Uittreksel: Hiervandaan

Dana Snyman

Hoofstuk 3

Die Lord Milner Hotel lyk van ver af soos ‘n passasierskip wat Matjiesfontein, aan die N1 tussen Touwsrivier en Laingsburg, vir die aand aangedoen het.

‘n Kruier in hoteluniform kom help my op die donker parkeerterrein voor die hotel goed uit die bakkie haal. Dit is inderdaad môre AllPay-dag op Laingsburg, bevestig hy. Toe ek hom vra hoe hy dit weet, antwoord hy byna verontwaardig: “Hulle kom mos elke maand verby, Meneer.”

In die kamer is ʼn koperkatel, en op die bed lê twee suiglekkers, ʼn rooie en ʼn pienke. Eers haal ek die dag se opgegaarde goed uit my broek se sakke en sit dit op die spieëltafel neer: kleingeld, kontantstrokies, die omhulsel van ʼn Snacker-sjokolade. Om te reis, nog meer as wanneer ek tuis is, is vir my ʼn verbete stryd teen wanorde, in my kop en selfs in my broeksakke en bagasie.

In my hempsak is ook ʼn servet wat ek in Parker se restaurant op Touwsrivier gevat het. Daarop het ek geskryf: No gathering. No sitting. Dit is wat op ʼn winkelvenster in die dorp gestaan het.

Ek gooi die servet saam met die strokies in een van oorlede Ma se ou Tupperware-bakke – sy het haar naam met pienk naellak daarop geverf – wat saam met my ry. Daarna skakel ek my skootrekenaar aan en kyk na statistieke oor staatstoelae op die internet, terwyl die geruis van motors en vragmotors se bande buite op die N1 klink soos die see op ʼn stormagtige aand.

In die hotel se winkel is ʼn rak vol tweedehandse Afrikaanse boeke: Etienne Leroux, Abraham H. De Vries, Opperman, Krog, Toeks Blignault, Kannemeyer. Hier is ook een wat ek al vergeet het: F.A. Venter se Werfjoernaal.

In Januarie 1960 het ek, my vrou, Herman en Elizabeth met ʼn tweedehandse groen Chevy van Johannesburg van ʼn plaas getrek op die grens tussen Kenhardt en Carnarvon. Ek het dit op skool laas gelees. By ons was Patch, ʼn baster-patryshond, Pootjies, ʼn baster-ek-weet-nie-wat-nie, en Vaaljan, ʼn rasegte Siamees.

Op Pa se rak op Ventersdorp, verbeel ek my, staan ʼn ou uitgawe van die boek, maar ek koop dit in elk geval. Dit is een wat ek weer op my rak wil hê, want dit beskryf ʼn plattelandse leefwyse wat ek goed ken.

Die Laird’s Arms Pub is naby die winkel. Ek stap soontoe. By die toonbank sit net twee ouens; een dra ʼn Ferrari-baadjie, wat hy moontlik by ʼn China Shop kon gekoop het, want die naat onder die arm is ʼn ent los. Die ander een drink iets wat na ʼn Bloody Mary lyk.

Die hotel is in 1899 gebou en die kroeg is ʼn regte, ou Britse kroeg, met ʼn toonbank van donker hout en ʼn plankvloer en ʼn klavier. Ek hys myself tot op een van die stoeltjies by die toonbank en maak die Venter-boek oop: Na twee-en-twintig jaar in die stede – Johannesburg, Kaapstad, Pretoria, Windhoek – wou ons boere word en vry wees… Ek sukkel om te lees. Die kêrel in die Ferrari-baadjie is besig om vir die ou wat die Bloody Mary te drink, te vertel hoe hy ʼn vrou, ene Sêra, en haar hond ʼn geleentheid in sy motor Worcester toe geneem het. Die hond was glo siek en hierdie Sêra wou hom na ʼn veearts neem. Op Worcester vrek die hond toe in die motor.

“Ek sê vir Sêra: ‘Kom ons gooi die hond weg, man.’” Die Ferrari-baadjie se naat grynslag nog wyer terwyl die ou met sy arms beduie. “Sêra sê: ‘Is jy mal? Hierdie hond gaan saam met my terug huis toe. Ek begrawe hom in my eie jaart.’ Ek sê vir haar: ‘Hei man, ek wil nog eers shopping doen.’ Sy sê: ‘Gaan doen jou shopping, ek wag hier by my hond in die kar.’ Toe ons die middag hier kom, toe stink daai hond lat die rook trek, my bra.”

Langsaan, by die eetsaal, lui ʼn klokkie. Etenstyd.

Voordat ek gaan eet, bel ek eers vir Pa. Hy gaan lê die laaste ruk vroeg saans en ek weet hy wonder of ek ʼn slaapplek vir die nag het.

Hy antwoord byna dadelik: “Ek wou ook gebel het, Seun. Het jy ook die nuus gehoor? Hulle het die bank op Pofadder beroof.” Die vermoeidheid in Pa se stem laat dit klink asof dit iets is wat hom persoonlik getref het. “Kan jy dit glo, hè? Hulle roof nou al tot op Pofadder. Dis omdat die polisie se hande afgekap is. Hulle maak net wat hulle wil, hierdie jong tsotsi’s…”

Hulle, hulle, hulle. Pa met sy alewige “hulle”.

“Jy praat van die land wat vreemd geword het, Seun. Kom ek sê jou, ek sien nie meer hoop vir ons nie. Ons is besig om die pad van die res van Afrika te stap. Ons is besig om ʼn tweede Zimbabwe te word…”

Ek luister stil na hom, sê later nag en lui af. Ekself sukkel om dit te glo: ʼn Bankroof op Pofadder!

Die eetsaal is langs die kroeg, oorkant die ontvangskantoor. Ek stap daar in, ver terug in my geheue in.

Hier is ʼn ouwêreldse ritueel aan die gang – een waarvan ek baie lanklaas deel was, want ʼn mens kry nie meer baie sulke ouwêreldse hotelle met sulke eetsale nie. Deesdae word die ou hotel op die dorp ʼn lodge, en die eetsaal verander in ʼn steakhouse, of ʼn à la carte-restaurant.

Teen een muur is ʼn buffet met ʼn rangskikking droë proteas daarop, soos ʼn altaar vir goeie maniere staan dit daar. Elke tafel is oorgetrek met ʼn wit damask-tafeldoek, en almal is dieselfde gedek: ʼn kleinbordjie, ʼn grootbord en ʼn wynglas. Links van die grootbord is twee vurke, regs daarvan ʼn mes en ʼn vismes, en aan die bokant, ʼn lepel vir die sop en ʼn lepel vir die nagereg – als Royal Sheffield-silwer, natuurlik. Op die kleinbordjie wag die bottermessie, skuins gedraai.

ʼn Kelner in ʼn rooi baadjie stap vooruit en trek by ʼn tafeltjie die stoel vir jou uit. Frans, staan op die plaatjie op sy bors. Dit voel of Pa en oorlede Ma ook eensklaps hier is en ons sit weer in die eetsaal van die Commercial Hotel op Daniëlskuil, op ʼn Sondagmiddag ná kerk.

ʼn Sagte gevoel van nostalgie skuif stadig soos ʼn gordyn oor die werklikheid van bankrooftogte en AllPay-dae.

Eers tel ʼn mens die styselstyf servet, wat soos ʼn bootjie langs die bottermes op jou kleinbordjie staan, op, vou dit oop en drapeer dit oor jou skoot – en byna dadelik gly dit weer af, tot op die vloer. Dan, byna instinktief, beweeg jou hand vorentoe en tel ʼn halwe snytjie witbrood van die bordjie in die middel van die tafel af op. Daarna lig jy die ronde deksel van die silwerbakkie langs die sout- en peperpotjie op. Binne-in lê die bolletjies geriffelde botter. Druk jy te hard met die bottermessie op die bolletjie, breek dit in twee.

Frans stap terug kombuis toe. Die deur tussen die eetsaal en die kombuis het ʼn silwer arm aan die bokant wat keer dat dit toeklap wanneer die kelner met borde in die hand daar in- of uit gaan.

Die arm se meganisme maak ʼn ffft-geluid wanneer die deur agter Frans toegaan.

ʼn Kelner in ʼn swart baadjie kom nader. Freddie. “Something to drink?” Hy hou die wynlys in ʼn swart omslag na my uit, buk en tel die servet, wat al weer van my skoot afgegly het, van die vloer af op en gee dit vir my.

“Ons sal die Grünberger Stein vat,” hoor ek Pa sê, dan maak hy die wynlys toe en gee dit terug aan die kelner. “En bring sommer vir ons ys ook saam.”

Die getikte spyskaart op die tafel is oorbodig; dit is nog al die jare in jou kop. Voorgereg: Eers sop, dan stokvis. Hoofgereg: Skaapboud of hoender met rys, gebraaide aartappels en groente na die seisoen. Nagereg: malvapoeding en vla.

Frans kom weer by die kombuis uit met ʼn sopbord in die hand.

“Ffft,” fluister die deur agter hom.

Hy sit die groentesop waarin wortelsnysels dryf voor my neer, terwyl die servet weer van my skoot afgly.

“Ogies,” sê oorlede Ma en vat my hand. “Pappa wil vir ons bid.”

“Dierbare Vader, dankie dat u vandag u hand van bewaring oor ons gehou het,” bid Pa. “Wees so met ons in hierdie nag wat voorlê. Seën nou ook wat ons gaan eet, en laat ons u naam nimmer vergeet. Amen.”

Vir meer inligting oor die boek, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae