Uittreksel: ‘Koukonap’ deur Johann Botha

Koukonap_30mmsp_2Op Koukonap is daar op enige gegewe tydstip ’n paar riemtelegramme oor diamante in omloop. Sommige daarvan kan selfs waar wees.

’n Delwer van Delportshoop kry glo in die laaste sif uit sy armsalige kleim ’n karbonkel sonder gles. Oornag skatryk. ’n Arme drommel is glo by Jagersfontein deur speurders in ’n lokval betrap. Eet nou pap in Bloemfontein se tronk. Illicit Diamond Buying oftewel aai-die-bie.

Die vonds van Suid-Afrika se eerste diamant, later bekend as die Eureka, is in beginsel ’n romantiese verhaal waaraan die beknopte opsomming in Koukonap Hoër se geskiedenis-handboek tog seker nie reg laat geskied nie. Dries vind dit maar droog in vergelyking met oom Ben en oom Gert se vertellings oor die ou dae. Hy maak die fout om dit te sê. Seker so, sê meneer Postma. Lekker onderwerp vir ’n werkstuk. Wat is feite en wat is aangedikte oorlewering?

So vyf bladsye met ’n bronnelys. Probeer die dorpsbiblioteek.

Dries kyk lank na die onderwyser. Die man is sowaar ernstig.

Meneer Postma onderdruk ’n glimlag. Hét hom, dink hy. Kom ons kyk wat word.

Mrs. Stuart betrag Dries oor haar leesbril se halfglase. “I remember you,” sê sy. “You wanted to read all the Tarzan books.”

Dries sê: “Yes, Mrs. Stuart.” Klink nie of sy ’n aanhanger van die aapman is nie.

“Diamonds,” sê sy. “That’s more like it. This is after all the Rhodes Memorial Library. You do realise the significance?”

“I think so, Mrs. Stuart,” sê Dries. Snaaks hoe ’n mens dinge waarmee jy grootword soms aanvaar as gegewe sonder om verder daaroor na te dink. Dit het hom maar eers betreklik onlangs getref dat die biblioteek se naam verband moet hou met die historiese figuur Cecil John Rhodes, aartskonkelaar en imperiale boelie, volgens meneer Postma.

“In fact, young man, the library was built with an endowment from the Colossus himself. So, what do you deduce from that?”

Dries oorweeg sy antwoord. “That you have lots of stuff on diamonds?”

Mrs. Stuart gee ’n blaflaggie. “Indeed.”

Sy haal ’n sleutel uit die laai onder die toonbank en lei Dries na ʼn vertrek langs die biblioteeksaal. ’n Koperplaatjie bo die deurkosyn lui: The Rhodes Collection. In die middel van die vertrek is daar ʼn tafel met stoele en teen die muur vertoon ’n kas rye boeke agter glas. Hangligte laat val poele lig op die tafel se groen blad.

“Reference only,” sê Mrs. Stuart. “These books do not leave the library.

You’re welcome to sit here and make notes. Now let’s see…”

Gedurende die kort skoolvakansie spandeer Dries af en toe ʼn uur of wat in die biblioteek, aanvanklik wrokkig, algaande met groeiende belangstelling. Die basiese feite is inderdaad soos die geskiedenis-handboek dit stel. Die eerste diamant is deur die vyftienjarige Erasmus Jacobs op sy pa se plaas De Kalk in die Hopetown-omgewing opgetel. Dit was die jaar 1886.

Vir Dries lê die interessantheid in dingetjies wat nié in die handboek vermeld word nie. Mense kon nie dink hoe so iets in die oop veld beland het nie. Diamante hoort mos by riviere, het hulle geglo.

Lawwe teorieë is geopper. Dalk het ’n Griekwa-skaapwagtertjie dit in sy slingervel gebruik. Dalk het ’n wilde volstruis dit in sy krop rondgedra.

Die waarheid is skynbaar net so vreemd. As ’n waterpyp by ʼn krip op De Kalk nie verstop geraak het nie, het die Eureka dalk nog donkiejare in die veld bly lê. Of so beweer een van die boeke in die reference section. Erasmus se pa, Daniël Jacobs, het hom glo gestuur om die pyp te gaan oopmaak. Agterna soek die seun ’n doringboom se yl skaduwee op om ’n slag sy hoed af te haal en die sweet van sy voorkop te vee. Terwyl hy so staan, sien hy eenkant iets blink in die son. Hy krap dit uit, steek dit in sy sak en vat dit huis toe om vir sy sussie Louisa te wys. Hy het geen idee dat dit dalk van waarde is nie. Hulle het sommer vir die aardigheid mooi klippies bymekaar gemaak.

