Uittreksel uit “Sê Amen”

Die troue

Die paartjie was ons dorp se prins en prinses, ʼn storieboek-paartjie wat my geloof in “eendag was daar”-sprokies bevestig het. Almal het gesê sy lyk soos Jennifer Aniston, maar sy was nie die soort meisie wat daarop uit was om ʼn man te vang en ʼn huisvrou te word wat kinders grootmaak nie. Nie dat daar iets mee verkeerd is nie, maar haar droom was om ʼn sielsgenoot te vind met wie sy die res van haar lewe kon deel.

Hy was die seun van die gelukkigste egpaar op ons dorp. Ek ken sy ouers vandat hulle mekaar op skool ontmoet het. Skoolliefdes werk selde, maar hierdie een was tops. Dawie en Elsie het hul seuns met liefde grootgemaak. Ek en Basjan het dikwels oor hulle gepraat en genoem dat die twee by mekaar pas soos blink sterre in ʼn suiwer Karoo-aand.

Soms kom daar in enige huwelik ʼn krapperigheid. Die vrou raak ongeduldig met die man of hy raak kwetsende dinge kwyt soos: “Jy moet ook altyd oor my ma praat as suinigheid ter sprake is. Maar jou pa…” Julle ken die storie.

Dawie en Elsie het egter met die grootste liefde en respek met mekaar gepraat. Ek het na hul seuns gekyk en gedink om in so ʼn gebalanseerde huis groot te word en met soveel onbevange liefde omring te word, ʼn voorreg is wat hulle dalk nie aldag besef nie. Toe hul oudste seun Karel dus aankondig dat hy met die beeldskone Vera gaan trou, het ons geweet daar is net een pad vir hulle, en dit is om in die voetspore van hul gelukkige ouers te volg. Ware liefde boots nie na nie of soek nie na ʼn identiteit nie. Dit is net.

Toe ek en Basjan by die huwelikseremonie opdaag, kry ons Karel voor die kerk waar hy wag om in te gaan.

“Is jy gespanne, Seuna?” van Basjan.

Ons kry ʼn breë glimlag soos nie eers Tom Cruise kan optower as hy twintig miljoen dollar daarvoor betaal sou word nie.

“Nee, Oom, hoe dan nou?” antwoord Karel in sy mooi Kaapse aksent. “Ek is dan lief vir haar. Dit moet gebeur en dit moet nou gebeur. Ek kan nie wag nie.”

Ek en Basjan sit voor in die kerk langs die bruidegom se familie. Ek dink nie ek het al ooit ʼn troue bygewoon waar daar soveel vreugde was nie. Ons diep herinneringe op oor die jong paartjie, asook ons eie gelukkige dae saam.

Die bruidegom en sy strooijonkers kom staan voor in die kerk. Karel se gesig is oop en mooi, met oë wat blink soos geen helder fontein in die Karoo kan blink nie. Sy houding getuig van inbors, geluk en afwagting. Die strooijonkers staan verlore langs hom. Die een staar na die dak, die ander maak geen oogkontak nie, en die derde kyk selfbewus voor hom uit.

Karel se oë vang sy ma sʼn en hy knipoog. Daarin sien ek: “Dankie, Pa en Ma, dat julle my sulke fantastiese kinderjare gegee het.” Dit lyk kompleet of hy staan en sing van geluk. Sy ma knik, want sy weet dis waar.

Toe kom die bruid in. Vergeet van ʼn storieboekbruid. Ek sien ʼn jongmeisie met ʼn glimlag wat selfs die gerommel uit ʼn donderstorm na ʼn wiegeliedjie sal laat klink. Sy lag net. Waar ander bruide skugter oor al die aandag met die paadjie aftrippel, stap sy doelgerig na haar bruidegom toe.

Sy sien hom, en van daardie oomblik af het sy nie weer een keer weggekyk nie.

Ek staan onbeskaamd en snik, maar lag ook van vreugde. Ek wag dat Basjan my in die ribbes pomp met: “Gedra jou, Sofia!” Maar toe ek na hom kyk, biggel die trane ook oor sy wange.

Later, toe hulle omdraai om na ʼn spesiale lied te luister, rus haar kop teen sy skouer, en ek weet hierdie prins en prinses het nie ʼn kasteel nodig nie. Hulle het nie ʼn koets met wit perde nodig nie. Die liefde is meer as genoeg. Geen kluis vol goud kan ʼn aks van hul liefde vir mekaar koop nie. Dis ʼn liefde wat ʼn mens gedink het net in sprokies bestaan. Toe ek weer voel, hou Basjan my hand vas en rus met sy kop teen my skouer. (Dit was ʼn bietjie swaar, moet ek erken.) Die jongmeisie sing nie net vir die prins en die prinses voor ons nie, maar ook vir die stoere ou grysaard met die pens en sy vrou met die baie plooie.

Ons harte is gevul met die wete dat hulle lank en gelukkig gaan saamleef. En ons gemoedere is vol van die skoonheid van ʼn moderne sprokie wat waar geword het.

Uittreksel uit: Sê Amen deur Sofia Smit
Uitgewers: Lapa
Prys: R180-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.