Uittreksel: Onvertelde stories van Afrikaans

Uittreksel: Die tannies van Touwsranten

Ons gesels dwaal na kos. Tannie Lizzie se onthou loop terug na die sousboontjies wat hulle self gekook het, en Sondae se patatbredie. “Juffrou, ons het nie soos die mense nou elke aand ‘n luxury ete geëet nie – ons het nie so geëet nie. Sondae, dan kry jy nou genôg vleis, en stew patat. Dan kan jy weer vra.” Vir elke dag tweede porsies vra was daar beslis nie genoeg nie.

Maandag, onthou sy, was die dag vir sop. “Dan is daar nou nie ander goete by nie – net die bone en die mielies. En dan is dit nou dalk Dinsdae vis.”

Maandae was wasdag. “Almal gaan dan dammetjies toe. Die oumense kyk dat almal hul goed mooi skoon was, soos die babas se doeke. Daai tyd het ons nie geweet van die masjien nie. Wasgoed moes eers oor die klippe gebleik word. En dan word dit weer een maal natgespat, en weer gespoel. En as ons vir die blanke mense gewerk het, moes ons dit ook so doen.”

Daar was besliste orde. “Elkeen het sy eie wasdammetjie gehad so langs die vlei. En die water het geskuim! Jy gaan haal jou water uit daai dammetjie uit. Onse drinkwater het ons ‘n ent van die vlei af gehad. Daar was ‘n puts wat ons ‘n kas ingesit het, en dan het die water gesuiwer deur die plank se naatjies, en dit was spierwit drinkwater. En vir kos. As ons wou was, het ons die dammetjie se water gebruik, en die reënwater is ook vir kos gebruik.”

Elkeen het sy eie reënwater opgevang. “As ons net sien die weer is so ‘n bietjie…dan sal jy sien die emmers en die drommetjies en die baddens staat al gereed.” Goeie gewoontes sterf nie maklik nie, en sy vang steeds hier in Touwsranten reënwater vir haar plante op. Maar destyds was reënwater vir oorlewing.

Hulle het na aan die natuur gelewe. Niks is gemors nie. Neem nou maar die stampery van die mielies. “Onse varke het daai kaf geëet. Voor ons skool toe gaan, moes ons eers mielies gestamp het en afgewas het en dan het ons daai kaf vir die varke gegee. Dit en mielies was meestal die voedsel vir onse varke gewees.”

Hulle het ook vark geslag. “Daai vet was nou gebruik vir die kos en vir die brood. En botter. Ons het nou nie die ander botters van nou (margarien) geken nie, Juffrou.” Net soos alles anders, is botter gedeel met die wat nie beeste gehad het nie.

Dinsdae was visdag – en strykdag. Daar is gestryk met die swart yster op die “praaimus” (primusstofie). “As jy nie ‘n praaimus het nie, dan doen jy dit op die stoof. En dit het gou gegaan! Jy’t altyd genôg hout gehad, want jy het elke middag gaan hout haal.

“Elke kind het sy werk gehad, en jy moes dit doen.” Soos fynhoutjies haal. Dit was nodig vir die eerste kookwater van die oggend, vir tee. “Die een wat môre-oggend die koffie moet maak, moet sorg dat daar die vorige middag fynhoutjies is. Hulle, die oumense, staat nie op voordat jy as kind nie vir hulle hulle tee gevat het nie. En daar’s nie van jy bring ‘n koppie koffie vir hulle nie. Jy bring ‘n voormondjie.”

‘n Voormondjie? “Hulle het elkeen so klein koppietjie gehad, en dan bring jy eers vir hulle ‘n bietjie daarin. En eers dán kan jy die groot koppie bring.” As daardie koffie nie gemaak is nie, was daar moeilikheid.

As een moes pak kry, kry almal pak. Dit was die reëls waarvolgens hulle grootgemaak is. “En as jy gaan kla oor ‘n antie wat jou geslaan het, kry jy weer ‘n pak. Dan kry jy nou twee pakke vir een storie.”

Vis is gebak en gekerrie ingelê, en so het jy dan deur die jaar kos. “Ons het die vis op die drade gehang om te droog, soos die kabeljou of die geelvisse. Vanaand bring jy dit in, môre-oggend word dit weer op die draad gehang. Dan word dit gepekel, en so saam met die patat geëet in die skaarsste tyd.” Daar is ook biltong gemaak vir die tyd wat daar nie vars vleis was nie.

En vir dieselfde rede is daar “miete” (miedens) van patats gepak. “Jy kry ‘n groot ronde oop plek, en pak eers grond. Dan pak jy patats, dan weer grond, dan weer patats. Die grond het gemaak dat die water weer afgeloop het. Daar was nooit ‘n seil oorgegooi nie,” verduidelik sy. Tog het niks ooit gevrot nie. En niks is in elk geval ooit gemors nie, so selfs vrot patats sou gebruik kon word. “Wat ons nie kon eet nie, is opgekap vir die varke.”

Haar ouma-hulle was trotse, selfvoorsienende mense wat ‘n eie wa met osse en ‘n ploeg gehad en hul eie grond bewerk het. Sy was haar ouma se regterhand. “Ek was altyd die een hier naby haar gewees. Moet sy ‘n baba gaan vang, dan gaan ek saam. Ek dra die koffertjie. Ouma het babas gevang, en mense het na haar toe gekom vir bossiesmedisyne.”