Dit sou dalk die einde van die storie gewees het, as ’n buurman, Schalk van Niekerk, nie op besoek aan De Kalk ’n mooi steentjie tussen die kinders se speelgoed opgemerk het nie. Hy het self nog nooit ʼn diamant gesien nie, maar iets aan dié blinketjie trek hom aan. Hy bied aan om dit te koop, maar tannie Hester Jacobs wil daar niks van weet nie.

“Betaal, vir wat? As jy hom wil hê, vat hom gerus, neef Schalk.”

Wat nou volg, lyk vir Dries na ’n hele ketting van toevallighede. As enige skakel ontbreek het, het die geskiedenis sweerlik ander draaie gegooi. Dan het Cecil John Rhodes dalk droëbek uit Suid-Afrika teruggekeer na Engeland. Wie weet? Dan het oupa Sarel se oorlog, die oorlog tussen die Engelse en die Boere, dalk nooit uitgebreek nie! Maar Dries besef sy verbeelding gaan nou met hom op loop.

Want wat wel gebeur, is dat ’n spekulant, John O’Reilly, op Schalk van Niekerk se plaas ’n draai maak. Hy bewonder die mooi klippie en bied aan om uit te vind wat dit is. Op die sterkte van ’n handdruk is hy daar weg met die toekomstige Eureka in sy sak. Op Colesberg toets die plaaslike vrederegter, Lourenzo Boyes, die steentjie op sy kantoorvenster. Of die gekrap op die ruit iets bewys, weet hy nie. Maar miskien is dit tog ’n diamant.

Hy plak dit in ’n gewone koevert toe en stuur dit met die poskoets na dokter William Atherstone op Grahamstad. Dié dokter is ook bekend as kenner van minerale. Hy eien dit as ’n liggeel diamant van 21¼ karaat en versend dit na Kaapstad vir die aandag van die koloniale sekretaris, sir Richard Southey. Daar beaam plaaslike kenners soos die juwelier Louis Hond dis die ware Jakob.

Southey is in die wolke. Sy gevleuelde woorde in die Kaapse parlement was: “Dié klippie is die rots waarop ons die kolonie se toekoms gaan bou.” Maar om doodseker te maak, stuur hy darem die kolonie se toekoms met die posboot na Londen, waar die juweliers Garrard & Co bevestig dis ’n waardevolle diamant.

Vir die aansienlike bedrag van £500 word die Kaapse goewerneur, sir Philip Wodehouse, die eerste amptelike eienaar van die Eureka.

Schalk van Niekerk kry twee derdes en O’Reilly ’n derde van die verkoopprys nadat onkoste afgetrek is. Van Niekerk staan ’n deel van sy verdienste af aan die Jacobse, wat aanvanklik teëstribbel. Dries kan hom die gesprek verbeel.

“Dis tog nie nodig nie, neef Schalk.”

“Reg is mos reg, tant Hester.”

“Nou maar dankie, neef Schalk.”

“Dis goed so, oom Daniël.”

Daarmee het Dries meer as genoeg feite en bespiegeling vir sy werkstuk. Hy kan die res van die vakansie wy aan die Vaalrivier, Georges Simenon se inspekteur Maigret, wat hy in die biblioteek se algemene rakke ontdek het, en dalk… tennis met Sarie Cloete… of dalk nie. Hy kan egter nie die versoeking weerstaan om af en toe ’n draai in die Rhodes Collection te maak nie. Feite kan net so verslawend raak as fiksie.

Baie kenners het die vonds van die Eureka as ’n vloekskoot of bedrogspul afgemaak. Plaaslike mense, by uitstek die Griekwas van die geweste, stap egter nou met ander oë deur die veld. So kry O’Reilly nog ’n diamant in die hande, wat hy vir £200 aan Wodehouse verkoop. Die groot geluk tref egter vir Schalk van Niekerk.

Ene Swartbooi hoor van sy belangstelling in mooi klippies en kom met iets werklik besonders by hom aan. Van Niekerk bied hom daar en dan al die lewende hawe op sy plaas aan – 500 skape, tien beeste en ’n perd. Hy word oornag ’n skatryk man deur die diamant vir £11 200 aan die Lilienfeld-broers van Hopetown te verkoop. Dis ʼn pragtige wit steen van 83½ karaat wat wêreldwyd opslae maak en bekend word as die Ster van Suid-Afrika.

