Uittreksel uit: Ons was daar

Voorwoord deur  generaal Jannie Geldenhuys

Perspektief op geskiedenis en waarheid 

Geskiedkundige Korrektheid is dikwels op die spel: Dit waarin mense glo het soms weinig te make met die waarheid en feite beteken dikwels niks nie. Wanneer sekere inligting in ’n gegewe tydperk nie gewild is nie, is dit nie in aanvraag nie en dateer dan vinnig. Mense glo wat hulle graag wíl glo, nie noodwendig as gevolg van die feite nie maar dikwels ten spyte daarvan. Hulle sal feite wat neig om hulle eie oortuigings teëstaan of uitdaag, te minag en verontagsaam. So raak die feite vergete, en dit wat mense glo, bly vassteek en word die nuwe gewilde “waarhede”. Die gevaar van hierdie proses is dat, wanneer leuens genoeg herhaal word, dit inderwaarheid die “geskiedenis” van die onskuldiges word.

Inligting en feite is dikwels vryelik en in oormaat beskikbaar. Ongelukkig lees baie mense nie boeke, tydskrifte of koerante nie, of hulle lees dit selektief; dit geld ook ander elemente van die media soos die radio en televisie. Mense vra my dikwels: “Maar hoekom het julle ons nie vertel van dit of dat rakende die Bosoorlog nie?” En tog was sodanige inligting, met min uitsonderings, deur radio, televisie, koerante en tydskrifte bekendgemaak. Andersins was inligting te vinde in genoeg betroubare boeke, geskryf deur gerespekteerde en geloofwaardige skrywers soos Chester Crocker, Helmoed-Römer Heitman en Willem Steenkamp.

Die meeste mense onthou dus net die deel van die geskiedenis wat hulle pas – en dan is daar die VHT-verskynsel. Die probleem met geskiedenis is dat dit in die verlede gebeur het, in ’n tydperk met sy eie ekonomiese, politieke en sosiale traumas en sindrome. Maar geskiedenis word geskryf in die skrywer se huidige tyd, met daardie tyd se eie anderse ekonomiese, politieke en sosiale traumas en sindrome van die dag. Voorts word geskrewe geskiedenis in die toekoms gelees, met die verskillende tendense wat die massas dan weer op daardie tyd aanhang. En dis in orde so, maar beteken eintlik dat dit menslik bykans onmoontlik is om geskiedenis gelyklopend korrek te kan skryf, lees en verál, te interpreteer, vir ’n juiste perspektief.

In die Suid-Afrika van 2010 het baie veterane begin om hulle eie ondervindings en weergawes van die Bosoorlog neer te skryf. Dis hoog tyd, want die grootste gros van die populêre media was vir baie lank reeds oordonder met die weergawes van diegene wat negatief deur die Suid-Afrikaanse Weermag[1] se oorwinnings in dié betrokke oorlogtyd geraak is – en die geskiedenis toe óf verdraai óf blameer het.

Die naaste wat u aan enige waarheid kan kom, bly steeds om dit aan te hoor van die mense wat daardie geskiedenis gemaak en meegemaak het in die tyd en atmosfeer toe dit gebeur het.

Dis dieselfde mense wat die gebeurde in herinnering roep in die atmosfeer van die nadraai, en presies ook dieselfde mense wat dit hier in hul verhale bevestig in die omgewing en sindrome van die huidige tyd – inderdaad Geskiedkundige Korrektheid. 

Die skryf van hierdie boek

Hierdie boek is deur ’n groot aantal individue, vanaf soldatevlak tot by dié van ’n generaal, geskryf. Elkeen vertel sy storie in bekende militêre terminologie of op sy eie besondere trant. Dis nie maar net nog ’n spul ineengerygte Afrika-Bosoorlogverhale in ’n boekomslag nie. Die soldate se vertellings verskil – van die infanterieskutter tot kanonnier, van vlieënier tot mediese ordonnans en logistikus tot die spesialis-spoorsnyer.

Elkeen van die skrywers was ’n werklike rolspeler of iemand wat die verantwoordelikheid moes dra vir dit wat hy of sy in die storie vertel.

Al die bydraes is tot ’n geheel verweef om die werklike verloop van die oorlog weer te gee. Dié boek gaan oor die globale Koue Oorlog-era in Suider-Afrika in die algemeen, maar ook oor die warmer episodes, soos spesifiek in Namibië[2] en Angola, met die fokus op die beslissende operasies vanaf omgeveer 1985 tot op 10 April 1989.

Min het hierdie vegters besef dat die impak van hulle individuele en gesamentlike bydraes sulke verreikende gevolge sou hê. Die leser mag ontdek dat die infanteris in die bos dalk nooit kon besef het dat sy rol by die deurslaggewende Lombastreek-gevegte in Angola, tot die uiteindelike val van die Berlynse Muur bygedra het nie. Die individuele vlieënier sou destyds dalk nooit kon besef het dat hy een was van ’n groep wat konvensionele konsepte van lug-tot-grond-aanvalle ná sononder, verander het nie. Die kanonniers kon dalk nooit gedink het dat hulle met hul ultramodêrne offensiewe aanwending van artillerie die wêreld verras het nie, en die infanterievegters in pantservoertuie ook nie watter inisiatief en waagmoed hul aan die dag gelê het, om vyandelike tenks met hulle gewone gevegs-Ratels op wiele aan te durf nie.

Ongelukkig was dit onmoontlik om almal wat ons sou wou betrek by hierdie poging, te laat deelneem. Meer as twintig jaar het verloop en tot ons leedwese, het sommige van die sleutelpersone al heengegaan: Mense soos genl. Kat Liebenberg, hoof van die leër en later ook die weermag, gedurende die laat tagtiger- en negentigerjare, so ook kol. Deon Ferreira, operasionele bevelvoerende offisier van die grondmagte in die suidooste van Angola, gedurende die middel tot laat tagtigerjare.

Daar was ook ander met wie ons nie kontak kon bewerkstellig, of wat nie beskikbaar was nie – mense wat hulself én Suid-Afrika tans met hulle kennis, vaardighede en dapperheid in oorlogs- en vredesoperasies regoor die wêreld onderskei, in lande soos Afghanistan, Irak en Sentraal-Afrika. Gelukkig het meer as genoeg mense vrywillig bydraes gelewer om van hierdie boek ’n unieke, geloofwaardige en baie boeiende leeservaring te maak.

 Algemene konsep  

Die resultaat van hierdie manuskrip is uiteindelik ’n amperse chronologiese verloop van ’n menigte stories deur baie skrywers, met geen spesifieke individuele skryfstyl of motief nie. Insgelyks is die redigeerders en vertalers ook stip riglyne gegee om nie aan inhoud van bydraes te torring nie, en met oordeelkundige taalversorging te verseker dat ’n unieke skryfstyl en idiomatiese gebruik, nie ingeboet word nie.

Natuurlik het die meeste van hierdie skrywers nie die vaagste benul gehad van die waaroms en waarvoors, of oorsake en gevolge nie. Wat wel in so ’n proses verlore kan gaan, is kontinuïteit en ’n logiese vloei. Om hiervoor te kompenseer en die teks meer lesersvriendelik te skaaf, is daar plek-plek ’n paar stukkies bindteks tussenin ingewerk, geskryf deur mense in posisies van verantwoordelikheid, hoewel nie altyd fisiese doeners nie en dié voorwoord is ook een so ’n stukkie.

Deel I (1939-45 tot 1986) weerspieël die toepaslike agtergrondsgebeure vanaf die Tweede Wêreldoorlog tot en met die meer opsigtelike begin van die “warm voorvalle” van die Koue Oorlog-era in Suider-Afrika, veral in Angola, en die insurgensie in Suidwes-Afrika.

Deel II (1986 tot 1988) bestaan uit ’n reeks stories oor die toppunt van aksie gedurende die warm tydperk van die Koue Oorlog-era in die suidooste van Angola, toe MPLA[3]– en FAPLA[4]-magte, ondersteun deur die Russe[5] en Kubane, hulle daarop toegespits het om Jonas Savimbi uit die weg te ruim en sy UNITA[6]-magte by Jamba uit te wis.

Deel III (1988 tot 1989) skets die daaropvolgende gebeure in die suidweste van Angola, met die klap van die laaste skote tussen Kubane en Suid-Afrikaners en die algehele onttrekking van alle vreemde magte uit Angola.

Deel IV (1989 tot die hede) het in die algemeen te make met die laaste insidente en gebeure van ’n militante aard in die Koue Oorlog-era in Suider-Afrika.

Deel V, anders as die eerste vier dele wat amper uitsluitlik die gebeure ín die  oorlogsarena aan u bring, fokus hierdie deel op die nie-fisiese politieke, sielkundige en propagandistiese vuishoue en toutrekkery van die oorlog.

En daarna bring ons ’n sakkie vol pêrels en verrassings.