Bossiesmedisyne was daar volop. Stroop is gekook van wilde-als vir griep en vir die kinnertjies se bors, en “pêrepis” (perdepis) vir die grootmense. “Salie was vir verkoue- en grieptoestande, en vir baarmoederprobleme was daar oumeid-op-die-werf en gheita saam gebruik. As jy vandag ‘n baba gekry het, moet jy dit van môre af drink om jou skoon te maak. Dan moet jy nie by ‘n man kom nie, en jy moet tien dae in die bed bly. Jy mag nie uit die bed uit opstaan nie. Jy moet ses dae net op die een sy lê, en van die sesde dag af draai jy weer op die ander sy. Alles doen jy in die kamer. Hulle (die oumense) kom gee vir jou pot en kom was jou self.”

“En hulle het ons bande gesteek – dan lê jy daar met die flennieband, amper soos ‘n naelband, en jou maag ingespêlde.” Dit sorg dat jy weer heel gou ‘n plat maag kry. “En as jy nou uit die bed uit opstaan, moet jy ‘n handdoek so styf om jou draai,” beduie sy, en vertel dat hulle tot op ‘n spesiale manier moes sit. “As jy klaar ‘n baba gehad het, moet jy iets onder jou sit dat niks uithang nie en dat dit (die baarmoeder) weer kan opdruk. Dit moenie hang nie; dit moet op die plek bly.”

Baie min mense het ooit voet in ‘n hospitaal gesit. George was immers ‘n dag ver per ossewa.

Sy glo steeds in bossiesmedisyne, en gaan haal ‘n pak gedroogde gansies (ook bekend as kankerbossie). “Dis teen kanker, en ek het hom en ander ietsies maar altyd nog in die huis. Ek trek maar altyd, een maal ‘n maand, vir my ‘n potjie. Jy drink in die aand ‘n kelkie vol, en dan weer soggens.” Min mense het in haar onthou-tyd kanker gekry. “Dis nou maar van ek groot geraak het, dat ek hoor van kanker. Dis nou nie iets daai van wat ek baie kennis gedra het nie.”

Boegoe of boegoebrandewyn, vertel tannie Lizzie, was om die niere mee skoon te hou. Sy vryf ‘n paar blaartjies stukkend dat ek die skerp reuk kan ruik. “Boegoe moet jy nie laat kook nie, want anders kook jy die krag uit. Sit dit maar eerder in ‘n pot water of in die brandewyn en laat dit trek, dat die krag ín kan gaan.”

Sy wys ook ‘n bietjie slangbossie. “Dit was vir vrouekwale, en as die kinders hierdie vaal kolle (omlope) op die koppe het. Dan was hulle die kinders se koppe daarin.”

Die raat vir “dourom” – “sulke nat sere wat so aaneen is op mens se kop, ek weet van twee seuns wat dit gehad het” – was baie meer radikaal. “As mens nou koeie gemelk het soggens, moes ons almal help. Daar is altyd een kind by jou wat die dophouer genoem word.” Die dophouer had ‘n gewigtige taak – hy of sy moes die emmertjie dophou vir ingeval die koei skop. “Nou sê hulle vir die een wat die seer kop het om te kom dophou, en in die tyd wat die koei gemelk word, pie sy mos nou. Dan druk hulle daai kind se kop onder die warm pie in. En dan werk dit.” Al het die arme kind blou moord geskree…

Beesmis was nog ‘n gewilde raat. “Mense was mos partykeer met swelsels gepla en dan het hulle warm beesmis opgesit. Beesmis is maar ‘n goeie ding, Juffrou,” skater sy toe ek gril by die blote gedagte daaraan. Beesmis het ook ander gebruike gehad. “Ons het elke Vrydag onse huise se vloere gesmeer. Die mis is gemeng met klei, en jy smeer nie sommer net om te smeer nie. Jy moet mooi patrone maak. Jy smeer dit terwyl die kinders by die skool is, en as hulle terugkom is als klaar netjies. Of vanaand as hulle slaap, was die beste, al is dit ook Vrydagaand.”

Vrydagaand, onthou sy, was jou werkaand, al is daar ook wat aan. “Wat jy moet doen, moet jy doen.”

Ons praat oor die deugde van harde werk. Tannie Lizzie vertel dat sy luigeit nie kan verdra nie. “Ek kyk dan die dametjies met die babatjies. Nou sit hulle met daai babatjies op die skote. Of op die heup – vir hulle sê ek sommer hulle staan met die geweer. En nou kan hulle niks doen nie, want hulle het nou ‘n babatjie. En nou se dae is dit mos Kimbie-dae (papierdoeke). Hulle hoef nie eers doeke te was nie! Ons moes nog die doeke was. Die anties het kom kyk en geraas as dit laat raak en jou doeke hang nog nie op die draad nie,” onthou sy. Werk is daar gewerk – daarvoor het die hele gemeenskap gesorg.

Al dae wat jy “kon lekker wees”, was as dit “mieliebôl” was. “Dan’s al die mielies daar by een huis. As my ouma nou mieliebôl hou, dan kom al daai tannies met hulle kinders, en ons maak mielies af van die blare. Daai blare word dan gepluis om matraste mee te stop. Die volgende Vrydag word die pitte weer van die stronke afgehaal, en die grootmense stop self dan die sakke. Dan is dit die bone wat op die dorsvloere gesit word, en die perde loop so in die rondte. Die bone wat nou nog nie uit is nie, moet jy self met die hand uithaal. Dis omtrent die enigste tyd wat jy bietjie rustig kon wees. Dan kry jy koekies en gesels.” Mieliebôl het ook darem ‘n ander sosiale doel gehad. “Dan sien almal vir almal. Die outjie wat jou met ‘n stronkie gooi, is jou outjie,” lag sy skamerig.

Klik hier om nog ‘n uittreksel uit die boek te lees.
Klik hier vir meer inligting oor die boek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae