Uittreksel: Bygelowe en waar hul vandaan kom

Dit is ongelukkig om ‘n hoed op ‘n bed te laat lê.

As jy ‘n beddeken of kwilt maak, moet jy dit klaarmaak anders gaan jy nooit trou nie.

Jy moet aan dieselfde kant van ‘n bed uitklim as waar jy ingeklim het, anders gaan die ongeluk jou tref. Klim ook aan die regterkant van die bed af (soos wat jy van die voetenent af na die bed kyk). Die linkerkant word met die duiwel verbind. Maar as jy daarvan vergeet, probeer dan om eerste jou regterkous en -skoen aan te trek.

‘n Bed wat noord-suid staan, bring ongeluk, maar volgens ‘n ander bygeloof slaap jy die beste as die bed in ‘n noord-suidrigting staan, met jou kop na die suide (as jy in die Noordelike Halfrond is) en na die noorde (as jy in die Suidelike Halfrond is).

As jy ‘n bed opmaak, moenie dat iets dit onderbreek nie, anders gaan jy ‘n onrustige nag hê.

As jy van ‘n skoon, wit bed droom, gaan jou bekomernisse verdwyn. As ‘n vrou droom dat sy ‘n bed opmaak, gaan daar binnekort ‘n nuwe beminde in haar lewe wees.

Kyk elke aand onder die bed voor jy gaan slaap – dit verjaag die duiwel wat daar wegkruip om jou siel in die nag te steel.

Moet nooit ‘n bed met die koppenent na die weste draai nie; dit is soos die dooies begrawe word en bring ongeluk.

Dit is ongelukkig om oor die onderste katelstyl of oor ‘n ander persoon op ‘n bed te klim.

As jy agteruit bed toe loop, sal jy aangename drome hê.

As jy bid nadat jy reeds in die bed is, gaan jou gebed reguit na die duiwel.

As jy dors bed toe gaan, sal jou gees begin dwaal en modderwater gaan drink.

As jy saans gelukkig is en laggend bed toe gaan, sal jy die volgende dag siek wees en huil.

As jy in die bed fluit of sing, sal jy huil voor die volgende aand.

Nuwe beddegoed moet eers gewas word voordat jy daarop slaap, anders sal jy nagmerries kry. Hierteenoor bring dit geluk as jy nuwe tafeldoeke en handdoeke gebruik voordat hulle gewas is.

Dit is ongelukkig om met ‘n verekombers te slaap waarop ‘n seshoekige patroon uitgewerk is. Dié patroon staan soms bekend as ‘Job se moeilikheid’.

Uittreksel uit Bygelowe en waar hul vandaan kom
Outeur: Dr. Anton F. Prinsloo
Uitgewer: Pharos
Prys: R355-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.