Uittreksel uit “Pippie” deur Anice Kruger saam met Colleen Naudé

Klik hier om meer oor die boek se bekendstelling te lees en na die video te kyk. 

Angsrit in die nag 

Op die maat van die flitsende rooi lig tik kosbare sekondes verby. Swart, rooi, swart, rooi gloei die bome langs die pad terwyl die ambulans verbyjaag met die lig wat aanhou draai, draai, draai. My maag draai. My kop draai. Ek wil gil. Die sekondes word minute, ure.

Middernag. “Happy new year. En dankie dat julle my gebring het,” hoor ek myself sê. Vreugde-vuurwerke wat begin, maak ’n nuwe hartseer wakker. Ek het vir Pippie beloof ons gaan vanaand vir haar vuurwerke wys. Sy wat wil kyk waar is die liggies en wat maak biep, biep, biep. En wat trots sê: “Mamma, kyk al my pleisters.” Sy wat nog steeds vra oor haar pappa. Want hy het so eina gekry en hy het ook pleisters.

Elke nou en dan kyk ek om. En ek kan sien daar is niks van my kind se gesiggie oor nie.

Ons tel die kilometers af. Elke enkele een duur ’n uur.

Vyf uur gelede het ek nog gedink 2012 gaan goed en reg begin. Ons het beplan om tienuur kerk toe te gaan.

En ek wou vergeet hoe ek en Erwin die week vasgesit het oor so ’n simpel ding soos wat om op Oujaarsaand te doen. Ons sou na vriende in Potch gegaan het, maar ek was eers nie lus vir die pakkery en ryery nie, en toe ek uiteindelik besluit het om te gaan, het Erwin so erg verkoue gekry dat hy nie meer lus was nie.

Erwin was al besig met die braaiery. Pippie het by hom gespeel, maar sy het ook aanmekaar in en uit gehardloop tussen ons huis en my skoonouers se huis net langsaan. Arno het al geslaap. Ek wou net gou daardie awesome episode kyk. Wow, Extreme Makeover: Home Edition doen dit vir my. Hoe hulle mense help. Dié een moes ek net weer sien van die alleen-pa en sy vyf seuns wat op die vloer moes slaap. Dit was 18:34; die program sou net begin.

’n Geweerskoot.

’n Plaasaanval. Hoekom gil Erwin so? Is hý geskiet? Ek hol buitentoe.

Nog voor ek behoorlik van die twee trappies af is, sien ek haar op die gras lê. Haar vel borrel van haar lyfie af. Dit lyk of sy in kokende olie gegooi is. Sy brand!

Pippie! Rou krete trek oor die werf. Ek hoor hoe ek skree en skree en skree …

Ek ruk my toppie af. Maar ek weet nie waar om te begin nie. Sodra ek ’n deel van haar brandende vel dood het en ek lig my hand op, brand dit net weer van voor af.

Ek gil en skree en huil. Skoonma en Erwin het ’n tafeldoek gegryp en Skoonpa ’n vloermatjie. Uiteindelik het Pippie ophou brand.

Ek het haar opgeraap. Erwin het in die huis in gehardloop, ons duvet gegryp en ons het haar daarin toegedraai. Ek het geskree. “Bring net ’n kar, iemand! Ons moet haar by die hospitaal kry!”

Pippie lê in my arms. Sy huil nie, nie ’n traan nie, niks histerie nie. Niks, niks, niks nie. Skielik sê sy: “Ek is moeg, ek wil doedoes.” Maar my survival mode sê net vir my ek moet my kind wakker hou.

Erwin het sy selfoon gegryp. Ek het my toppie weer probeer aantrek en ons jaag in Skoonpa se kar hospitaal toe. Marapong, die private Medi-Clinic buitekant Ellisras (Lephalale). Erwin probeer elke dokter bel wie se nommer hy op sy foon het. Maar dis Oujaarsaand. Hy kry niemand in die hande nie. Hy bel my pa-hulle en sê hulle moet kom. Dadelik. Pippie het gebrand.

