Uittreksel: Spekskiet

Oom Bertie se baber
Deur Lourens Fourie

In Rustenburg se wêreld was sekerlik nie gasvryer mense as die Cronjes nie. Sowat van deur oopgooi vir kuiermense was eenvoudig net nie geken nie. Hierdie deug het oom Bertie en ta’ Ella so ver gevoer, dat dit ‘n mens half ongemaklik gelaat het. Dit was asof hierdie twee boeremense net nie genoeg vir ‘n kuiergas kon doen nie.

Dalk het hul mensliewendheid te doene gehad met die kinderloosheid. Oom Bertie en ta’ Ella Cronje had g’n kind of kraai nie, maar soos goeie boeremense betaam, het hulle nóóit hul lot bevraagteken of bekla nie. Tog had hulle nooit ‘n tekort aan jonk en oud wat tydig en ontydig kom inloer het nie. Dit was al of hulle deurentyd meer gekry het as wat hulle ooit kon hoop om te gee. Ta’ Ella kon kloek om selfs die wildste van vreemdelinge. Daar word vertel dat inbrekers een aand op die plaas loop draai het en dat die tante hulle in die kombuis betrap het. Net daar en dan was dit nou nie hoër of laer nie, die booswigte moes aansit vir melkkos en melktert en al wat op hierdie aarde van melk gemaak kon word. Sy het vir hulle gevoer en so ingestop dat die leier van die bende ellendelinge naderhand aangedring het dat ta’ Ella die polisie moes bel.

Later het die bende in die hof verduidelik dat hulle moes kies tussen tronkstraf en cholestrol. Aldus hul verdedigende prokureur sou eersgenoemde die beter uitweg wees, aangesien hulle nog ‘n loopbaan had om te volg en dat hul profesie nie die ruimte laat vir ongeskiktheidsdekking nie.

Ta’ Ella was vir amper ‘n week lank bedruk aangesien sy oortuig daarvan was dat dit haar doekpoeding met die dik vla was wat nie heeltemal na die gaste se smaak was nie. Dit kon dalk ‘n skeppie appelkooskonfyt te min of ‘n knypie sout te veel wees wat hulle kon afskrik.

Dan was daar oom Bertie. Dwarsoor die hele distrik was daar niemand met dieselfde soort van reputasie as oom Bertie Cronje nie. Eintlik was hy ‘n kultivar van sy eie. So geplant om so te groei. Die dierbaarheid self met ‘n hart groter as ‘n waenhuisdeur en ‘n gemoedelikheid sonder gelyke.

Tog was daar ‘n iets anders omtrent oom Bertie. Sien, dis nou nie dat die oom gelieg het nie. Lieg sou ‘n heeltemal verkeerde woordkeuse wees wat die heel verkeerdste dunk van oom Bertie by oningeligtes kon laat posvat het. Lieg is ‘n lelike ding. Dit is, aldus die ouer geslagte, ‘n ding wat gepleeg was deur koerantmanne en die prokureur van enige teëparty.

Aangesien oom Bertie Cronje ‘n getroue kerkmens en wyd geliefd in die hele omgewing was, sou die woord “lieg” eenvoudig nie geregtigheid laat geskied nie. Miskien sou “kleurvol gesels” ‘n beter beskrywing wees van hoe die man met die gesproke woord omgegaan het.

Terwyl ta’ Ella die huishouding gedurende die week bestuur het, het oom Bertie van sonop tot sononder geboer. Rustenburg was destyds baie goeie tabakwêreld en op Omkeer, die Cronjes se plaas, het van die beste tabak in die land seisoen na seisoen gestaan. Tabak is ‘n tipe boerdery wat ‘n man met ‘n rug van staal vereis. ‘n Man wat nie kopsku is oor werk nie en dag na dag vir ure krom kan staan. So ‘n tipe man was oom Bertie Cronje meer as gewis!

Selfs Dominee het al ‘n slag oor hierdie werkery kom praat. Hy had te vertelle dat die Liewe Vader inderdaad, kort duskant die sondeval, gesê het dat die mens in die sweet van sy aangesig sy brood sal moet verdien, maar dat oom Bertie daardie konsep veels te ver voer.

Dan het die liewe oom half skaam geglimlag en vir Dominee verseker dat Omkeer nie plek had vir lui mense nie. En as hy dan sou kyk hoe sy liewe vroutjie haar opstal so knap aan’t kant hou, sou hy darem sy agterent moet roer om nie té sleg af te steek nie.