In die stormloop wat volg, word die oewers van die Oranje-, Vaal-, Harts- en Rietrivier omgedolwe. Daarop volg die tweede stormloop, na die “droë” delwerye op plase soos Dorstfontein, waar die Dutoitspan lê, en die De Beer-broers se Vooruitzicht, waar diamante selfs bo-op Colesberg-koppie gevind word. Binne vyf jaar lok die belofte van rykdom vyftigduisend mense na die delwerye.

Onder die aanslag van pikke en grawe, kabels en koekepanne verdwyn die koppie in die grootste mensgemaakte gat op moeder aarde. Die mynkampe word ’n stad. Kimberley se beroemde oop myn sluk 17 hektaar in en sak tot 790 voet onder die grond. Soos Dries dit uitwerk, is dit ’n diepte van so driekwart om Koukonap se rugbyveld. Dis dêm diep. Die hele Nabot, lusernlande inkluis, kan met gemak in die Groot Gat pas.

Op een van die Fouries se skaars besoeke aan Kimberley het die seuns hul ouers by voorbaat bearbei om dié uitgewerkte myn te besoek. Op grondvlak kry ’n mens nie ’n behoorlike indruk van die gat se grootte nie, hoewel dit steeds indrukwekkend is. Van agter die heininkie val die grond eers skuins weg. Dit vorm ’n enorme tregter. Dan stort dit skielik loodreg langs blougrys rotswande af na die groen water wat die onderste derde van die gat vol geloop het.

Jy kan maar vergeet om met ’n klip tot in die water te gooi. Selfs ’n kettie is nie opgewasse nie. Jy rek die lope tot by maksimum en laat los. Dit lyk belowend. Dis of die klip in die lug bly hang. Dan val hy en land sommer hier onder jou teen die skuinste, ver van die afgrond. Dit, eerder as enigiets anders, het hulle ’n besef gegee van die omvang van die uitgrawing.

Langs die uitkykpunt was daar drie leë koekepanne en ’n kennisgewing wat vertel hoeveel tonne grond uit die gat verwyder is om 6 000 pond se diamante uit te haal. Dit sou al drie koekepanne oorlopens vol diamante kon maak. Altesame 14½ miljoen karaat se diamante! Tot Lood was beïndruk.

In die Rhodes Collection neem Dries daarvan kennis dat Kimberley se diamante van 1888 volledig onder die De Beers-maatskappy se beheer was. Daar was ook ander direkteure, maar effektief was dit die koninkryk van Cecil John Rhodes, wat later uit die Rand se goudmyne ’n tweede fortuin sou verdien.

Hoe ryk, hoe magtig moes dié kêrel nie gewees het nie! Dis nie elke man wat ’n enorme deel van Afrika na hom vernoem kry nie.

En dis nie elke man wie se gekonkel ’n oorlog help aanstig wat tot die dood van twee republieke en tienduisende mense sou lei nie.

Uit die geskiedenis van diamante begin Dries ’n onsamehangende indruk kry van hoe vlae van oorheersing mekaar opgevolg en oor die veld gespoel het, so onkeerbaar soos branders van die see. ’n
Ironiese simbool daarvan is vir hom ’n foto in een van die boeke. Hy lees die onderskrif met ’n skok van herkenning. Die kêrel is deftig uitgevat en poseer met ’n spoggerige pluiskeil op sy kop. Die gesig is aantreklik en die mond en ken is ferm. Tog is daar aan die effens versluierde, sydelingse kyk van die oë iets ontwykends. Die man se naam is David Arnot.

Weer voel dit vir Dries of hy uit onkunde wakker geskud word. Arnotstraat 13. Dit is waar sy pa hul eerste huis op Koukonap laat bou het, waar hulle jare lank gebly het tot hulle na Die Erwe getrek het. Dit is klaarblyklik die man na wie Arnotstraat vernoem is. En David Arnot was blykbaar, wat die Vrystaters onder president Jan Brand betref, ’n pynlike doring in die vlees.

Soos Dries die ding verstaan, was daar in die vroeë jare aan die Kaap maar altyd ’n oorwig wit mans onder die koloniste, maar nie ’n tekort aan vroue onder die inheemse bruin mense nie. Dit verklaar tot ’n groot mate die ontstaan van die land se bevolking van gemengde herkoms, wat saam met hul blanke landgenote teen die Xhosas en die Boesmans kommandodiens gedoen het, maar nie deel geword het van die blanke gemeenskap nie.

Soos by hul wit neefs was daar onder hulle korrelkoppe wat wou wegtrek van die Kaap se beperkende toesig en faksies wat onderling baklei het. Daar was uitdelging van Boesmans en ’n drang om eie regerings te vestig. Daar was Basters, Korannas en Oorlams, elkeen met sy eie, soms bloeddorstige geskiedenis. Teen die begin van die negentiende eeu was dit die Griekwas wat hulle min of meer in die gebied tussen die Kaapkolonie, Betsjoeanaland, die Transvaal en die Vrystaat gevestig het.

In hierdie dorre semi-woestynstreek het die dae teen die 1860’s so ongeërg aangestap soos ’n ry boerbokke wat aandrentel kraal toe. Grense was dikwels vaag, maar nie die moeite werd om oor opgewonde te raak nie. Leef en laat leef. Toe word diamante ontdek, en skielik kom aanspraakmakers soos meerkatte uit hul gate te voorskyn. Dries kan maar net sy kop skud oor wat volg.

Transvaal voel sy gebied strek darem seker ten minste tot by die samevloeiing van die Harts- en die Vaalrivier.

Die Britse regering is skielik bekommerd oor die goeie orde by die delwerye, al val die gebied onteenseglik buite die Kaapkolonie.

Die Vrystaat wys daarop dat die delwerye ontstaan het op die plase van Vrystaatse burgers. Van die Vaal- tot by die Rietrivier is gedokumenteerde Vrystaatse gebied.

Die Griekwa-kaptein Nicolaas Waterboer se gebied lê van Griekwastad af verder wes van die delwerye. Dis ondenkbaar dat hy enige aanspraak op die minerale kan maak. Sy agent, David Arnot, sien dit egter as die kans van ’n leeftyd om Brutus se advies te volg. As die gety gunstig is… Hy is self van Griekwa-herkoms en vasbeslote om die Boere te wys watter wortels hierdie David kan uitgrawe.

Op die basis van lukrake bewerings en twyfelagtige ooreenkomste eis hy namens Nicolaas Waterboer die ganse gebied van Ramah aan die Oranje tot by Platberg aan die Vaal. Daarmee vee hy die Vrystaat se veel regmatiger eis van die tafel. Sy saak mag wankelrig wees, maar sy taktiek is onberispelik. Hy skep vir sir Richard Southey, die Britse koloniale sekretaris, en sir Henry Barkly, die nuwe Kaapse goewerneur, die skuiwergat om die diamantgebied vir Brittanje in te palm. Ten spyte van bitter protes deur president Brand word internasionale arbitrasie van die hand gewys en Robert Keate, luitenant-goewerneur van Natal, as bemiddelaar aangestel.

Die uitslag is voorspelbaar. Keate ken die volledige eis aan Waterboer toe, wat dit op Arnot se advies onder Brittanje se beskerming plaas. Dis nie seker teen wie of wat hy beskerm moet word nie.

Die gebied word tot die nuwe Britse kolonie Griekwaland-Wes geproklameer. Southey word die luitenant-goewerneur en Kimberley die hoofstad. ’n Paar jaar later word dit by die Kaapkolonie ingelyf.

Dié blatante gekonkel dien vir Dries as openbaring van die harde werklikheid van politiek. Die Vrystaat en Transvaal kom agter dat Keate se grensbeskrywing eintlik hul aansprake bevestig. ’n Landmeter,
Gilfillan, word inderhaas aangewys om die Ramah-Platberglyn “reg” te trek. Hy doen wat hy kan, maar die diamantvelde bly aan die Vrystaat se kant van die grens lê.

Barkly skrik. Die nuwe kolonie se pas aangewese landmetergeneraal, Francis Orpen, kom egter tot die redding. Hy trek die lyn van Ramah nie na die irriterende Platberg nie, maar na Paardeberg, wat verder oos lê. Hy noem Paardeberg eenvoudig Platberg en sluit so die diamantvelde finaal by Griekwaland-Wes in.

Om ontslae te raak van president Brand se gekerm, ken Brittanje kompensasie van £90 000 aan die Vrystaat toe. Dis natuurlik niks anders as erkenning dat die Vrystaters sleg ingeloop is nie. Daar is egter nie veel wat hulle verder aan die saak kan doen nie. Tog kom hulle daar veel beter van af as die Griekwas, wat die meeste van hul grond verloor, geen voordeel uit die delwerye trek nie en genadeloos onderdruk word toe hulle probeer rebelleer.

Een Griekwa wat darem nie rede het om te kla nie, is David Arnot. Hy word “vir dienste gelewer” vergoed met 37 plase aan die Vaalrivier, ’n kontantbedrag van £4 000 en ’n pensioen van £500 per jaar.

Uit: Koukonap deur Johann Botha

Uitgewer: Queillerie
Prys: R260-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Maroela-lesers kan die boek teen ‘n afslagprys by Graffiti Boeke aanskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae