Uittreksel uit: Bloedsusters

’n Toneel kan enige iets van een uur af neem om skoon te maak. Maar hulle het ook al veertig uur (saam met ander agentskappe) aan ’n toneel gewerk.

Hulle probeer wel die omgewing in ag neem waar hulle ook al kan. “Daar het nuwe wetgewing deurgekom waaroor ons regtig bly is, al maak dit ons werk moeiliker. ’n Mens mag sekere goed nie meer in ’n toilet afspoel nie, want dan beland daardie kieme net weer in die stelsel waaruit ons drinkwater kom,” verduidelik Eileen. “Dit word wel weer gesuiwer, maar weet jy watter kieme bly agter in ons drinkwater? Dis noodsaaklik dat ons almal ons deel doen om die waterbronne te bewaar. En elke bietjie help.”

Wat industriële ongelukke betref, het hulle al grusame goed skoongemaak. Van ’n man wat onder ’n motorhyser in ’n motorwerkswinkel beland en doodgedruk is, tot ’n man wat onder ’n grondverskuiwingsmasjien se bandwiele (tracks) beland het.

“Eintlik het hy nie in die ware sin van die woord onder dit beland nie. Hy het daarop gelê lê en slaap tydens ’n middagrustyd, en die operateur was nie daarvan bewus nie. Toe die operateur terugklim en die masjien aanskakel en begin ry, kon hy natuurlik nie die man se gille hoor nie. Die arme ou is eenvoudig onder die wiele ingevoer. Ons moes hom letterlik tussen die skakels van daardie metaalbande uitkrap met penne,” onthou Roelien.

Hulle moes ook al gaan skoonmaak in ’n industriële wassery nadat ’n vrou se hand in die stoomroller waarmee goed gestryk word, beland het en heeltemal weggebrand het.

’n Ander keer het ’n vurkhyser letterlik deur iemand gesteek wat in ’n kartondoos in ’n pakstoor lê en slaap het. En dan was daar die arme ongelukkige man wat uit ’n fabriek se dak geval en sy liggaam letterlik gehalveer het op ’n staalplaat. Dit, onthou die susters, was een van die grusaamste tonele ooit. “Hier lê die linkerhelfte, daar die regterhelfte, met binnegoed wat uitpeul,” vertel Eileen.

Hulle verwyder ook die karkasse van honde wat vergiftig is. Hulle probeer om die publiek in te lig oor die gevare van Two Step, oftewel Aldicarb. Dié landbougif is berug daarvoor dat dit so gou werk dat ’n hond skaars twee treë kan gee voor hy dood neerslaan. “Mense besef dit nie, maar Aldicarb word deur jou vel geabsorbeer as jy aan daardie hond raak. Die regte maatreëls moet toegepas word om te keer dat die gif verder versprei. Die plek waar hulle gekry is, moet gedekontamineer word, en die karkas veras word. Jy kan nie so ’n hond in jou tuin begrawe nie, want die gif sal in die grond beland.”

“Ons verwyder soms tot vyftig honde per maand. Dit werk in sulke siklusse. As jy een oproep uit Garsfontein kry, kan jy maar weet die volgende paar weke gaan daar nog baie uit dieselfde area kom. Die skurke maak mos ’n woonbuurt skoon van honde voordat hulle toeslaan.”

Vir meer inligting oor Bloedsusters klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

evelyn viviers ·

ek het die boek, Bloedsusters gelees, en ek haal my hoed af vir die werk wat julle doen. dit sit nie in enige ou se broek om dit te doen nie. julle maak dit soveel makliker vir die wat agterbly.
dankie vir mense soos julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.