Uittreksel: Die kaskenades van Jakkals en Wolf

 

Jakkals en Wolf en die warmklip

Jakkals moet teen hierdie tyd maar liewer uit Wolf se pad bly. As die twee mekaar sou raakloop, kan Jakkals dalk sleg daarvan afkom.

Wanneer Jakkals iets gevang het, gaan sit hy meestal op sy ou uitkykplek op ʼn krans, van waar hy ver kan sien. Op hierdie plek lê heelparty pootjies en vere van voëls wat hy hier sit en opvreet het.

Op ʼn dag sien hy van die krans af hoe Wolf ʼn haas vang, en kort daarna nog een. Hy sien ook hoe Wolf die twee hase in sy splinternuwe knapsak steek.

Jakkals kry dadelik weer ʼn lelike plan. Haastig pak hy in sy ou, stukkende knapsak ʼn paar klippe en bondels gras. Bo-op kom die vere en vlerke van patryse en tarentale. Waar daar stukkende plekke in die ou knapsak is, laat Jakkals die pootjies van patryse, hase en tarentale uitsteek. Tensy jy baie mooi kyk, lyk dit na ʼn groot knapsak vol voëls en wild. Soos hy half gevrees het, kom Wolf na hom toe aan. Maar Jakkals is reg vir hom. Vol selfvertroue swaai hy die ou knapsak oor sy skouer en stap Wolf tegemoet. Soos altyd wanneer hy ʼn bietjie bang is, groet hy al van ver af.

“Broer Wolf, jy sal nie glo wat ʼn geluk my getref het nie. Vanoggend het ek gemaai onder die patryse en tarentale. Om nie van die hase te praat nie. Hoe het jy gevaar?”

“Dit traak jou nie,” antwoord Wolf bot.

“Ag, broer Wolf,” sê Jakkals met sy soetste stem, “hoekom moet ons vyande wees? Ons was tog van jongs af dik vriende. Hoekom sou ons nie lewenslank vriende bly nie?”

So gaan Jakkals voort. Wanneer Wolf antwoord dat Jakkals al te dikwels skelmstreke op hom uitgehaal het, maak hy slim verskonings wat Wolf se kwaai bui geleidelik laat bedaar. Wolf het egter nie sy eed vergeet nie.

“Ek wil jou net een ding sê, Jakkals,” mompel hy skamerig. “Ek gaan jou nie weer help jag nie. Dit het ek my ma belowe.”

Jakkals probeer ʼn skelm glimlaggie wegsteek. “Ag, broer Wolf,” sê hy, “Jy hoef mos nie saam met my te gaan jag nie. Ek kom in elk geval deesdae so goed alleen reg.”

Met dié woorde klop Jakkals weer op sy vol knapsak om Wolf te laat dink dit is vol heerlike wild.

Skielik gryp Jakkals na sy bors en steun: “Ooo, eina toggie… kyk watter steek kry ek nou onder my bors.” Terwyl hy maak asof hy na sy asem hyg, kreun Jakkals soos iemand wat dodelik siek is. “Wag, broer Wolf, laat ek liewer huis toe loop. Ek voel ek gaan baie siek word.”

Met dié woorde staan hy op en probeer kastig sy knapsak optel. “O, liewe land, hoekom het die knapsak dan nou so swaar geword? Dis natuurlik oor ek so siek en so swak is. Ag, broer Wolf,” sê hy met nog ʼn kreun. “Vat tog asseblief my knapsak, dan dra ek joune. Net tot daar voor, dan ruil ons weer om.”

Wolf is miskien dom, maar hy het ʼn sagte hart. Hy kry Jakkals nou jammer, al het die ou skelm hom al so baie om die bos gelei en skade aangedoen.

Hy swaai Jakkals se ou knapsak oor sy skouer. “Genugtig, Jakkals,” sê hy, “dis vreeslik swaar van al die wild wat jy gevang het.”

Verder sê Wolf niks, want hy redeneer so: As Jakkals dalk met sy knapsak weghardloop, dan het hy nog altyd Jakkals sʼn, wat propvol wild is.

Nie lank nie of hulle kom by Jakkals se ou, bekende klipskeur. Woerts! Glip Jakkals soos ʼn stuk nat seep daarby in. En toe hy Jakkals se spottende kekkellag hoor, weet Wolf sommer dat die ou skelm hom al weer gekul het.

“Toemaar,” roep hy oor sy skouer terwyl hy aanstap, “ek het al jou wild hier, en jy het net die twee hase wat ek gevang het.”

Dit is ook die storie wat hy kort daarna grootpraterig by die huis vir sy gesin vertel. Maar toe sy vrou en sy kwaai ou ma die knapsak uitpak, kry hulle net pootjies en vlerkies. Daarna bondels gras en heel onder ʼn paar swaar klippe.

“Waar is my nuwe knapsak?” brul Wolf se kwaai ou ma en slaan hom met haar kierie. “Het jy dan nie ʼn eed gesweer om niks met Jakkals te doen te hê nie? En hoekom is jy so allemintig dom dat Jakkals jou alewig verkul? En dat ons dan droëbek moet sit?”

