Uittreksel: Die kamer langsaan

Annemari Coetser

Hoofstuk 4

Dis Saterdagmiddag. Theresa en Elsa het in Brooklyn se Cinema Nouveau gaan fliek. So kunssinnig, die kind van haar, dink Susan. Partykeer op ʼn Sondagmiddag gaan sy kunsmuseum toe en sy boer behoorlik by die Pretoria Kunsvereniging se galery in Mackiestraat.

Sy is net soos Hannes was. Hannes. Haar mooi seun. Om aan hom te dink, kan haar ʼn week lank omellie. Sy moenie. Moenie onthou van die annerlikheid van hom nie. Net van die slim kind, talentvol, wat sulke mooi prentjies kon maak. Nie dink aan die donkerte wat daar in hom was net soos in sy pa nie. Nie twyfel of weer wonder of sy dalk verkerd was nie. Niks dink en onthou nie, want dan kom brandsteek die huil weer in haar bors.

Susan lê op haar bed met haar sykouse aan. Die deur is toegestoot sodat die bekoldes van oorkant die gang nie haar voete kan sien nie.

Dis verskriklik om so naby aan mekaar te leef.

Op Veels Geluk was daar ruimte. As jy op die koppie agter die huis staan, is daar ʼn mooi uitsig op die groen soom van die spruit. Dis die wilgerbome wat hulle self geplant het. Sy en Dirk het dikwels teen sonsondergang die koppie uitgeklim en met hulle rûe teen die warmgebakte kranse gaan sit. En onder daardie symste wilgerbome het sy en Dirk eendag… Sy onderdruk die gedagte dadelik. Dis soveel jare eer sy laas by ʼn man was; sy weet nie hoekom dink sy nog aan sulke dinge nie. Maar die liggaam, dié onthou.

Gelukkig is Theresa nou oud genoeg om haar nie met sulke bogtery op te hou nie. Daar is ʼn tyd in ʼn vrou se lewe wanneer dit ʼn doel dien, en wanneer die tyd verby is, kan die ligte maar net sowel afgesit en die deur toegetrek word.

Van die paar jongetjies wat by Theresa gekuier het, het Susan die minste van Gerhard gehou. Hy was doerie tyd agter Theresa aan soos… Nee, wag, hy was nie ʼn uitsondering nie. Algar is mos maar katools op daardie ouderdom. Die man was sag op die oog en nogal welvarend vir so ʼn jong man. Sy pa was dood en hy het goed geërf. Maar hy het ʼn trek om die oë gehad wat haar nie aangestaan het nie.

Hulle was alte danig met mekaar, die twee vryers. Aan die begin het sy niks gesê nie. Dit was Theresa se eerste liefde, en dit eers op vyf en twintig. Theresa se murf is maar dun en Susan wou die man nie openlik beswadder nie. Dis mos die sekuurste manier om die teenoorgestelde reg te kry. Sy sou die kat eers uit die boom kyk.

As Susan haar oë toemaak, is dit kompleet asof sy die kind van haar sien soos sy toe gelyk het. Haar hare nog kortgeknip. Die smal gesiggie net soos Dirk sʼn. Swaar ooglede wat perfekte driehoeke oor haar blou oë vorm. En die sagtheid; dié het sy ook nog. Haar kind is net so maer soos daardie modelle met die strykplanklywe wat op DStv paradeer.

Susan draai op haar sy en dan weer terug op haar rug. Haar heup pyn, al was die heupvervanging jare gelede. Sy is te maer ook, sy gril self vir haar stokkiesbene en -arms. Daar is nie veel vleis wat die lêery sagter kan maak nie. Wanneer Theresa terugkom, sal sy vra of sy haar ʼn bietjie met perdesalf sal insmeer, al weet sy die seer sit nie in haar spiere nie. Die slaap wil maar net nie kom nie. Alles is moeilik wanneer mens oud is. Amper honderd jaar oud is sy. ʼn Eeu! Sal sy dit maak? Waar is die dae toe sy nog sterk en seker was? Toe ʼn middagslapie nog ʼn kort, welkome indommeling was eers sy opgespring het om verder te gaan werk. Daar was immer iets om te doen.

Nou sit hulle spul met hulle oumensbene hier en vertel dieselfde stories oor en oor aan mekaar. Soms wil sy skree daarvan. Mense dink sy is hard en gevoelloos, maar sy en Theresa is na aan mekaar. Sy kon nog altyd die hartseer in haar kind se oë sien. Sy lyk nes Hannes.

Susan sit haar hand oor haar oë, want die kamer front noord en die lig is skerp. Sy het tog nie die krag om op te staan en die gordyne toe te trek nie.

Partykeer wonder sy: Was dit die regte ding wat sy vyf en dertig jaar gelede gedoen het? Om Theresa so by ʼn kruispad te bring? Die mooie kind wat nou so hartseerlik ronddwaal asof die wêreld tot ʼn einde gekom het? Natuurlik was dit die regte besluit! ʼn Ma weet wat die beste vir haar kind is. Gerhard sou nooit gedeug het nie. Theresa het reg gekies. En daarna het die kind tog berus, het sy nie?

Uitgewer: Lapa
Prys: R170-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae