Uittreksel: Alfabet van die voëls

’n Brose respyt, ’n wapenstilstand. Hy maak sy ma se bed met haar beste linne op. ’n Handgeweefde kombers, spierwit. Goed wat sy sedert haar troudag nog nooit gebruik het nie. Tot dusver slaap sy nog op die lakens waarop sy pa ’n paar jaar vantevore gesterf het.

Hy was haar hare. Elke halfminuut moet sy eers rus. Hy hou haar handspieël voor haar terwyl sy hare borsel en grimeer, vir die eerste keer in ’n week. Sy rus tussen elke beweging. Hy vee liggies met sy voorvinger oor haar bowang om die onderlaag in te skakeer. Sy dom vingers word slimmer.

Dan intensiveer dit, die skermutselinges. Hy probeer sy kosgeeaanslag inklee as ’n verlenging van die bedvervarsing. Hy haal die beste porselein uit, versilwerde eetgerei. Erfstukke in onbruik nie net deur sy ouers nie, maar ook húlle ouers. Hy sit ’n fyn geborduurde linnelap op ’n skinkbord. Hy doen sy bes met die kookwerk.

Sy wag haar folteraar in, al om die etensuur. ’n Mens voel die spanning in die lug wanneer die geure uit die kombuis tot in die slaapkamer swewe.

“Ek kan nie die kos verteer nie,” sê sy sag. “Dis vir my fisiek onmoontlik, jy weet tog.”

’n Slag of wat, wanneer hy haar voer, eet sy tog ’n mondjievol of twee. Dit gee hom ’n gaping, skep ’n presedent. Die stryd word meer verbete, die objek van die stryd al kleiner. Nou soms selfs net ’n korrel rys, ’n brood- krummel. ’n Suikerkristal.

’n Onewe stryd, weet hy. Maar hy versag nie. Hy toring bo die bed, die lig skuins agter hom. Sy lê in sy skaduwee. Haar eie skadu het reeds vertrek.

Ek sal jou ewenaar, besluit hy, wat jý eet, sal ék eet. Gram vir gram. Kriesel vir kriesel. Soms vra sy hom om musiek aan te skakel. Altyd dieselfde. Middeleeuse Germaanse kerkmusiek. Hy oorweeg dit om haar iets te laat inkry terwyl dit speel. Miskien is haar weerstand dan minder. Hy sien hoe haar gesig ontspan terwyl sy luister, weet hy sou haar onkant kon betrap met ’n lepelvol, selfs twee. Hy besluit daarteen. Hy kan nie haar laaste toevlug bedreig nie. Selfs in oorlog is daar grense.

Hy stap uit in die tuin, kyk op.

Daar is ’n net-net hoorbare ondertoon aan hierdie dae, soos in die musiek waarna sy ma luister, ’n onderliggende noot wat volgehou word en swymeling induseer. ’n Goddelike teenwoordigheid word hoorbaar gemaak, sê mense wat iets van sulke musiek weet. Hý dink dis die klank van asem wat deur die stembande geforseer word terwyl die liggaam verbrokkel. Die klank van ontroosbaarheid. Hulle is in ’n platboomskuit, hy en Hisashi, op ’n wye, bruin rivier.

’n Verrimpelde okkerneutkleur-vroutjie met ’n Viëtnamese strooihoed op roei hulle. Sy kekkel af en toe asof hulle haar verstaan. Andersins net stilte en water teen roeispane. Hulle is ʼn halfdag se reis weg van Hanoi, in die berge. Die rivier kronkel tussen lowerbegroeide rotsspitse in die mis. Palmbome, waterbuffels.

Die bestemming is die Parfuumpagode – die nege-en-veertigste tempel. Op die roete daarheen vaar hulle verby agt-en-veertig ander tempels. Op die walle tussen die biesies, op pale oor die water, tussen boomtoppe teen hellings. Eenvoudige tempeltjies van antieke hout, groteres in die Sjinese styl. Oues en nuwes. Een vir een gly hulle verby. Hy tel.

Dit is ’n Boeddhistiese feesdag. Die rivier is vol skuite met pelgrims oorlaai. Die roete bergop, na die grot digby die spits waarin die Parfuum- pagode geleë is, neem op ’n gewone dag dalk ʼn driekwartier. Nie vandag nie. Waar hulle vasmeer, drom duisende pelgrims onder stringe veelkleurige vlaggies saam.

Hulle beweeg saam met die skare. Ook hier reken almal Hisashi is Viëtnamees. Hy self trek aandag. Party pelgrims het nog nooit ʼn Westerling gesien nie. Hulle wys na hom en lag, hou hul hande voor hul monde, raak aan sy kortgeskeerde hare. Hulle dink hy is ʼn monnik, vermoed hy, of dalk ’n maer spierwit Boeddha, glyend in die modder. Hy reageer stroef en afwysend op die pelgrims se aandag. Hisashi is geduldig en gelate, hy giggel saam met die mense.

Dit word steiler, die paadjie, en nouer. Hy klou aan boomwortelsvas. Tussen die pelgrims is daar stokou, verkrimpte figure. Hulle bly skaars regop, word spitswaarts gesleur. Hisashi tel ’n kind op wat lyk of sy vergruis gaan word. Sy glimlag onmiddellik vir hom, streel oor sy gesig.

Die pad raak gladder. Die druk pers sy asem uit. Alles kom tot stilstand. Die lywe teen hom ruik na iets wat hy nie ken nie. Hier is ’n dreigende ramp van opeenhoping en vertrapping, dink hy. En tog, ’n onbekende soort geduld en verdraagsaamheid heers. Die wind speel deur die gebedsvlaggies bo die paadjie.

“Genoeg,” sê hy vir Hisashi, “kry jou later daar onder.” Hy glystrompel deur die skare, teen die stroom, tot aan die voet.

Die wêreld krimp. Sy roetes is beklemmend: van sy ma se slaapkamer na die kombuis na die tuin na sy eie slaapkamer. Af en toe na ’n winkel toe. Slegs die volgorde van die bestemmings wissel. Hy slaap in die kamer reg bo hare. Dis net haar stygende teugies warm asem wat hom bo hou, dink hy in die oomblik voor die slaap kom. Sy eie asem hou hy op. Soggens, wanneer hy by sy ma kom, val die winterson in oor haar wit lakens. Sy wil nie hê hy moet saans die gordyne toetrek nie. Sy wil die son sien vir so lank as wat dit skyn. Wanneer hy nie by haar is nie, dink hy aan haar as tuimelend, met
die trae, onnatuurlike bewegings van ’n ruimtevaarder wat wegdryf van sy skip. Maar dis nie hoe dit is nie. Sy lê net daar, doodstil, hande onder die ken, by die polse geknak soos muispootjies. Daar is ’n klokkie om te lui as sy hom nodig het, maar sy het dit nog nooit gebruik nie. Snags, déúr sy slaap, luister hy vir die getinkel, sou dit ooit kom.

Uit “Oorlog, bloeisels”, Alfabet van die voëls deur SJ Naudé

Vir meer inligting oor die boek, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Estelle Bester ·

Ek het hierdie – en ander – storie gelees in die bundel. die man is ‘n meester van woorde en beelde. Maar iewers is ‘n pyn oor kanker en ‘n kankersterfte wat hy probeer uitskryf. Gee intussen goeie stories. Ek probeer steeds lesers en weetgieriges bymekaar kry vir Thys Human se aanbieding oor die boek op 21 Julie by Universiteit Johannesburg. Dalk kry ons antwoorde.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.