagter te word. “Net sodat ek genoeg kos kon kry.”

Kurt het goed gevaar in sy loopbaan, en na vyf onderwysposte in 1977 senior lektor geword in Organisasie en Metodiek van Liggaamlike Opvoeding by die Amanzimtoti Onderwyskollege (later die Adams College of Education). Hy het in 1996 afgetree.

Hy het nooit gesukkel met Afrikaans nie. “Ek het gedink ek het Afrikaans in drie weke geleer, maar my pa het later gesê dit was eintlik twee weke. Maar Engels! Ek het daarmee gesukkel en eintlik eers op Stellenbosch reggekom toe ek ‘n Engelse meisie gekry het.”

Terwyl hy nog in Amazimtoti gewoon het, het hy ‘n boek oor die Ittershagen-familie bestel. Hierdeur het hy kontak gemaak met Rainer Peterschinnig, wat genealogiese navorsing gedoen het. Kurt was gelukkiger as baie ander van die kinders. Hy het sy ouers se huweliksertifikaat, sy pa se doodsertifikaat en sy eie geboortesertifikaat gehad. Hy het dit aan Peterschinnig gepos, en kon deur hom uiteindelik meer oor sy biologiese familie te wete kom. “Toevallig was my pa se suster Peter se ouma. My pa-hulle was vyf broers en ‘n dogter, en my pa was die oudste. Ek het toe die adresse van my pa se broers Heinz en Willie opgespoor, en ook my niggie, Gerlinde Ittershagen-Kroboth.”

Hy was al drie keer Duitsland toe, maar dink nooit aan Duitsland as sy huis nie.

“Ek het destyds in 1964 my kontrak as uitruilonderwyser na net nege maande gekanselleer. Dit was eenvoudig te koud. As die wind nie van die Oossee af gekom het nie, het dit van die Noordsee afgekom,” sê hy droogweg.

Kurt is getroud met Corlea, wat hy op ‘n tennisbaan in die Kaap ontmoet het terwyl hy in Wynberg skoolgehou het. Hulle het drie seuns, wat hulle Afrikaans grootgemaak het, en ses kleinkinders.

Kurt het in alle opsigte kom Afrikaans word, en selfs rugby gespeel vir Maties. “Oubaas Markotter het my uit die twintigste span gehaal en na die vierde span geskuif binne weke nadat ek op Stellenbosch gekom het.” Hy het Afrikaans-Nederlands 1 op universiteit geslaag en selfs Afrikaans gegee vir standerd ses tot matriek by Wynberg Boys High.

En as hy sy lewe sou kon oorhê? “Ek sou weer Suid-Afrika toe gekom het.”

Klik hier om nog ‘n uittreksel te lees.
Klik hier om meer inligting oor die boek te bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae