Uittreksel: Infanta (Deon Meyer)

infantaUittreksel uit die boek, Infanta, deur Deon Meyer.

Bladsy 15

Hulle is buite sy bereik. Daar is agt mans agter die eenrigtingglas, maar hy sien net die twee vir wie sy haat brand. Hulle is jonk en argeloos, die monde in identiese traak-my-nie-grynslagte, die oë wat uitdagend na die venster staar. Vir ʼn oomblik meet hy die moontlikheid om te sê hy herken niemand nie en dan buite die polisiestasie met die jaggeweer te wag. Maar hy het nie voorberei nie, hy het nie uitgange en strate bestudeer nie. Hy lig sy vinger soos ʼn loop en sê vir die superintendent: “Daar is hulle, nommer drie en vyf.” Hy herken nie sy eie stem nie, dit is die woorde van ʼn vreemdeling.

“Is jy seker?”

“Doodseker,” sê hy.

“Drie en vyf?”

“Drie en vyf.”

“Dit is hoe ons dit ook het.”

Hulle vra hom om ʼn verklaring te teken. En dan is daar niks meer vir hom om te doen nie. Hy loop na die bakkie, sluit dit oop en klim in, bewus van die geweer agter die sitplek en die twee daar binne iewers. Hy sit en hy wonder wat die superintendent sal doen as hy vra vir net ʼn paar oomblikke alleen met hulle, want hy voel die verlange van sy hande om ʼn lang lem tot in hul harte te stamp.

Sy oë talm lank op die voordeur van die polisiestasie en dan draai hy die sleutel en ry traag in die straat af.

Klik hier vir meer besonderhede oor Infanta
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R240-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.