Ek vertrou dat u ’n gesonde aptyt vir die res van hierdie besondere boek sal gewaar na die voorsmakie van die sensasionele Operasie Coolidge II by: The Bridge on the River Cuito

 


[1] Die afkorting SAW sal meestal in hierdie teks gebruik word.

[2] Voorheen Suidwes-Afrika: In hierdie teks sal skrwyers die name SWA, SWA/Namibië en Namibië, gebruik volgens die populêre vorm
van die dag.

[3] MPLA – Politieke party: “Popular Movement for the Liberation of Angola”.

[4] FAPLA – Militêre gewapende vleuel van die MPLA-politieke party: “Popular Armed Forces for the Liberation of Angola”. Die
woord Fapla sal vervolgens gebruik word.

[5] Russe en Sowjette word in die algemeen en deur skrywers van hierdie boek as Russe bestempel.

[6] UNITA – Nasionale Unie vir die Algehele Onafhanklikheid van Angola. Een van drie Angolese politieke partye na die Portugese bewind. Die woord Unita sal deurlopend in hierdie teks gebruik word.

 

Hoofstuk 1

Hors-d’œuvre

The Bridge on the River Cuito

Operasie Coolidge II – 4 Verkenningsregiment

Inleiding: Jannie Geldenhuys

Coolidge II was die Suid-Afrikaanse operasie wat die brug oor die Cuitorivier moes vernietig. Die doel was om die offensief van die Sowjet- en Kubaansondersteunde Fapla-magte te verhinder en die Unita-vestings in Mavinga, en uiteindelik in Jamba verder oos, te verower. ʼn Span van 4 Verkenningsregiment (4 Recce) het die finale fase van die operasie op 25 Augustus 1987 onderneem, in opvolging van voorbereidingsverkenning wat hul in Mei vroeër dieselfde jaar uitgevoer het. ʼn Lid van die 4 Recce-span, Anton Beukman, vertel hier sy deel van die verhaal.

5 Verkenningsregiment (5 Recce) het ʼn span voorsien om met die onttrekking aan die einde van die operasie bystand te verleen. Dié span was onder leiding van Renier Hugo en hy bring ook sy deel van die storie aan u.

 episode 1

Anton Beukman

Coolidge 11 is voorafgegaan deur ʼn verkenning op die brug by Cuito gedurende Mei 1987. 4 Recce (4 Verkenningsregiment) is toe getaak om die moontlike vernietiging van die brug te ondersoek, aangesien dit die hoof aanvullingsroete van die Fapla/Kubaanse magte aan die oostekant van die rivier was. Maddies en ek het die verkenning, wat baie kilometers noord van die brug by Cuito Cuanavale
begin het, uitgevoer. Ons het rivieraf geroei met Italiaanse opblaasbare kano’s. Die kano’s was nogal moelik om te vernietig en het ook in die proses baie lawaai gemaak. Ons het voorbereidings getref om nader aan die brug te swem. Ons het naby die brug opgelê en was besig met observasie toe die RSA-magte aan die oostekant van die rivier op ʼn voorafbepaalde tyd die brug begin bestook het om sodoende die wagte se aandag af te trek.

Die plan het goed gewerk en ons kon nader beweeg sodat ons beter kon sien. Op een tydstip het dit aan “Guy Fawkes”-nag herinner soos die RSA en Fapla/Kubaanse artillerie se kartetse oor ons gevlieg het. Maddies en ek het genoegsame tyd gehad om die verkenning te doen, en na voltooiing van die verkenning het ons suid en stroomaf met die sterk stroom geswem.

ʼn Paar uur later het Rassie en die ander ons opgetel en na die RV (rendezvous) geneem. Die onttrekking het sonder voorval plaasgevind en ons was ʼn paar dae later terug by die eenheid. Die nabetragting het plaasgevind en die  beplanning vir Coolidge 11 het begin.

Die volgende was sommige aspekte wat tydens die beplanning aandag moes kry:

– Die konsentrasie van Fapla/Kubaanse magte in en om Cuito Cuanavale – aanvanklike ontplooiing en onttrekking moes sover noord en suid van die brug as moontlik plaasvind.

– Die metodes van infiltreer en onttrek – helikopters, te voet, in kajakke, swem en duik.

– Die ladings en tydmeganismes wat benodig is om die kajakke te vernietig nadat dit versteek is.

– Die lading wat benodig is (en die metode van plasing) om die staalkabel wat die veer/vragboot oor die rivier trek, te vernietig.

– Die aantal en grootte van die ladings wat aan op die pilare geplaas moet word om die brug te laat val – dit sou ook die grootte van die duikspan bepaal – en die metode van plasing.

– Hoe om die duikers aan die pilare te “anker”, aangesien dit moeilik gaan wees om die ladings te plaas as gevolg van die sterk stroom – majoor Tuffy Joubert het met baie goeie voorstelle na vore gekom, onder andere metaalkurktrekkers wat in die sanderige rivierbodem ingeskroef kon word, wat die duiker sou toelaat om ʼn tou wat aan die skroef vas was, uit te rol totdat hy by die teiken is.

– Die finale besluit was egter ʼn tou, naastenby die lengte van die brug, op ʼn rol. Die tou sou dan net voor die brug uitgerol word, en die buddy-pare (tweemanspanne) sou aan die tou vashou totdat die teiken bereik word. Dan word die punte  van die tou aan die pilare vasgemaak.

– Krokodille – hoewel ons almal geweet het die rivier is vol krokodille het niemand ʼn idee gehad oor hoe ons dié probleem kon oplos nie. Pungi-stokke (ʼn metalstaaf met ʼn haelpatroon vooraan wat afgaan indien dit teen iets gedruk word) is oorweeg, maar uiteindelik is daar besluit op “graspol in die hol” (met ander woorde, waag dit maar, en hoop dat jy nie ongelukkig is en aangeval word nie).

Teen laat Augustus 1987 was daar reeds ʼn paar Fapla/Kubaanse brigades aan die oostekant van die Cuito-brug, en soos voorheen genoem, was dit hulle grootste aanvullingsroete vanaf Cuito Cuanavale, aan die westekant van die brug. Dit is beskou as ʼn goeie tyd om die brug te probeer vernietig en sodoende hulle aanvulling te ontwrig.

Opdragte is uitgereik en die 12-man duikspan met hulle steunelemente is na Fort Foot in Rundu ontplooi. Ons het ‘n ent met die Diricorivier in opblaasbare bote opgevaar tot ʼn stelling waar ons ʼn paar dae nagopleiding op die die rivier gedoen het – dit was nie baie gerustellend om daardie rooi krokodilogies op die oewer te sien nie, en wanneer ons geduik het, het elkeen van ons seker gemaak dat
hy sy “buddy” op ʼn kort lyn het en dat sy duikmes byderhand is.

24 en 25 Augustus 1987. Ons het in helikopters, per voertuig en te voet tot ongeveer 70km noord van Cuito Cuanavale ontplooi.
Terselfdertyd het Julius Engelbrecht en ons onttrekkingspan ongeveer 20km suid van die brug ontplooi – hulle was getaak om ʼn tou met ʼn Cyalume-lig daaraan oor die rivier te span wat die RV vir die duikers sou aandui.

Unita-magte is aan albei groepe toegevoeg, maar ons het ook onskatbare ondersteuning gekry van lede van 5 Recce (5 Verkenningsregiment), wat reeds al ʼn paar maande in klein spanne in die gebeid ontplooi is, en die terrein goed geken het – Renier Hugo
en Jim MacGuire was veral prominent, en Renier se weergawe van die gebeure word ook by hierdie dokument ingesluit.

25 en 26 Augustus 1987. Ons het die beginpunt vroegmiddag van 25 Augustus bereik. Die kêrels het gerus, en net voor laaste lig is die kajakke aanmekaargesit. Finale uitrustinginspeksie is uitgevoer en ʼn finale voorligting word aangebied. Teen laaste lig het Fred
Wilke (spanleier) die 12-man span opdrag gegee om in die kajakke te klim en na die brug te vertrek, met ek en Les Wessels as navigators.

Om deur die rietomringde kanale, wat soms baie nou was, te roei en navigeer was nie maklik nie. Maar uiteindelik het ons ʼn plek bereik wat geskik was vir die versteking van die kajakke en ons voorbereiding vir die duik/swem brug, toe. Die kajakke is aanmekaar vasgemaak en aan die riete geanker. Die ladings, tydmeganismes en hulpladings vir elke kajak is opgestel en bewapen, en na ʼn kort spanpraatjie het ons vertrek.

Elke duiker het volledige duikuitrusting aangehad, insluitende suurstof “re-breather”-stelle – vir ooglopende redes – asook ʼn rugsak met die plofladings vir die brug se pilare. Ek is nie seker wie die kommunikasie-uitrusting en die rol tou gehad het nie, maar ek het egter ook ʼn klein ploflading aan my linkerarm gehad wat op die vrag/veerboot se kabel geplant moes word.

