Uittreksel: Een stad, drie rooikoppe, sewe dae

ʼn Dowwe slag tref die kar, so hard dat die sleutels skoon uit my hand ruk. Wat de…?

Nog ʼn slag. Hard en sag terselfdertyd, die geluid te gedemp vir die geweld van die impak. Pffutt.

En toe sien ek hom: ʼn groot man met reusebakore, so paar treë van die kar af. Wat met ʼn vuurwapen in sy hand na ons toe mik, en toe koel en kalm die derde skoot skiet.

Pffutt.

Ek weet nie wat toe gebeur het nie.

Mense sê dit altyd in die flieks, en dan dink jy hulle praat nonsens. Maar ek kan regtig nie vir jou sê presies hoe die volgende paar minute verloop het nie. Ek onthou dat die kar geruk het, weer, en toe weer. Ek het glas hoor spat en iemand het geskree. Hoog en histeries en aanhoudend. Op ʼn manier moes ek die sleutels in die hande gekry het, want toe ek weer sien, was ek besig om weg te jaag. Daar was swart rook soos die kar se wiele gespin het. Alles was baie stil, behalwe vir die bande wat skreeu, en die vrou wat gil, en daai dowwe slae. Die reuk van rubber was baie sterk. Rubber en nog iets anders.

Pffutt. Pffutt. Pffutt.

Ek dink ek was miskien die vrou wat so geskree het.

Instink is ʼn snaakse ding. Want toe ek weer sien, is ek alreeds op De Waal Drive, my gedagtes gefokus op net een ding. Ek moet huis toe. Ek wil lewe. Asseblief tog, ek wil lewe.

Ek kyk net voor my. Ek dink nie. Ek trap net daai petrol so hard as ek kan. Dit is baie belangrik dat ek nou net op die pad voor my fokus. Ek dink aan niks anders nie. Ek ry net.

Dis soos ʼn droom. Is dit ʼn droom?

Ek ry Heleen se kar teen 120 kilometer per uur om die draaie en ek sukkel om te sien, want daar’s trane in my oë. Dit neem my ʼn rukkie om te besef dis omdat die wind so in my geisg waai, want meeste van die kar se vensters is uitgeskiet. Of miskien is dit omdat ek so huil. Ek ry bietjie stadiger; probeer die geluide, wat ek nou seker is uit my eie keel kom, bedwing. Ek probeer asemhaal. Ek wil lewe.

Dis eers toe ek die gerusstellende, konkrete vieslikheid van Gardens-sentrum voor my sien dat ʼn mate van helderheid terugkeer.

Ek is lewendig. Ek het oorleef.

By die robot kyk ek af na my lyf, net om seker te maak. Daar is ʼn groot rooi kol op my wit T-hemp. Vir ʼn oomblik kan ek net daarna staar. Ek voel geen pyn nie. My vingers voel-voel aan my maag. Dit is nie seer nie. Is iets seer? Ek voel nie pyn nie.

En toe weet ek.

Daar is bloed teen die dak, bloed teen die dashboard, bloed oor al die sitplekke, bloed oor my linkerarm. Die bloed kom uit ʼn reusegat in Kaptein Coenie se kop. Daar is so baie bloed op sy gesig dat ek glad nie meer sy snor kan sien nie. Een dooie oog staar verwytend na my.

Vir ʼn oomblik dink ek dat ek gaan flou word, want ek sien sulke witterige kolletjies voor my oë. Maar dan onthou ek ek moet asemhaal. Ek is nog nie by my huis nie. Ek is nog nie veilig nie.

ʼn Stukkie papier waai in die kar rond, klou aan my bebloede arm vas. Dis ʼn honderdrandnoot. Ek draai om, sien daar’s nog honderde van hulle. Blokkies geld, note, duisende en duisende rande, wat uit die sportsak gewaai het en nou vrolik rondwapper op die agtersitplek van die kar.

Ek sit my voet op die pedaal.

Ek jaag oor die rooi lig.

Uitgewer: Lapa
Prys: R180-00*
*Prys onderhewig aan verandering.
Klik hier om meer inligting oor die boek te bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae