Uittreksel uit Groete, Fran

Die engele om ons (ʼn ware verhaal)

Aan sy lyf kan jy sien dat hy ʼn moederhand kort. Nie brandmaer nie, maar dunner as ʼn gewone tienerseun. Sy klere is nie perfek gestryk nie, maar dit is skoon. Na skool, loop hy dorp se kant toe by die hek uit. Sy wiskunde juffrou loop verby hom op pad na haar kar:

“Moenie vergeet om jou huiswerk te doen nie, Eric.”

“Ek sal nie, juffrou!” antwoord hy en ʼn ry spierwit tande verlig sy donker gesig.

Die juffrou talm by haar kar en draai dan om.

“Kan ek jou iewers gaan aflaai?” vra sy sonder om te weet hoekom. Haar aanbod vang hom effens onkant, maar hy stem in – net-nou dink sy hy is ongeskik. Hy beduie, straat op, straat af, om die hoek en tot op die draai. Sy stop voor ʼn kantoor en wonder wat op aarde die kind daar gaan doen? Maar sy bedwing haar nuuskierigheid, groet hom en trek weg.

Eric stap selfversekerd by die sydeur in. Hy pak sy boeke uit op tafeltjie in die hoek en haal ʼn stel skoon klere uit sy sak. Dan stap hy in die gang af, badkamer toe. Hy sit sy skoon klere netjies op ʼn stoel voor die stort en stroop die skoolklere van sy lyf af. Dié land op ʼn bondeltjie onder die stoel en dan trek hy die stortgordyn agter hom toe.

Die warm water spuit oor sy lyf. Hy was sy hare so woes dat bolle skuim teen hom afdrup. Lekker, dink hy, terwyl hy sy hele lyf met ʼn koekie seep bydam. Daarna trek hy skoon aan en gooi sy skoolklere, gister se klere en die sweetpak, waarin hy slaap, in die wasgoedmasjien wat ʼn entjie verder staan. Hy weet presies hoeveel seeppoeier om in te gooi en watter knoppies om te druk.

Silwerskoon gaan groet hy die vrou in die kombuis en sy gee vir hom ʼn bord kos. In plaas daarvan om gulsig, soos ʼn honger straatkind, weg te val, gaan sit hy eers met sy oë toe:

“Dankie, Liewe Jesus, vir hierdie bord kos. En vir die shower en die tannies wat al hierdie goed vir ons doen. Bless hulle asseblief. Amen.”

Die vrou in die kombuis kry trane in haar oë.

Eric sit doodstil by sy tafeltjie in die hoek, hy maak seker dat hy elke bietjie huiswerk doen. Dan is dit vyfuur, en hy moet groet. Saam met ʼn groepie ander kinders wat ook skoon en versadig is, kies hulle koers na ʼn skuilplek vir die nag.

Eric sien al klaar uit na die volgende middag se stort en bord kos. In een deel van daardie kantoor het die mense vir hulle klomp straatkinders ʼn stukkie hemel geskep, waar hulle kan eet, was, en skoolwerk doen.

Die volgende dag na skool, keer sy wiskunde-juffrou hom weer voor: “Ek het iets vir jou,” sê sy en roep hom na haar motor toe. “Kom ek gaan laai dit vir jou af.”

Dan maak sy vir hom die passasierdeur oop en ry dieselfde paadjie as die vorige dag. Sy stop en maak haar bagasiebak oop. Sy gee twee sakke vir Eric aan. Daar is wasgoedpoeier, seep en ʼn paar pakkies sop in.

“Gee dit vir die engele wat daar binne werk,” sê sy dan vir hom.

“Dankie, juffrou,” antwoord Eric haar, “ek sal.”

Wanneer hy die pakkies vir die vrou in die kombuis gee, sê sy dankie, die juffrou het gister gebel. “Sy wou weet wat jy hier kom doen, en ek het haar vertel, toe sê sy sy wil graag help, want jy is die slimste kind wat sy ken!” Die vrou knipoog.

En Eric lag van oor tot oor.

Lees meer oor die boek hier of klik hier om nog ‘n uittreksel te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.