“Neutraaldrywend” het ons vir ongeveer twee uur op die oppervlakte geswem, tot by ʼn punt wat volgens my skatting ongeveer 900 meter van die brug af was. Ons was veronderstel om hier die tou te ontplooi waaraan die “buddy”-pare in ʼn linie moes vashou soos ons die brug nader. Ek was egter verkeerd – ons was nog ongeveer 1 500 meter van die brug af. Die sterk stroom en die noodsaaklikheid dat ons so na as moontlik aan die skaduwees van die westelike oewer moet beweeg, het dit onmoontlik gemaak om die tou te beheer, en ons het toe van hom ontslae geraak. Geen verskoning nie, maar ek glo tot vandag toe nog dat dit eintlik ʼn bedekte seën was, aangesien daar doringdraad en ander hindernisse nader aan die brug was wat ʼn mate van chaos kon veroorsaak het indien die tou daarin verstrengel geraak het. Dit was lank na middernag voordat ons die brug uiteindelik kon sien. Ons het gestop, geluister en waargeneem, en toe Fred met die situasie gelukkig was het ons ons gereedgemaak om te duik. Die “buddy”-pare het in enkelgelid wegbeweeg, en toe hulle naby die brug was, in linie versprei en op hulle aangewese stel pilare gemik. Teen dié tyd was ek en Les reeds naby die veer/vragboot se kabel. Ek het die lading aan my arm bewapen, maar die kabel was te hoog bokant die water en ek kon dit nie bykom nie. Ek het toe maar die lading weer aan my arm vasgemaak en ons het vir die opblaas van die pilare begin voorberei.

Die stroom het ons vinnig na die pilare gespoel. Ek het net-net daarin geslaag om ʼn houvas te kry en vas te klou, en kon sien hoe Les soos ʼn seekat aan sy pilaar vashang. Ons het vir ʼn paar sekondes só vasgeklou en toe ons die ladings begin plaas – wat dit vereis het, was dat ons teen die pilare moes opbeweeg sodat ons die presiese afstand vanaf die oppervlakte kon bepaal, die rugsak afhaal, dit teen die pilaar plaas en dit dan vasbind. Dit alles terwyl die stroom poog om jou, jou duikbril en mondstuk van die pilaar af te spoel.

Op daardie oomblik bars alle hel los. Een van die “buddy”-pare het aan die westekant vlakwater ervaar en ʼn wag op die brug het hulle raakgesien. Hy skreeu vir sy kamerade en open vuur, en vir die volgende paar minute skiet hulle onophoudelik en gooi handgranate
in die water. Om te sê dat dit onaangenaam was, sou die onderbeklemtoning van die jaar wees.

Hier is jy besig om ʼn lading van ongeveer 15- tot 20kg plofstof teen ‘n pilaar te plaas en te bewapen terwyl granate oorverdowende skokgolwe rondom jou veroorsaak. Fred is aan sy linkerarm verwond, en Phil het hom na die RV geneem – Gerrie en Pieter, wat in
die vlakwater was, het na dieper water uitgewyk, ʼn boomstomp naby die brug gevind en hulle ladings geplaas voordat hul ook RV toe uitgewyk het. Smiley, Henk, Johan, Manuel, Benji en Koos het ook hulle ladings geplaas en padgegee.

Die sterk stroom het vir my en Les vertraag met die plasing van ons ladings, en toe ons uiteindelik klaar was, was die stroom nog nie met ons klaar nie. Toe ons die pilare los, is ons aan die oostekant in ʼn maalkolk ingetrek. Nadat ons uiteindelik uit die maalstroom ontsnap, en ʼn paar honderd meter van die brug af beweeg het, besef ek dat die lading wat vir die oorhoofse veer/vragbootkabel bedoel
was, nog steeds aan my linkerarm sit. Ek hoef nie te sê dat dit baie vinnig in die riete op die rivier se oewer beland het nie.

Teen hierdie tyd het die ander 10 spanlede alreeds die RV bereik, waar Phil Fred se wonde behandel was, en op die voorafbepaalde tyd het hulle die RV verlaat en stroomaf na Julius se RV begin beweeg. Julius se RV was nog ure se swem van hulle af, en daar was min tyd om voor sonop daar aan te kom – die meeste van die geswem was op die oppervlakte, gedeeltelik as gevolg van Fred se wond, maar ook om die oorblywende duikvermoë van die suurstofstelle te bewaar.

Ek en Les kon die groep nie inhaal nie, en net na dagbreek, toe ons dowwe ontploffings by die brug hoor, het ek besluit dat ons die water moet verlaat en ʼn oplêplek vir die dag  soek, want teen dié tyd sou die vyand al twee en twee bymekaargetel het en begin soek na wie ookal verantwoordelik was – ek sou graag die reaksie van die Fapla/Kubaanse magte by die brug wou gesien het  toe eers die kajakke in die noorde ontplof het, daarna die veer/vragboot se lading suid van die brug en laastens die ladings aan die pilare self.

In ʼn boek wat deur Fapla uitgegee is, FAPLA – Baluarte da paz em Angola (Bolwerk van Vrede in Angola), het hulle ‘n foto gepubliseer met die voetnota Gedeeltelike aansig van die Cuito Cuanavalebrug, opgeblaas deur ʼn afstandbeheerde vliegtuig gelaai met plofstof …geen kommentaar.

Ek en Les het riete gekry wat redelik ordentlike oorhoofse dekking gebied het, en toe nat, koud en honger tot rus gekom vir wat uiteindelik ʼn baie lang en warm dag in daardie duikpakke sou wees. Vroegoggend het MI-24 aanvalshelikopters en voetpatrollies
langs die rivier ontplooi. Ons hoofgroep is twee keer raakgesien en op gevuur. Gerrie, Benji, Henk en Smiley het met hulle pistole teruggeskiet en dit reggekry om te ontsnap en stroomaf uit te wyk.

Hierdie was egter nie die einde van hulle probleme voordat hulle die RV bereik het nie, want op een stadium het ʼn krokodil Fred se paddavoet beetgekry en afgeruk. Gelukkig was daar nie ander skade nie, en die span het amper sewe uur na hulle vertrek vanaf
die RV suid van die brug by Julius aangekom. Die dokter het na Fred omgesien en Julius het ʼn span getaak om Fred so spoedig moontlik by ʼn oppikpunt te kry vanwaar hy na die hospitaal in Rundu geneem kon word.

Julius was teen hierdie tyd onder geweldige druk, want hy kon die RV nie veel langer vir my en Les oophou terwyl die vyand besig was om oral stoppergroepe te ontplooi nie – ek was en sal altyd teenoor Julius dankbaar wees dat hy daardie RV vir ons oopgehou
het. As hy dit nie gedoen het nie, sou daar ʼn baie lang swem en stap vir ons gewag het om die nood-RV verder suid te bereik.

Laaste lig 26 Augustus 1987 het ek en Les ons “black is beautiful”-kamoeflering opgeknap en die oplêplek verlaat. Ons het op die oppervlakte stroomaf geswem met ons mondstukke en duikbrille om ons nekke onder die oppervlakte. Intussen kon ons nog steeds die vyandelike aktiwiteite hoor, en hulle het baie vure op die rivieroewer aangesteek.

Ek en Les se “buddy”-lyn was nie vas nie, en Les was aan my regterkant toe ʼn krokodil my na ongeveer twee uur se swem aanval. Die krokodil kom van agter af tussen my bene in en slaan sy kake op my agterstewe en dye toe. Volgende oomblik is ek op die rivierbodem
en word ek soos ʼn lappop geskud en rondgerol.

Uiteindelik hou die geskud en rondrol op, en alles raak stil om my – al wat ek kan hoor, is die sagte vloeigeluid van die water by my ore verby terwyl ek gesig na onder op die sanderige bodem van die rivier vasgedruk word. Ek dink toe: “Is dit hoe ek gaan sterf?”

Ek skat dit is ʼn kombinasie van uitstekende opleiding deur mense soos majoor Tuffy Joubert, stafsersant Gavin Christie en sersantmajoor Botes, en die oorlewingsinstink wat in so ʼn situasie oorneem – ek het daarin geslaag om my mondstuk in my mond te sit
en te begin asemhaal, en probeer toe om my duikmes, wat aan my linkerbeen vasgemaak is, in die hande te kry. Terwyl ek so spartel om my mes in die hande te kry, hou die krokodil my kalm vas en wag dat ek moet verdrink.

Uiteindelik slaag ek daarin om my mes uit die skede te kry en steek die ding hier agter my. Met die eerste drie steke voel of ek harde hout tref. Met die vierde steek voel ek egter iets sags – ek dink dit was sy regteroog. Ek steek toe so hard en aanhoudend as wat ek kan, en dit is eers na ʼn paar sekondes dat ek besef het dat die krokodil my meteens laat staan het en weg is.

Nodeloos om te sê is ek soos ʼn kurkprop oppervlak toe. Ek soek na Les en vind hom ʼn paar meter stroomaf, waar hy op en af swem en probeer ontdek waarheen ek verdwyn het. Ons het na die westelike oewer geswem en die skade probeer bepaal. Die duikpak het gelukkig
gehelp om die bloeding te beperk, maar ook ons ondersoek bemoeilik; wat egter meer belangrik was, het ons geweet, was dat ons so spoedig moontlik by die RV moet uitkom.

Die krokodilaanval het in ʼn draai van die rivier plaasgevind en ek was nie te gretig om die water weer daar binne te gaan nie, toe besluit ons om ʼn entjie stroomaf te stap en dan te begin swem. Maar toe ons die rivieroewer verlaat is ons dadelik heupdiep in ʼn moeras, en ons het geen keuse gehad nie behalwe om die rivier binne te gaan waar ek dit werklik nie wou doen nie.

Gelukkig was daar geen verdere insidente nie, en ons was ekstasies en verlig toe ons twee uur later, ongeveer 23:00, om ʼn draai in die rivier kom en daar is hierdie tou met die rooi Cyalume-lig daaraan oor die rivier gespan – om nie te praat van die vriendelike
gesigte op die oewer nie. Die doktor het na my wonde op my boude en dye omgesien en die nodige medikasie binne-aars toegedien, terwyl Julius intussen voorbereidings tref om so spoedig moontlik na die oppikpunt te vertrek. Ons het veilig uit die gebied onttrek, en is die volgende oggend deur ʼn chopper opgetel en Rundu-toe gevlieg. Daar is ek op geopereer, nabetragtings is gehou en ʼn paar Red Hearts en Coke is geniet…

 Episode 2

Renier Hugo

5 Verkenningsregiment se aandeel

5 Recce het vroeg Junie 1987 met ʼn ontplooiing begin teen ʼn dreigende offensief van ’n Fapla/Kubaanse mag vanuit Cuito Cuanavale. Ons het ontplooi met ons normale vegvoertuigmag, bestaande uit gemodifiseerde Unimogs en Casspirs, wat erg in die minderheid was in vergelyking met ons opponente, wat ʼn brigade sterk was.

Ons hooftaak was om die brigades op te spoor en ook om soveel vyandelike tenks en gepantserde personeeldraers as moontlik te vernietig, met die doel om die aanmars teen Mavinga en dan die hoofdoelwit, Jamba, stop te sit of te verhinder. Ons het ʼn paar klein onderonsies gehad en een of twee van die brigades gebombardeer met geringe tot goeie sukses.

Gedurende Augustus was ons suid van die Mianairivier ontplooi, met die vyand noord van die Viampolorivier. ʼn Element van 4 Recce het by ons aangesluit en toe hoor ons van hulle nuwe taak, om die brug oor die Cuitorivier, wat toe die hoof aanvullingsroete was van die vier brigades wat alreeds die rivier oorgesteek het, te vernietig. As ons die aanvullingsroete kon afsny, sou dit ʼn groot slag vir hulle wees. Daar is toe besluit dat ʼn 12-man duikspan noord van Cuito sou ontplooi, waarvandaan hulle eers met kajakke sou infiltreer en dan die laaste ent na die brug swem en hul ladings plaas.

Intussen sou ʼn span van 5 Recce per voertuig en te voet ontplooi en ʼn RV-punt in die rivier net suid van Cuito Cuanavale stig om die duikspan te herwin en daarna na ʼn veilige gebeid te onttrek, vanwaar die helikopters hulle sou kon oppik. Fred Wilke is in bevel van die duikspan, met Julius Engelbrecht in bevel van die RV-groep. Ek was as Julius se tweede-in-bevel aangestel en het ook die baie ervare Jim McGuire by my gehad. Ons het ook die gebieid nogal goed geken, aangesien ons alreeds ʼn paar maande daar in klein spanne ontplooi het.

Die ontplooing van die duikspan het redelik goed verloop, maar hieroor kan ek nie verder uitbrei nie omdat ek nie lid van hierdie groep was nie. Met ons ontplooing het dit egter nie te goed gegaan nie. Ons Unita-penetrasiegroep was aanvanklik in beheer van die navigasie na die RV, maar soos gewoonlik was hulle huiwerig om ons direk daarnatoe te neem. Ek het toe voorgestel dat ek en Jim die navigasie oorneem. Die beweging was moeilik, en ons moes deur baie moerasse stap, maar ons het by ons plan gehou: Jim het meeste van die navigasie behartig, en ek het hom ondersteun. Op ʼn stadium het Julius Engelbrecht gesê ons het verdwaal, wat nie goed afgegaan het nie, aangesien ons die bos en die area geken het, en op die ou end het ons hom na die presiese posisie geneem.

Ons stig toe die RV, wat bestaan het uit ʼn tou met “Lumi sticks” daaraan geheg, wat met ʼn Zodiac oor die rivier geneem is. Ons het ook ʼn luisterpos in die Zodiac aan ons kant van die rivier gestig. Ek kan nog onthou dat dit ek en Julius was wat in die Zodiac gesit het toe daar om en by 03:00 alle hel by die brug losgebars het, met ontploffings en geweervuur oral.

Ons het besef die duikers moes opgespoor gewees het en in die een of ander moeilikheid beland het, maar al wat ons kon doen was om te wag. Teen eerste lig moes ons onttrek na ʼn klein hoogtetjie waar ons ʼn uitsig oor die rivier gehad het, want Fapla-magte was oral aan die oorkant ontplooi – ons het selfs in ʼn klein kontak oor die rivier met hulle betrokke geraak, maar hulle het meer in die duikers belanggestel.

Ongeveer 12:00 het ons die eerste duikers om die draai in die rivier sien kom. Ons het vinnig rivier toe beweeg, en as ek reg onthou, het ons tien duikers herwin. Een van hulle was Fred, wat in die skouer gewond was. Ons het hom behandel en een Zodiac vernietig en die masjien in die rivier gegooi. Daar is toe besluit dat ek en my span met Fred en die res van die duikers moet begin onttrek om Fred so
spoedig moontlik in Rundu te kry vir beter mediese behandeling.

Ons het die middag begin onttrek; die SA-soldate het Fred gedra, want Unita het geweier om te help. Almal het gehelp dra, selfs die 4 Recce-duikspan, wat alreeds ʼn baie lang swem agter die rug gehad het. Ek het genavigeer en het aanvanklik vinnig suid begin beweeg, want daar was baie MI-24 en MI-17 helikopters in die lug, op soek na ons.

Op ʼn stadium het ek gedink hulle het ons opgespoor toe twee MI-24s vir ʼn lang tyd bokant ons gesirkel het. Dit was suiwer geluk dat ek betyds gesien het dat ʼn Unita-soldaat ʼn RPG-7 op een van hierdie monsters rig, gereed om te vuur. Ek het hom byna katswink geslaan, want dit sou selfmoord gewees het. Ek het toe besef die helikopters ontplooi stopgroepe op ons ontsnaproete, en besluit om oos te beweeg.

Ons het regdeur die nag gestap en die Vimpolorivier oorgesteek, toe vinnig direk suid beweeg en die Mianairvier teen eerste lig oorgesteek. Ons het toe opgelê en ʼn landingstrook vir die helikopters voorberei vir ontrekking daardie aand. Intussen is Anton Beukman en Les Wessels ook herwin deur die RV-span, wat vir hulle gewag het. Ek onthou nog hoe hulle my vertel het hoe Jim geswem het om Anton te gaan help. Anton was lelik deur ʼn krokodil gebyt. Hy is behandel vooordat hulle met hul onttrekking begin het. Hulle het na ʼn ander RV as ons sʼn gestap.

Die helikopters het Fred en sy duikers opgelaai en na Rundu gevlieg, en as ek reg onthou is Anton-hulle ook opgepik en na Rundu geneem. Die helikopters het toe teruggekeer en my span kom haal, en daarna het ons Julius en sy span gaan kry. Daarna is ons na Mavinga gevlieg, om weer by ons ander magte aan te sluit en met ons oorspronklike taak voort te gaan.

Een Zodiac-masjien is agtergelaat waar Julius opgepik is, en die snaakse ding is dat hierdie einste masjien ʼn paar maande later by die HSI-basis in Rundu sy verskyning gemaak het, waarna hy uiteindelik aan 4 Recce terugbesorg is.

Nodeloos om te sê het die 4 Recce-kêrels hulle medaljes vir dapperheid, wat hulle verdien het, ontvang. Ek is egter van mening dat daar daardie aand baie helde was, maar vir ons was dit waarvoor ons opgelei is, en ons het ons werk gedoen.

 

Meer oor Ons was daar, klik hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae