Uittreksel: Die aand toe die engele hul hande vol gehad het

Attie Gunter, Leon Pretorius en Quentin Denier by die Queenie Paine. Foto: Andrew Ingram/Sea Rescue

Uittreksel uit die boek: Op ʼn stormsee – Ware verhale van Suid-Afrikaanse seereddings
Deur Tony Weaver met Andrew Ingram
Uitgewer: Jonathan Ball Uitgewers

“Die aand toe die engele hul hande vol gehad het”

Terwyl ons van Mosselbaai na Witsand naby die mond van die Breederivier ry, draai Andrew na my en sê: “Die storie wat jy nou gaan hoor is die storie oor ʼn redding wat die ongelooflikste mengsel van onervarenheid, leeuemoed en goeie seemanskap was.”

Attie Gunter, Witsand se stasiebevelvoerder, is 32 toe ek hom ontmoet vir ʼn onderhoud, maar hy was net 27 toe hy deel was van een van die mees epiese seereddings in onlangse geskiedenis. Hy kom direk van sy plaas af om ons by Witsand se reddingsbasis te ontmoet, sy werkstewels vol modder.

“Ek onthou die aand nou beter as net ná die tyd, want ek was so getraumatiseerd destyds. Dit was 15 Junie 2011. Ongeveer 07:20 – 07:22 om akkuraat te wees – ons het die oproep van Stilbaai gekry; hul boot was in vir herstelwerk en ʼn seiljag was in die moeilikheid. Ons het met die skip-kus-radioverbindingsoperateurs van Kaapstad-radio gepraat. Hulle het gesê hulle is nie seker nie, maar dit klink asof die jag die Gulliver is, op pad van Port Owen aan die Weskus af na St. Francis-baai.

“Hulle is deur die skipper se vrou gekontak nadat sy bekommerd geword het omdat daar geen selfoonkontak ná middagete was nie, en hulle is oor ʼn onbekende EPIRB-sein [noodradiobakensein] omtrent 12 seemyl van Kaap Infanta af ingelig wat hulle self ook opgevang het.”

Die bemanning aan boord van die Gulliver was Greg West, 60, Franz Sprung, 76, en Shaun Kennedy, 34, almal van St. Francis-baai en Mike Morck, 64, van Knysna.

Toe Greg se vrou, Marcelle, nie selfoonkontak kan maak nie, het sy oproepe begin maak. Sy het ʼn NSRI-vrywilliger en vriend in Knysna gekontak en toe Kaapstad-radio. Sy het aangehou en volgehou die EPIRB-sein wat deur ʼn internasionale maritieme reddingsagentskap opgevang en aan Kaapstad-radio heruitgesend is, dié van die Gulliver was. Die seereddingskoördinasiesentrum (MRCC) in Kaapstad het die NSRI opgeroep, en die reddingsbasisse by Agulhas (stasie 30), Stilbaai (stasie 31) en Witsand (stasie 33) is op gereedheidsgrondslag geplaas.

Attie sê: “Nadat ons die koördinate ʼn lang tyd gevolg het – en teen daardie tyd was dit ver uit op die see, of so het dit voorgekom – het ons besef dat die koördinate omgeruil en verkeerd was. Toe ons dit weer uitwerk, het ons besef die jag is omtrent 15 seemyl van die basis af.

“Ons het teen 21:10 die 5.5 meter lange vasteromp-opblaasboot [RIB], Queenie Paine, met twee kragtige 60 pk.-enjins in die water gestoot.

“Die wind was relatief stil en het noordwes gewaai toe ek saam met Quentin Diener en die oorlede Leon Pretorius uitvaar en die baai was lieflik. Maar daar was ʼn volkome maansverduistering, dus was dit baie donker, pikswartdonker en daarby het die Breederivier pas oorstroom en het ons nie geweet waar die sandbanke oor die mond was nie. Ons het ʼn sandbank getref, toe oor die strook beweeg, een golf getref, en gedink dis al, geen probleem nie, dit gaan seepglad gaan.”

Die maan was bloedrooi.

Net voor die maansverduistering die nag totaal sou verdonker, het hulle hul eerste ligfakkel opgeskiet om hul weg deur die buitenste branderlyn te vind. Die ligfakkel het begin sak en hulle het die volgende afgeskiet. En nog een. En nog een. Op dié wyse, terwyl Attie sy kanse vat, was daar genoeg tyd om deur die branderlyn en 500 m op see uit te kom voor die donkerte hulle weer ingesluk het. Hulle was deur.

Die maansverduistering was op sy piek en die wolke het oorgetrek. Daar was amper geen sigbaarheid nie. Die wind was sterk, maar hanteerbaar. Die klein reddingsboot het teen ʼn goeie spoed voortgesnel na die laaste posisie van die EPIRB.