Sondagoggende was oom Bertie en ta’ Ella net in een plek te kry en dit was in die Cronje-familie se kerkbank in die plaaslike moedergemeente. Oom Bertie het vir jare getrou in die kerkraad gedien, eers as diaken, later as ouderling en toe as hoofouderling. Toe die ouderdom egter begin vat en rondry in die wyk ‘n probleem word, het hy die tuig neergelê ter wille van jonger bloed. Dit het egter glad nie die oom se verantwoordelikheidsin teenoor kerk en medemens laat verflou nie. O, nee, sy tiendes was getrou gegee en Dominee het Omkeer nóóit as te nimmer met ‘n leë kattebak verlaat nie.

Maar dit was Saterdae wat oom Bertie vir homselwers opgeëis het. Dit was die een dag van die week wat hy op sy eie wou wees. Die tante het ook nie gebodder nie. Dit was daardie bietjie vryheid wat getroude mense mekaar destyds gegun het en soveel huwelike suksesvol verby die vyftig-, sestigjaar-merk gestuur het.

Elke liewe Saterdag het oom Bertie Cronje sy visstok en -trommeltjie gevat en afgestap na die modderdam doer in die verste hoek van Omkeer. Dit sou ook seker aanvaar kan word dat dit op Saterdae, so alleen langs die dam, was dat die “kleurvolle vertellinge” in die oom se gedagtes vorm sou kon aanneem.

Ek het nooit die voorreg gehad om vir oom Bertie te ontmoet nie. Hy was geroep tot hoër dienste lank voordat dit kon gebeur en dus het hy een van daardie mense geword wat in my gedagtes groter en groter gegroei het tot en met legende status.

Dat oom Bertie se vertellinge die een of ander tyd sou kop uitsteek wanneer ou Rustenburgers ‘n braaivleisvuur deel, was g’n ongewone ding nie. Inteendeel, dit was die gebruik. Dus, een naweek so ‘n klompie jare gelede toe ek by familie in die Rustenburg-distrik gaan kuier het, het my neef, Klein-Jan Alberts, my die storie van oom Bertie se mak baber vertel.

Klein-Jan het self ook nie die storie eerstehands gehoor nie, maar hy staan en val by die bewering dat hy dit van een van oorlede oom Bertie se eie verlangse kleinneefs gehoor het.

Die een Saterdagoggend, net so vlak binne-in die reënseisoen, was oom Bertie weer af dam toe. Dit was nie ‘n ideale dag vir visvang nie. Die reën van die vorige aand het die modderdam se water half troebel gemaak en dan bly visse blykbaar liewerster binnenshuis.

Hier teen die middag se kant het oom Bertie nog nie ‘n enkele byt gehad nie. Half ergerlik besluit hy toe om huis se kant toe te staan, maar nie voordat hy sy lyn ‘n laaste keer ingegooi het nie. Soos die noodlot nou maar werk, was dit ook met die laaste ingooislag dat hy jou wrintie ‘n byt kry en sonder ‘n gespook of spartel trek hy ‘n ou klein babertjie van so om en by ses duim lank uit.

Half geïrriteerd wou hy die babertjie sommer dadelik terug in die water gooi, maar toe merk hy dat die kêreltjie eintlik ‘n anderster uitdrukking op die gesig het. Heeltemal anders as die van die gewone baber op straat. Volgens Klein-Jan was dit so asof die gesnorde vis half vir oom Bertie geglimlag het en net daar, met al die wil in die wêreld, kon hy die baber net nie terug in die water gooi nie. Einde ten laaste is die baber saam huis toe.

Daar gekom, sit oom Bertie die baber in die bad. Die was natuurlik vaagweg tot ergernis van ta’ Ella, maar die gasvrye mens wat sy was, kon sy die babertjie nie die bad belet nie. Baber se kind het blykbaar die helderskoon water vreeslik geniet en waardeer. Soveel so dat hy van pure uitbundigheid gespring en gespat het en dit tot pure plesier van oom Bertie.

Toe ta’ Ella later die aand wou gaan bad, moes daar plan gemaak word, want sy het darem voet by stuk gehou dat daar nie ‘n manier was dat sy ‘n bad met ‘n baber sou deel nie. Oom Bertie het die baber uit die bad gehaal, in ‘n nat handdoek toegedraai en onder die wasbak neergesit. Daar het die vis bly lê totdat die tante klaar was. Toe het oom Bertie die bad weer vol getap en vir Baber teruggesit. Dis nou “Baber” met ‘n hoofletter, want teen hierdie tyd was Baber die baber se naam.

