Uittreksel: Storieman

Skoonlief uit Brolloks en Bittergal

Brolloks en Bittergal
Deel 1

Naby die Karoo, tussen die berge en die see, lê die Grasveld, met diep klowe toegegroei van digte bosse. In een van hierdie klowe was ʼn spelonk waarin ʼn aaklige, nare ou ding gewoon het. Jy kon byna nie sê hy was ʼn mens nie.

Sy naam was Brolloks. Hy was ʼn mensvreter en ʼn towenaar. Saam met hom het ʼn nooientjie gewoon. Haar naam was Skoonlief. So lelik en sleg soos hy was, so mooi en goed was sy. Sy was so mooi soos die water as die maan daarop skyn en haar hart was vol liefde vir blomme en diere en kinders.

Toe sy nog klein was, het Brolloks in die nag by haar huis ingebreek en haar mammie en pappie vermoor en haar na sy spelonk gebring, waar hy haar gevange gehou het, totdat sy groot genoeg was om soos ʼn slavin vir hom te werk. Hy het haar só opgepas en met sy toordery vasgehou dat sy nie van hom kon wegvlug nie. Boonop was daardie wêreld maar baie eensaam en die berge en klowe vol wilde diere.

Snags, as Brolloks dink Skoonlief slaap, sit hy sy duiwelse toordery aan die gang. Hy vat ʼn groot swart seeppot en kook allerhande gruwelike goeters daarin deurmekaar. Dorings en distels en brandnetels en bitterappels en slange en skerpioene en spinnekoppe en sulke goed. Dan kom ʼn donker rook uit die pot en dwarrel en draai soos wemelende gedaantes in die spelonk rond. Dan vat ou Brolloks die kieries wat hy vir hom in die bosse sny en steek hulle in die kokende pot en praat ʼn spul snaakse woorde in ʼn taal wat geen mens verstaan nie.

Op dié manier berei hy sy kieries voor, sodat hy met hulle kan toor. Nadat hy hulle gedokter het, steek hy hulle sorgvuldig in die agterste, donkerste hoekie van die spelonk weg, sodat Skoonlief hulle nie in die hande kan kry nie.

Maar dikwels, wanneer ou Brolloks met sy duiwelstreke aan die gang is, hou Skoonlief maar vir haar aan die slaap. Terwyl sy stadig asemhaal, loer sy deur haar wimpers om te sien wat ou Brolloks maak en waar hy sy kieries wegsteek. Naderhand ken sy ook die snaakse toorwoorde uit haar kop, hoewel sy nie weet wat hulle beteken nie.

Toe Skoonlief omtrent twaalf jaar oud is, sit sy weer een oggend alleen in die grot en treur oor haar ma en pa, wat sy byna nie meer kan onthou nie, omdat sy so klein was toe ou Brolloks hulle vermoor het. Toe sy nie meer die eensaamheid van die grot kan verduur nie, sap sy na ʼn riviertjie, waar sy neerval en bitterlik begin huil.

“Wat het ek tog gedoen,” snik sy, “dat ek my jong lewe só moet deurbring? Ek het geen maats nie. Ek het nie ouers nie. Nêrens kry ek ooit ʼn woordjie van liefde nie. Waarom is ek in die wêreld?”

Meteens is dit vir haar asof sy in die orrelsang van die kabbelende water ʼn stem verstaan, wat vir haar sê: “Skoonlief, Skoonlief, jou geluk sal nog kom. Hier waar jy is, is eers werk vir jou.” Die stem troos haar, en haar hart voel soveel ligter dat sy net hier aan die slaap raak.

In die bloedige warm middag staan ʼn uitgespande wa aan die soom van die digte bosse van die Grasveld. Terwyl die osse wei, lê die man en vrou en hul dogtertjie, Kapokkie, onder die koelte van die bome en rus. Kapokkie, wat so genoem word omdat sy so wit soos sneeu is, kyk na haar slapende ouers en besluit om weg te kruip sodat hulle haar kan soek as hulle wakker word. Sy loop om die eerste boom, toe om nog een, kruip deur ʼn tonneltjie in die bosse, en so dwaal sy al verder weg, totdat sy nie weet hoe om weer by die wat uit te kom nie. Hoe meer sy soek, hoe meer verdwaal sy.

Meteens bar ʼn nare ding, iets tussen ʼn mens en ʼn orangoetang, tussen die bome uit, gryp haar, bind haar mond toe en stap met haar oor sy skouer weg. Dit is niemand anders nie as ou Brolloks wat Kapokkie natuurlik wil braai en eet.

Toe hy by sy spelonk kom en sien dat Skoonlief nie daar is nie, gooi hy vir Kapokkie neer, bind haar styf vas en stap briesend buitentoe. “Waar is jy, meisiekind? Kom hier of ek sny jou aan stukke!” bulder hy. Skoonlief, wat steeds langs die riviertjie slaap, word wakker van die geskreeu, en haas haar dadelik na die grot. Maar hy loop verder om haar te soek, en toe sy by die grot kom, vind sy net die arme Kapokkie daar.

Sy weet sy moet die meisietjie help, en sy mou gou maak, want sy hoor reeds hoe Brolloks droë takke vir vuurhout breek. Haar hart klop wild, want sy is baie bang vir Brolloks, maar sy gryp dadelik een van sy weggesteekte kieries, hou dit teen Kapokkie se voorkop en sê van die toorwoorde op: “Lammakom, gollerol, bafbaf, ietela, ietela. Tooilador, bef-bef-bef, soela. Word vir ʼn uur ʼn skoenlapper!”

En meteens vlieg die lieflikste, grootste skoenlapper wat sy nog gesien het, om haar rond. Die vlerke is só wyd soos ʼn mens jou twee arms kan uitstrek en glinster met diamante en robyne en saffiere en juwele in die kleure van die reënboog.

En terwyl die skoenlapper by die grot uitvlieg, hoog die lug in, hoor Skoonlief hoe die vlerke soos ʼn fluistering suis: “Dankie, Skoonlief! Dankie, Skoonlief!” En terselfdertyd word die kabbeling van die riviertjie al harder en Skoonlief hoor die water sing: “Sien jy, Skoonlief! Hier was werk vir jou. Wees nou gelukkig, jy het ʼn ander mens gelukkig gemaak!” En toe voel Skoonlief gelukkig.

Maar sy weet dat sy moet maak dat sy wegkom: As Brolloks my hier kry, sal hy raai dat dit ek was wat die kind laat ontsnap het. Haastig bêre sy weer die kierie en op haar tone hardloop sy by die grot uit, die skemeraand en die donker bosse in.

Skaars het sy agter die bome verdwyn, of Brolloks daag op met ʼn drag hout en ʼn oop mes. Toe hy sien dat Kapokkie verdwyn het, kry hy byna die stuipe van teleurstelling en woede. Maar hy verdink glad nie vir Skoonlief nie. Hy dink dit is die werk van Bittergal, ʼn towenaar aan die oorkant van die berge, wat alewig teen hom toor. En hy vloek ou Bittergal en trap wild rond en gaan soos ʼn wilde dier te kere.

Intussen het Kapokkie se ma en pa haar tevergeefs gesoek, totdat dit donker geword het. Nou moet hulle maar tot die volgende oggend wag. In die wa lê Kapokkie se ma en huil bitterlik. Haar man probeer haar troos: “Ons sal haar môre kry, my liefste vrou.” Maar sy eie hart is baie onrustig. Terwyl hulle praat, hoor hulle ʼn sagte tik-tik-tik buite teen die waseil, maar hulle is te hartseer om hulle veel hieraan te steur. Maar die tik-tik-tik word hoe langer hoe harder, totdat dit kompleet klink nes ʼn mens wat klop.

“Maak tog maar die klap van die seil oop en kyk wat dit is,” sê die vrou.

Die man skuif die seil opsy en ʼn allemintige skoenlapper kom ingevlieg. Só ʼn lieflike ding het hulle nog nooit gesien nie! Die skoenlapper gaan aan die kop van hul bed sit, op die man se kussing, en in die lanternlig in die eenvoudige wa blink die vlerke van juwele mooier as enige koning se kroon. Terwyl Kapokkie se ouers verwonderd na die pragtige skoenlapper staar, is die uur wat Skoonlief voorgestel het, meteens om, en hul dogtertjie sit voor hulle op die kussing. En sy was vir hulle baie, baie mooier as die skoenlapper met diamantvlerke.

Deel 2, 3 en 4 van Brolloks en Bittergal is beskikbaar in Storieman: Omnibus 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Mel ·

Goeiste , maar dis ‘n bloeddorstige, onstellende storie. Gaan definitief nie hierdie vir my kinders lees nie. Skoonlief gesteel…haar ouers vermoor…hou haar as slavin aan…klink ‘n bietjie na ‘n pedofiel… sies.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.