Wolf het Jakkals nog selde so gehaat soos op hierdie oomblik, en natuurlik weet Jakkals dit.

Tuis gekom, gaan sit Jakkals buite by die voordeur met sy elmboë op sy knieë en sy ken op sy twee vuiste. Hy dink diep na. Miskien is hy ook jammer dat hy Wolf altyd so sleg behandel. Wie weet? Maar dan dink hy sekerlik ook: Dis maar hoe dit is. Hy kan homself nie keer nie.

Sy vrou, wat van niks van al die dinge weet nie, kom vra: “Ag, my liewe ou hartjie, hoe lyk jy dan vanaand so treurig? Gewoonlik is jy dan so vrolik en opgewek.”

Met ʼn sug antwoord Jakkals: “Ja, hartjie. ʼn Vrou weet maar min van haar man se moeilikhede.”

“Nou maar wat is dit dan?” vra sy vrou.

“Dis die ding tussen my en Wolf,” antwoord hy ná ʼn rukkie. “Ek en hy het nou aan die einde van ons riem gekom – verder kan dit nie strek nie. Wolf sal nou niks meer van my verdra nie. Ek voel dit. Ek weet dit.”

“Ag, hartjie,” sê mevrou Jakkals. “Ek sou my nie oor so ʼn spektakel soos ou Wolf bekommer nie. Jy het hom nog altyd uitoorlê. Word jy dan nou op jou oudag vir hom bang?”

“Nie bang nie, vrou, dis iets anders,” antwoord Jakkals, maar hy sê niks verder oor die saak nie. Die gesprek met sy vrou het hom egter baie lelike dinge laat dink. Moet hy nie miskien maar vir goed met Wolf afreken nie?

Die volgende oggend stap hy soos gewoonlik veld-in. Soos die geluk dit wil hê, kry hy dit reg om ʼn vet lam uit Boer se trop te vang en dit na ʼn steil klipkrans te sleep voor die skaapwagter hom kan inhaal. Hier maak hy vuur en begin die skaap braai. Ná ʼn ruk gewaar hy Wolf onder in die kloof.

“Die ou het die braaivleis geruik en kom kyk wat dit is,” sê Jakkals en glimlag.

Baie vriendelik roep hy na Wolf: “Broer Wolf, ek voel sleg oor alles wat ek jou aangedoen het. Nou wil ek vir jou ʼn lekker stuk braaivleis gee.”

“Ek het ʼn eed gesweer om niks met Jakkals te doen te hê nie,” prewel Wolf by homself. Vir Jakkals sê hy: “Ek kan nie hierdie steil krans so vinnig uit nie.” Maar terwyl hy hierdie woorde sê, kry hy weer die reuk van gebraaide skaapvleis.

“Ek kan verstaan hoekom jy nie na my braaiplek wil kom nie, broer Wolf,” sê Jakkals met ʼn soet stem. “Jy wil niks met ʼn skobbejak soos ek te doen hê nie. Ek verstaan dit, en dis my verdiende loon dat jy my verwerp. Maar as jy nie hierheen wil kom nie, kan ek nog altyd vir jou ʼn lekker stuk vleis afgooi.”

Wolf sê niks, maar Jakkals kan sien dat hy vreeslik lus is vir ʼn lekker stuk gebraaide skaap. Met sy soetste stem sê hy weer: “Gee my net kans, dan soek ek vir jou ʼn lekker vet stuk uit.”

Nou haal Jakkals sy heel lelikste streek uit. Met ʼn tak krap hy ʼn ronde klip wat byna rooiwarm gebrand het onder die kole uit. Om die klip draai hy die skaap se netvet. “Broer Wolf,” skree hy, “ek het net die ding vir jou. Kom sit nou reg. Maak jou bek oop dat ek dit kan ingooi.”

Wolf kan die versoeking nie weerstaan nie. Hy gaan sit en rek sy bek wawyd oop.

“Sit nader,” skree Jakkals ondertoe.

Wolf sit nader.

“Sit bietjie meer links,” skree Jakkals.

Wolf doen dit.

“Sit nou ʼn bietjie agtertoe. Ja dis reg.”

ʼn Oomblik later skree hy: “Sit bietjie meer regs. A, dis goed so.”

Met dié woorde gooi hy die warm klip sekuur in Wolf se keelgat af.

ʼn Skilpad wat daar naby was, het later vertel dat jy ʼn sisgeluid kon hoor. Terwyl Jakkals lekker bo-oop die krans aan die braaivleis sit en smul, lê Wolf onder die krans en krepeer van die pyn.

“Hy stuiptrek al,” praat Jakkals met homself. “En daar begin hy nou skop. Hy moet naby die einde wees.”

Lank nadat Jakkals huis toe is, lê Wolf nog daar. Dit is donker voor hy genoeg krag het om sukkel-sukkel huis toe te steier.

Storie en sketse oorspronklik gepubliseer in Die kaskenades van Jakkals en Wolf deur Leon Rousseau. Uitgewers: Lapa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.