Maak nie saak hoe vinnig ons ry nie, die 20 km voel of dit nooit ophou nie. Pippie sit op my skoot. Sy soek bokkies, tel karre. Nie ’n traan nie. Die hele pad kyk sy met hierdie mooi, helder, vraende ogies na my asof sy nie begryp wat aangaan nie, hoekom ons so paniekerig is nie.

By die hospitaal sit ek my kind op ’n bed neer. Die suster staan nader en koer: “Ai shame. Oh, my baby.” Maar niemand doen iets om haar te help nie.

Dan moet ek maar iets doen. Ek begin haar rokkie, wat my skoonma nog vir haar gemaak het, van haar afsny. Dankie tog! Dit het nie in haar ingebrand nie. Die katoen is kliphard.

Ek soek die suster. Sy’t net verdwyn. Die minute tik verby. Niemand doen iets nie. Vyftien minute later kom sy terug. “Julle moet asseblief ry. Ons kan julle nie help nie. Ons weet nie wie is die dokter op standby nie.” Net so.

Ons klim in die kar en jaag. Nog 12 km.

Die staatshospitaal op Ellisras. Dis Oujaarsaand. Die plek lyk soos die nag. Ek moet my kind op iemand anders se bloed en kots neersit. Gelukkig het ek die duvet.

“Die dokter sal kom,” sê iemand. Hy daag op, sê nie ’n woord nie, gee vir haar 16 Valeron-druppels vir pyn, sê sy sal rustig word en aan die slaap raak. Maar met die genade van Bo het sy wakker gebly.

Hy het probeer om ’n drip in Pippie in te kry. Dit was die eerste keer dat sy bietjie gehuil het en gesê het dis eina.

Toe verdwyn hy. En die susters staan net daar. Nie een weet wat om te doen nie.

Van êrens af kom die ouens van die Tromar-ambulansdiens. Die een is Jaco en die ander een oom Buks. Húlle sit Burnshields op. Ek sal hulle nooit ooit vergeet nie.

My pa-hulle kom aangejaag. My ma, ’n opgeleide suster, help vir Jaco en oom Buks om Pippie te verbind. Uiteindelik doen iemand iets. My ma sê ek moet Pippie se oorbelle uithaal voordat haar oortjies te veel opswel en dit skade veroorsaak. Ek kyk na Erwin. “Jou hande, jou bors. Jy het vreeslik gebrand.” “Ek’s orraait. Maar Pippie, Pippie. Gaan na haar toe, help haar, moenie oor my worry nie,” snik my man, my groot, sterk man. En my hart breek.

En toe is dr. Herman Minnaar daar. “Ek het die boodskap op my foon gekry.”

Ons huisdokter. Hy ken vir Pippie, hy het haar nog in die wêreld gebring. Hy sal weet wat om te doen.

“My kind het gebrand, Dokter, draai haar net asseblief toe dat ons haar huis toe kan vat.”

Hy kyk na my. “Jou kind het 90% derdegraadse brandwonde. Sy gaan doodgaan. Ons moet haar in ’n brandeenheid kry.”

Ek hoor dr. Minnaar bel. Hospitaal ná hospitaal. Niemand kan help nie. Verskonings. Daar is nie chirurge aan diens nie. Ander wil nie help nie. Hy weier om te aanvaar wat hulle vir hom sê. Dat sy die rit nie gaan maak nie. Maak haar net gemaklik. Verwag die ergste.

Ek wil dit nie hoor nie!

Die minute word twee oneindige ure. Alles gebeur so stadig!

Uiteindelik. “Garden City in Brixton sê ons kan kom.”

Op daardie oomblik het ek besef my seuntjie lê by die huis. Gelukkig was my skoonma daar. Erwin het haar gebel en gehoor hy slaap rustig en sy sal na hom kyk.

My pa het almal begin bel, die pastoor, my broer, my suster. Hy het almal gevra om te begin bid. Sy familie, my ma se familie, vriende, almal.

Voor ons in die ambulans geklim het, het Jaco en oom Buks Erwin se hande toegedraai.

My ma het beloof sy sal saam met Erwin huis toe ry en vir my ’n tas pak.

Pippie het halfsewe gebrand en ons kon eers tien oor tien in die ambulans klim.

Voor die ambulansdeure toegegaan het, het ek vir my ma gevra: Asseblief, Mamma, kyk na Arno. Ek kan nie nou oor hom worry nie. Met trane in haar oë het sy beloof dat sy na hom sal kyk en dat ek niks het om oor bekommerd te wees nie. Sy sal seker maak Erwin kom by die huis, sy sal tasse pak, sy sal na hom ook kyk.

My skoonpa, wat nog heeltyd saam met ons was, het gesê ek hoef oor niks bekommerd te wees nie, hy sal saam huis toe ry, hy sal Erwin so gou moontlik terugbring Johannesburg toe.

Toe het ons nog gedink Pippie het 90% brandwonde. Ons was nie seker of dit tweede- of derdegraad is nie.

Dr. Minnaar het saam met my en oom Buks en Jaco in die ambulans geklim. Siestog, hy het vreeslik karsiek geword. Hy het tot in Warmbad (Bela-Bela) na Pippie se hart en longe geluister, want ons het nie geweet of sy inhalasieskade gehad het nie. Hy het seker gemaak Pippie kry genoeg vloeistof. Oom Buks het ook kort-kort na Pippie se longe geluister sodat dr. Minnaar vorentoe kan kyk, anders word hy naar.

En Jaco het vir my pepermente gevoer en met my probeer gesels. Sodat ek nie weer aan die gil gaan nie. Elke keer as ek wil huil, kon ek vir dr. Minnaar in die oë kyk en vir Pippie vra wat is Mamma se naam, wat is Pappa se naam. Sodra sy gesê het wat is Pappa se naam het sy vir my gesê: “Mamma, Pappa het ’n eina gekry. Mamma, kyk al my pleisters!” Sy was so trots op haar pleisters …

Daar is padverleggings met lang stukke op ’n smal enkelbaan tussen Vaalwater en Nylstroom (Modimolle). Dit het gevoel of die verleggings net nooit ophou nie. Jaco het sy bes gedoen om ons so vinnig moontlik so veilig moontlik daar te kry.

In Warmbad, waar ons in ’n ander ambulans, met die reg­te pediatriese monitors, moes oorklim, het ons Pippie na nood­gevalle gevat, waar hulle vir haar ’n kateter wou insit, maar dit was te groot. Toe sê sy vir my: “Mamma, ek wil piepie.” Siestog, sy het tot toe geknyp. Ek het my kind so jammer gekry. Ek het haar gehelp om haar broekie af te trek. Ek het ’n linen saver onder gesit en haar so half regop gehou. En sy hét gepiepie. Normaal. Toe vra sy my om haar broekie op te trek, sy is klaar.

Ek het gemaak of ek haar broekie optrek, want ek moes vir haar ’n doek aansit. Ek kon toe al sien hoe my kind onder daai verbande opswel.

Jaco het daar aangekom met ’n sagte speelding, ’n jagluiperdjie, en dit vir Pippie gegee. Hy het haar die hele rit lank belowe as sy in die ander ambulans klim, sal sy ’n jagluiperdjie hê om saam met haar stad toe te vat sodat sy nie alleen is nie.

Ons het in die ander ambulans geklim, met nog drie engele van Tromar, Hendrik, Rufus en oom Trompie. Oom Trompie het dr. Minnaar se werk oorgevat en Pippie aan ’n monitor gekoppel, Rufus het agter gesit en die papierwerk gedoen. Hendrik was die een wat bestuur het. Elke keer as ek in trane wou uitbars, het hy my hand gevryf en gesê alles gaan orraait wees, ons is nou-nou daar. Ek was eers bang omdat dr. Minnaar my alleen los, maar dit was nie nodig dat hy verder ry nie. Hy is saam met Jaco en stil oom Buks terug.

Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy
Prys: R169-95*
*prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae