Uittreksel uit: Blou sjokolade

deur christien neser

Elle se viooltas kap liggies teen haar bobeen. Sy is laat vir die oefening en sy draf so vinnig as wat haar skoolskoene dit toelaat. Sarkoff het ʼn buitengewone oefening vir vanmiddag gereël, sommer per SMS. Hulle eksentrieke Russiese orkesdirigent het nog nie voorheen so iets gedoen nie. Sy wonder vaagweg wat so belangrik is. Seker reëlings vir hulle toer. Al vier buurskole – Gravitas-seunskool, Gravitas-meisieskool, St. Dominique’s en St. Stephen’s – speel in een groot orkes. Dit maak seker sin om almal weer bymekaar te kry sodat hulle die orkestoer kan finaliseer, dink Elle gelukkig.

Sy sien haar skaduwee op die lang muur wat na St. Dominique’s se groot hekke lei. Haar bos krulhare wapper soos linte in die wind en haar skoolserp waai soos ʼn vaandel agterna. Haar bene lyk verspot lank soos wat die laatmiddagson die skadu’s rek.

“Hei, ek lyk soos ʼn supermodel!” juig sy en skree haar nuutste Franse uitroep: “Formidable!” Sy dink dit beteken iets soos supermegawonderlik.

Sy is juis laat oor sy eers ekstra klas by juffrou Du Plessis gehad het. Dis haar Franse onnie en nommer een op haar lysie gunstelinge by die skool. Sy is steeds myle agter die res van die klas. Sy kan darem al vir Alex beïndruk met ʼn Franse SMS so nou en dan.

Vandag sʼn was: Tu es mon petit cochon. Gelukkig het hy nie ʼn idee dat dit “jy is my klein varkie” beteken nie. Sy lag sommer hardop. Vanmiddag voel sy só dolgelukkig, sy’t sommer haar hele pak Fritos vir ʼn straatbedelaar gegee. Sy glimlag vir die motors wat verbyry, waai vir wildvreemde ouens op fietse. Sy kry almal jammer wat nie vanmiddag Elle-Belle is nie.

Want:
1. Sy is amptelik verlief.
2. Sy het vrede gemaak met Gravitas, haar nuwe skool.
3. Sy het vir Refilwe Kgabo as kamermaat, wat 24/7 verrassings inhou.
4. Sy is steeds deel van Trippelnell, haar Academica-pelle. Dis nou Estelle, Chanell en Zanelle, haar vriendinne van haar ou skool – of Stellie, Nellie en Zellie as hulle lekker kuier!
5. Sy speel in ʼn briljante orkes.
6. En die beste van alles, sy gaan binnekort oorsee!

Jippie! Maak gereed, Frankryk, hier kom Elle-Belle! Sy lê elke aand met haar Franse fraseboekie en maak vir Refi mal deur die sinne hardop te oefen. Sy wil die taal góói as hulle in Parys land. Sy wil so local voel soos ʼn omie met sy baret op sy kop en sy baguette onder sy arm.

By St. Dominique’s se hek kry sy vir Ryan Weiss. Hy is die lang, lenige tjellospeler van St. Stephen’s en hy’s natgesweet in sy rugbysweetpak. Hy sit skuins voor haar in die orkes en tssst – hy’s vuurwarm! Elle kan nie help om te sien met hoeveel gemak hy sy tjello dra nie. Mmm, ʼn muso-man met spiere, glip dit deur haar brein. As Alex nie in die prentjie was nie…

“Howzit?” vra hy vriendelik en draf die laaste ent saam met haar saal toe.

Vreemd genoeg hoor hulle nie die gewone orkesklanke van binne af nie. Toe hulle uitasem agter op die verhoog storm, sien Elle vir Sarkoff en mevrou Bender, die hoof van Gravitas-meisieskool, voor die orkes staan. Die hoof van St. Dominique’s se meisieskool, Mrs MacFarlane, staan eenkant met ʼn stroewe gesit.

Elle frons. Dit is vreemd. Wat op aarde maak Mrs Mac en mevrou Bender by ʼn orkesoefening? Nêrens twêng ʼn snaar of rommel ʼn trom nie. Dis asof almal stokstyf gevries het.

“Oops!” fluister Ryan. “Talk about bad timing. Mrs Mac is about to trip over her lip.”

Hulle moet tot heel voor stap en oor ʼn klomp voete val om hulle plekke tussen die strykers in te neem.

Elle sien hoe ʼn spiertjie in Bender se wang spring.

“Ek is jammer ek is laat, Mevrou…” begin sy verskoning maak.

Gravitas se hoof het gewoonlik baie min geduld met ʼn laatkommery, maar vandag waai sy net Elle se verskoning met die hand weg.

“Are we all present? Almal hier?” Dan knik sy vir Sarkoff.

Elle kan sien hoe die arme dirigent sweet. Sy toutjieshare klou aan sy voorkop vas. Hy maak sy keel eers ʼn paar keer skoon en toe begin hy stotterend:

“My dear ladeez and gentlemens, I have not go ze good news.” Hy kyk smekend na mevrou Bender se kant toe. Dié knik net vir hom om aan te gaan. “I am so very, very, very sorry to inform you that, to tell you tah…”

“That the orchestra tour to France had to be cancelled,” maak Bender sy sin klaar.

Dis doodstil in die saal, so stil dat Elle die duiwe se pootjies op die saal se dak kan hoor krap. Sy kon nie reg gehoor het nie! Sy draai na Ryan. Hy staar net stip na Sarkoff, sy gesig een fronsende vraagteken.

Toe Bender sien dat Sarkoff se taal hom heeltemal in die steek laat, neem sy die pratery oor. Tussen haar en Mrs MacFarlane het hulle skaars tien kort sinne nodig om die orkeslede se Franse droomtoer te verpletter…

Vir meer inligting oor Blou sjokolade klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.