Uittreksel: Nova: Bloedbroers

Hoofstuk 11

Toe Lucas die volgende oggend in die kombuis instap, staan Brandon soos ‘n verlore skaap en staar na die bokse ontbytgraan. Hy lyk ontsteld. Het Duart hom vertel wat gebeur het?

“Môre, Brandon,” groet Lucas versigtig. “What’s up?”

Brandon se diepbruin oë draai na Lucas.

“Daar’s fout…” Brandon se stem skuur in sy keel.

Lucas frons. ‘n Binnestem sê vir hom dat Brandon iets weet. Hy besluit om hom dom te hou. “Fout?”

“Dis Olive… Sy’s weg.”

Die woorde skok deur Lucas. Sy probleme met Duart skuif vir ‘n oomblik op die agtergrond. “Hoe bedoel jy ‘weg’?”

“Ek en Duart het vanoggend oral na haar gesoek,” antwoord Brandon. “Haar kamerdeur was oop. Sy is nie in die huis nie, nie in die tuiin nie. Nêrens nie.”

Die bekommerde uitdrukking op Brandon se gesig laat die spanning binne Lucas toeneem. “Dink jy hulle het haar kom haal? Haar pa of haar ma dalk?”

“Sy sou tog vir ons gesê het.”

“Jy ken vir Olyf. Sy dink nie altyd aan sulke goed nie.” Lucas se woorde voel vir hom leeg. Hy hoop hy is reg.

“Ek het weer buite gaan soek, sy is defnislis nie hier nie,” sê ‘n stem agter Lucas. Duart s’n. Lucas swaai om. Hy en Duart kyk mekaar aan. Daar is iets aan die kyk… ‘n ongemak wat sonder woorde sê dat dinge tussen hulle nie meer is wat dit was nie.

“Ek hou nie hiervan nie,” sê Brandon. “Wat as iets met haar gebeur het?”

“Dis Nova hierdie. Iets het beslis met haar gebeur.” Duart vou sy arms voor sy bors. “Hierdie plek is vól geheime!”

Daardie laaste sin is net op hom gemik, weet Lucas. Hy probeer om nie vir Brandon te wys wat aan die gang is nie.

“Vir al wat ons weet, het die een of ander mal wetenskaplike haar beetgekry,” voeg Duart by.

Lucas skrik. Shut up! vorm hy die woorde stil met sy mond.

Daar is ‘n uitdagende kyk in Duart se oë toe hy na Lucas staar.

“Wat is dit met julle twee,” vra Brandon. “Het julle met die verkeerde voet uit ‘n space ship geklim?”

“Iets in daardie rigting, ja,” sê Lucas. Die erkenning dat dinge tussen hom en Duart nie lekker is nie, laat hom egter nie beter voel nie; inteendeel, hy voel nou nog goorder.

“Flip!” roep Brandon skielik hard uit. Hy steier teen die kombuistoonbank vas. Sy oë wyd.

Lucas dink eers dit het te doen met die ding tussen hom en Duart, maar toe sien hy ook wat Brandon sien: ‘n Hand druk deur die kombuismuur. Dis asof die muur van dun jellie gemaak is. Toe kom ‘n kop… ‘n lyf…

“Olive!” Die skok maak plek vir verwondering en verligting. Olive se krag het hulle heeltemal onkant betrap.

“Waar was jy?” vra Brandon soos ‘n pa wat sy dogter inwag ná ‘n aand uit. “Ons het oral na jou gesoek.”

“Ouens… julle sal nie glo wat ek gesien het nie…”

Olive se gesig is helder, maar haar stem is donker.

Nog ‘n versluierde ding, sê die binnestem in Lucas se kop.

“Wat?” vra Duart.

Maar Olive kry nie kans om te antwoord nie, want iemand anders kom die kombuis binne. ‘n Soldaar in ‘n swart Nova-uniform. “Julle word benodig. Los alles en kom saam met my!” beveel hy met ‘n streng gesig.

Lucas draai na sy vriende toe. Moeilikheid, weet hy. Hier kom moeilikheid.

Het dit iets te doen met waar Olive was en wat sy gesien het? Hy gaan dalk binnekort uitvind.

Klik hier vir meer inligting oor die boek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.