Die seiljag Gulliver (Foto: NSRI)

“Omtrent vyf myl weg het ons heelwat fosforessensie teengekom; dit het amper gelyk asof die jag met haar ligte aan onder die water vaar. En toe kom die wind in die laaste vyf myl aan en dit begin baie onstuimig raak. Op pad soontoe het ek ʼn lig gesien, maar dit was ʼn ster en die bemanning het vir my gelag. Maar dit het met ons al drie gebeur; dis hoe sleg die sigbaarheid was.

“Ons het ons basis gevra om die weer dop te hou en Kaapstad-radio het hulle laat weet daar is baie swaar, baie slegte weer op pad.

“Toe ons die beskutting van Kaap Infanta verlaat, was die duiwel los.

“Dit was asof iemand ʼn knoppie gedruk het, ʼn skakelaar aangeskakel het. Ná die aangename, egalige vyf meter hoë deining van voorheen, is ons deur ʼn stormsterkte wind getref en chaos het losgebars.”

Die golwe was reusagtig. Hulle het uit alle rigtings gebreek en die reddingsboot, wat met die wind van agter gevaar het, het in een brander na die ander vasgeslaan. Die sproei het van agter af verby hulle gewaai.

“Dit was waansinnig,” het Leon Pretorius kort ná die redding vir Andrew gesê. Hy was die radio-operateur tydens die oproep. “Ons het omtrent 35 km/h gevaar, dus moes die wind ten minste 60 km/h gewaai het.” Leon het Kaapstad-radio in die hande gekry en uitgevind dat die weer vinnig besig was om te versleg. Die deining het van vyf tot agt meter gegroei.

Attie het weer versnel en die bemanning het gesukkel om deur die sproei te sien. Hy het met die neus van die reddingsboot in die rigting van die nuutste ligging van die EPIRB, verskaf deur die MRCC, gedraai. Die raad wat aan die bemanning gegee is, was om die posisie te bereik, een ligfakkel af te skiet en, indien daar geen reaksie is nie, om te draai en terug te keer huis toe.

Dit was eenvoudig te gevaarlik vir die klein reddingsvaartuig om alleen daar te bly in daardie omstandighede.

Argieffoto (Foto: NSRI)

Teen dié tyd was Seeredding se operasionele bestuurder, Mark Hughes, in sy kantoor besig om die reddingsboot se spoor op sy rekenaar dop te hou. Dit het duidelik geword dat dit ʼn uiters gevaarlike sending was. Die Altec Netstar-opspoortoestel wat op die boot geïnstalleer is, was egter van onskatbare waarde; oral langs die kus het senior NSRI-bemanning hul gesamentlike asems ingehou terwyl die reddingsboot se “broodkrummel”-spoor na die baken se posisie beweeg.

Queenie Paine het die plek bereik waar hulle gehoop het om die Gulliver te vind. Die see is in ʼn maalstroom opgeklits en die bemanning moes skreeu om mekaar in die wind te hoor.

Daar was geen seiljag nie. Niks nie.

Leon het ʼn rooi noodfakkel geneem en die sneller getrek. Dit het 300 m bo hulle ontplof en ʼn onaardse rooi gloed oor die golwe met hul wit pieke gegooi. Toe word dit deur die wind weg geswiep en uitgedoof.

Attie het die sout uit sy oë gevee. Hy het gedink hy het ʼn lig in die verte gesien.

Miskien.

Toe sien die ander twee dit.

Hulle was nie seker hoe ver dit was nie, maar dit was die laaste kans.

Teen 22:33 het Leon die mikrofoon op die Queenie Paine se VHF-radio ingedruk: “Kaapstad-radio, Kaapstad-radio, Kaapstad-radio, dit is Redding 33, Redding 33, Redding 33. Ons het die seiljag in sig. Oor.”

Attie het die Queenie Paine tot by die onderstebo romp van die Gulliver gestuur en gesien al vier die bemanningslede is in die reddingsvlot wat aan die romp van die 40 vt. lange katamaran vasgemaak is.

“Is julle ouens oukei?” het hy geroep.

Hulle het die radioverbinding met die basis verloor en die kusbeheerders by Witsand – Attie se aanstaande vrou, Karen Eybers, en vrywilliger Rob Wilson – het gesien hoe die spoor van die reddingsboot vir 20 minute teen 2 km/h dryf, sonder dat hulle geweet het of die reddingsboot nou omgeslaan het en of hulle net lank neem om die oorlewendes aan boord te kry.

“Daar was vier bemanningslede in die jag en die skipper het vir my gesê hulle het voor die storm probeer uitvaar met hul enjin, maar die wind was te sterk en hulle het teen 13:30 van agter na voor omgeslaan, die agterstewe het oor die boeg getiep,” sê Attie. “Ons het later by hulle uitgevind die jongste bemanningslid, Shaun Kennedy, het eers onder die jag ingeswem om die EPIRB te aktiveer. Toe het hy weer ondertoe geswem om die reddingsvlot vry te laat.

“Toe waai die bleddie vlot weg. Shaun het agter dit aangeswem, dit reggekry om dit te gryp en dit veilig terug te bring.”

In daardie stadium, het hulle later aan Attie gesê, was hulle steeds hoopvol dat hulle gered sal word. “Toe word dit donker en hulle begin moed verloor, dit was klaarpraat. Maar Shaun Kennedy het besluit: ‘Boggher dit, ek gaan oorleef.’

“Toe ons langs hulle kom was dit amper 23:00 en was hulle al amper tien uur in die water. Die ouer oom [Franz Sprung] het ernstige hipotermie gehad; hy was so koud dat hy nie behoorlik kon swem nie en ons het baie gesukkel om hom aan boord van Queenie Paine te kry. Dit was ʼn baie moeilike oordrag, maar op die ou end het ons al vier van hulle ná omtrent 15 tot 20 minute aan boord gekry en was daar nou sewe van ons in die 5.5 meter lange reddingsboot. Ek het die skipper, Greg West, om verskoning gevra omdat ons in so ʼn klein boot gekom het, maar hy het gesê: “Ek aanvaar dit!” Tydens die oordrag het golwe egter oor die pontons gebreek en die swaarbelaaide reddingsboot was nou self in gevaar om om te slaan. Daar was geen tyd om vir die seiljagvaarders stormweer-uitrustings aan te trek nie. Leon het sy baadjie vir een man gegee en Attie het Quentin gekeer toe hy syne wou uittrek.

“Die wind was skrikwekkend. Ek dink nie ek sal dit ooit aan iemand kan verduidelik nie. Daar was water uit alle rigtings. Ons het maar vir hulle gesê om styf vas te hou, en ek het gesê:

“Ons sal ons bes doen om julle by die huis uit te kry.”

“Ek het versnel en probeer wegtrek – maar daar was niks nie. Niks. Die boot was vol water en ons het paniekerig geraak. Ná wat soos ʼn eeu gevoel het, het die enjins die romp uit die water gedruk, die dek het begin dreineer en ons het begin vorder.

“Toe, net toe ons die boot aan die gang het, voel dit of ʼn trein in ons vas jaag. Die water het reg in ons gesigte vasgeslaan soos naalde. Ek kon nie glo hoe vinnig die weer verander het nie; ons het geweet dit gaan ʼn stryd wees, maar tot op daardie oomblik het ek nooit gedink ons gaan dit dalk nie oorleef nie.

“Die golwe was groter as die boot. Ek het al die ligte afgeskakel sodat ek die GPS behoorlik kan sien. Ons het nie geweet of ons met die boeg of agterstewe van ʼn golf sou afkom nie, so skokkend was die kabbeling bo-op die deining. Ek het my kop drie of vier keer gestamp, my helm was gebreek. Quentin het na die boeg geskuif om ons ʼn bietjie stabiliteit te gee – dit was baie gevaarlik, maar ons het geen keuse gehad nie en ons het die seiljagvaarders so ver as moontlik vorentoe geskuif.”

Intussen het Leon daarin geslaag om die verbinding met Kaapstad-radio te herstel. Voor die verbinding weer verbreek is, het hy hul ligging verskaf en gesê hulle is besig om na die basis terug te sukkel.

Toe die boot oor ʼn golf stort, het Leon die radio laat val en Attie se hand is van die versnellerhefbome af gestamp.

“Ek het gedink: ‘Ag nee, ek het die versneller se hefbome gebreek,’” sê Attie, wat nie besef het dat dit net die radio was wat geval het nie.

“Ek het maar die rewolusies hoog probeer hou. ʼn Paar keer het ek gedink Quentin het sy rug gebreek omdat ons so heen en weer gestamp word. Ek kon nie eers ons spoed raai nie; ek moes net die rewolusies hoog hou.”

Leon (wat op 37 tragies aan ʼn hartaanval oorlede is in Desember 2014) het voortdurend met my gepraat: “As dit nie vir Leon was nie, het ek dit nie gemaak nie. Hy’t net aanhoudend gesê: ‘Gaan Attie, gaan Attie, gaan Attie,” en hy het die radio hanteer en ʼn radioverbinding probeer herstel en behou.

“Dit was ʼn baie ʼn erge nag. Ek het nie gedink ons gaan dit haal nie.”

Intussen het Leon berekeninge in sy kop oor die brandstof gemaak en besef hulle het nie genoeg om dit terug te maak nie: “Daar was geen manier nie.”

 

Dié uittreksel is deel van die boek, Op ʼn stormsee – Ware verhale van Suid-Afrikaanse seereddings, deur Tony Weaver met Andrew Ingram. Die boek is ʼn boeiende versameling ware verhale oor dapperheid en selfopoffering en bevat foto’s van dramatiese NSRI-reddings.
Uitgewer: Jonathan Ball Uitgewers

Prys: R240-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke of Takealot

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Stella ·

Hulle kan n fantastiese film maak van hierdie storie. Ek wil alles lees!

Cor ·

Wow wat n verhaal nou is ek so nuuskierig om te hoor wat was die einde. Seker goed want anders sou hy nie die storie kon vertel nie. Ek hoop ons sal spoedig die res van die verhaal kan lees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.