So het dit vir weke aangegaan. Soms het oom Bertie vergeet om vir Baber na die tante se badtyd terug in die trog te gooi, maar dit het nie gelyk asof dit die gesnorde gepla het nie. Inteendeel, so word vertel, het Baber later begin protes aanteken wanneer oom Bertie hom in die bad wou sit. Hy het luidkeels aan’t snorke gegaan. Selfs kuier in die papnat handdoek onder die wasbak was nie meer gemaklik nie.

Baber het begin om oom Bertie oral te volg waar die oom gegaan het. Al snorkend en kreunend het Baber die huis vol geflop-flop. Al agter oom Bertie aan. Wanneer die oom looop sit het, het Baber langs die stoel loop lê en behaaglik gesug wanneer oom Bertie sy kop gekrap het.

Later was Baber net eenkeer ‘n week vir ‘n uur in die bad gesit en blykbaar nie omdat dit regtig nodig was nie. Die rede was dat hy vreeslik lekker gespeel het met die drie plastiekeendjies wat ta’ Ella eenkeer vir hom van die dorp saamgebring het.

Teen hierdie tyd het oom Bertie al baie mooi besef dat hulle hier te doen het met ‘n úíters sonderlinge gebeurtenis. Hy het ta’ Ella baie mooi gevra dat sy tog nie moet uitpraat oor Baber nie, aangesien die storie in verkeerde ore kon beland en kort voor lank sou Omkeer se werf wemel van koerantmanne en ander ongewenste karakters en dit sou hulle tog nie wou hê nie.

Oor die volgende klompie maande het Baber gegroei asof sy lewe daarvan sou afhang. Hy het omtrent alles onder die son gevreet. Van platannas, vars kreef, tot by koesister verby. Toe hy omtrent so vier voet lank was en ongeveer sestig pond geweeg het, was badtyd en nat handdoeke nie meer vir hom nie. Toe die volgende jaar se winter aankom, was dit Baber wat vlaklangs die Falkirk koolstoof gelê en bewe het van die koue, maar nooit te ver van oom Bertie af nie.

Later toe Baber groot genoeg was het hy, tot die plaasvolk se verstommendheid, saam met oom Bertie lande toe gegaan. Eers het hy net in die bakkie gelê, maar later selfs tussen die rye tabakplantjies deur geflop-flop. Volgens wat vertel word, was daardie jaar op Omkeer gewerk soos daar nog nóóit voorheen in menseheugenis opgeteken was nie. Die landbaber was vir die plaasvolk een te veel en hulle het vas geglo dat hy oor enige lyfwegsteek kon uitpraat. Die geskatte oes was mooi en Omkeer se tradisie en heerskappy as die kampioen tabakplaas in die Rustenburg-distrik weereens bevestig. Maar toe tref die noodlot.

Volgens oorleweringe het oom Bertie, soos gewoonlik na sy visvanguitstappie, die betrokke Saterdagmiddag laat op die werf aangedrentel gekom. Hy was asvaal van skok en die onderlip het die heeltyd gebewe. Ta’ Ella het haar beste gedoen om te probeer uitvind wat aangaan, maar die man was stom. Toe sy later merk dat Baber nie by was nie, het sy die ergste vermoed, maar sy had nie die hart om vir oom Bertie uit te vra nie.

Dit was eers drie dae later dat die oom sy spraak herwin het.

“Hy’t verdrink,” het oom Bertie geprewel. “Hy het dit te na aan die water gewaag. Hy’t ingeval en net verdrink.”

Volgens oorlewering was dit een van die donkerste dae wat Omkeer nóg beleef het. Baber was in die Sipresse se koelte, in die familiekerkhof, loop lê maak tussen al die ander geslagte Cronjes. Oom Bertie het ‘n paar woorde oor al Baber se deugde geprewel en toe alleen die graf toegegooi. Die plaas was daarna net nóóit weer dieselfde nie.

Uit: Spekskiet, saamgestel deur Dineke Volschenk
Uitgewer: Lapa, 2008

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ruande ·

helo… het jy dalk nie iets wat ek vir n afrikaanse opdrag kan doen oor suke stories nie???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.