Uittreksel uit ‘Soetloop’ deur E Kotze

Soetloop_300dpiDie volgende uittreksel is uit Soetloop deur E Kotze.

Onrus dwing Ellen op uit die stoel. Sy stut die ronding van haar maag met albei hande. Sy voel die kind in haar roer, van lê verander, teen haar ribbes skop, met vuiste en knieë haar maagvel brei. Soos Claas met sy sterk hande die velle en rieme vir skoene en tuie brei… My man, skrei sy van binne en soek sy oë, verberg agter verbleikte wysbroue.

“Wat’s jou plan, Claas, sit jy net daar?”

“Wat wil jy hê moet ek doen, Ellen?”

“Jy lyk so prens en vrede. Gaan kyk waar die kinders bly! Het jy nie vandag die see hoor raas nie?”

Sy sien hoe hy verlangend na die koffiekan kyk, kan mos nie rus voor die laaste moer afgeskink is nie.

Hy vat sy sweep en hoed. Sy kyk hom agterna, hoe hy sy lyf skuins gooi teen die duine uit. Is dit moontlik dat dít Claas Prins is, in sy vroeë veertigs maar ’n ou man? En sy, ’n hoogswanger vrou van by die vyftig. Waar’t jy so iets al ooit op ’n viool hoor speel? Sulke gesegdes van haar ma wat ’n Sandvelder is, het sy met haar saamgebring De Hoop toe. Tot groot vermaak van die Prinse.

Uiteindelik, met die sakkende son agter hulle, tuimel die kinders oor die kruin. Hulle rol soos skeelpietbosse teen die duin af tot onder in die plate vyerank. Die jongstes ren vooruit en val byna gelyktydig by die deur in.

“Milanner het vir ons weggery, Ma! Die bakkies was nie uit nie, dit was kwaaisee, toe draai hy slap!”

Hulle kom toe seelangs tot by die wasklippe, net betyds om te sien hoe die water vir Liesie en San teen die duin op jaag, die witgoed in worse rol en intrek. Amper het dit weggespoel as Nieko-hulle nie ingehardloop en die goed uitgesleep het nie. Miekie van De Hoop was by, hy’t gehelp om die waspoele wat toegespoel het oop te grawe toe die golwe bedaar en om die baddens opnuut vol te maak met skoon water.

Claas het hulle anderkant die tweede duin gekry, rus-rus, die emmer vars water vir die huis half uitgestort. Almal stokflou. Dorstig dam die spannetjie die emmer brakwater by, verdring mekaar soos ’n beestrop en drink. Susanna val in Ellen se skoot. Hulle het haar ’n ent laat draf, sy wat anderdag nog die baba was. Ellen kyk rond waar Miekie is. Die dun jongetjieskind in driekwartbroek en oprygstewels deurdrenk van seewater het Susanna die laaste ent op sy rug gedra. Maar hy’t stilweg De Hoop toe verdwyn. Seker gesien daar’s nie kos in die potte nie.

“Wat eet ons?” rek Nieko sy nek.

“Melk en brood,” sê Ellen.

Die afgeroomde melk het aangebrand met die kook, die pot se boom is dun. Sy kon snysels gemaak het as daar meer fynmeel was. Of frummeltjies. Meelpap. Maar die ou brood moet eers opgeëet word.
Die harde kors kraak onder die mes toe sy dit sny. Elke kind het ’n bakkie, die enamel hier en daar afgesplint, en ’n lepel. Sy het ’n diepbord en Claas ’n porseleinkommetjie. Dat daar nie tafel gedek word nie, sien sy oor.

“Laat ons bid.”

Sy doen lankal die tafelgebed, die aandgodsdiens ook. Claas is dikwels laat, of glad nie by die huis nie. Soos hy daar aan die kopkant van die tafel sit, is hy nie die man wat sy gedink het hy is nie.

“Waar’s Malie?” vra sy.

“Het sy nie noumaar hier in die pad opgestap nie?” vra Claas.

Ellen sug. Natuurlik vir Leopold tegemoet. Met so ’n wind op die see was die Langbáánse vissers ook nie uit nie. Sy buig haar hoof. “O Heer, voor spys en drank…”

Hulle breek die brood in, sy skep vir elkeen ’n potlepel melk. Daar’s nie suiker nie. Miskien nog ’n knypie kaneelsuiker in die blik, maar te min vir almal, daarom bly almal daarsonder. Daar is ’n onooglike swart kraak in Claas se kommetjie wat Ellen lank reeds uit die gebruik wou haal, as hy nie so daaraan vasgeklou het nie. Dit kom uit sy kleintyd, spierwit met ’n mooi blou werkie om die borand. Made in Russia. Die ou mense het van die loop-Jode gekoop wat vroeër op die plase kom smous het.

Juis vanaand moet die kommetjie middeldeur breek, sodat die melk ’n plas op die skoongeskropte tafel vorm en stadig begin uitsprei om weg te loop na die moot waar die twee blaaie van mekaar af weggetrek het. Instinktief maak Claas sy hand bak en keer, vee die melk sorgvuldig bymekaar en vang dit op voordat dit afdrup en in die vloer wegsyfer. Skaars genoeg om die brood klam te maak.

“Hier,” bied Ellen hare aan.

“Ek het genoeg. Eet jy.”

“Ek het nie eetlus nie.” Sy gooi hare by syne, kou traag aan ’n korsie.

Sy was self die skottelgoed. Die kinders dra die badjie in. Die grotes was die kleintjies. Dan rol Claas sy broekspype op, seep die vaal flennielap in. “Wie kom was vanaand Pa se voete?” Hulle maak beurte, in ruil vir ’n beker vars, warm melk môre vroeg voor dit deur die skeier loop.

Ellen neem vir haar ’n koker warm water kamer toe. Claas rook nog, toe lê sy al. Sy snuif die lug. Hy het sy eie reuk, duinsand en kraal en oorheersend tabak.

“Hoe voel jy?” Hy vryf met sy hand oor haar maag.

Op die enkelbedjie roer ’n kind, smak met die lippies, kners tande.

“Hoe dink jy? En nou nog boonop Malie, so ongedurig.”

“Jy moet jou maar nie te veel steur nie, dit gaan ook verby.”

Die geboorte of die troue, wonder Ellen suf, watter een eerste?

“Wat ’n troos!”

“Sy sal jou tot hulp kan wees tot jy weer op die been is.”

Ellen antwoord liewer nie. Claas neem alles vanselfsprekend aan, terwyl Malie net een ding in haar kop het. Sy het meer vertroue in ou Anna Jordaan, ’n bruikbare vrou binne loopafstand. As dié maar by die huis is. Hulle het wel in daardie rigting gepraat, maar dis nog nie Ellen se tyd nie.

Die geboorte lê soos ’n berg voor haar. Haar eerste vier babas is op De Hoop, die destydse familieplaas, gebore. Sy is soos ’n prinses behandel, agt dae in die bed, ’n dokter en vroedvrou, bediendes, sop en saggekookte eiers en braaibrood… En Malie so pragtig, ’n ware Prins van die eerste dag af, die kleur van haar oë en die wimpers skaduwees op haar wange waardeur sy skelm loer.

So gou het dit gebeur, die eerste kinders. Ons moenie, sê sy en Claas vir mekaar, maar dan is dit reeds te laat, hulle twee ewe belustig. Sy soek die warm heuning wat hy uit die korwe sny, wat sy uitkou totdat net die spierwit was oorbly. Sy kry daar nie maagpyn van soos haar skoonma voorspel nie, sy het ’n sterk konstitusie.

Met ’n sterk voorgevoel dat sy nooit weer die geleentheid sou kry vir so iets nie, het sy ’n ruim baba-uitset gemaak. Van Claas het sy ’n skaapvelletjie met die wolkant nog aan sag soos lap laat brei, ’n pisvelletjie om die matras te beskerm. Só goed het sy die kleertjies opgepas dat die laaste stelletjie nog feitlik splinternuut was toe Susanna uit die doeke is.

Een van die dogters sal dit nog kan gebruik, het Ellen gedink toe sy dit wegbêre. Aan haarself het sy nie gedink nie. Die fontein het sout geword, sy en Claas albei gerus.

“Nee!” roep sy onwillekeurig uit.

Langs haar ruk Claas. Hy het al weggedommel, liggies begin snork.

“Ellen?” Sy hand beweeg teen haar maag af.

Sy druk haar elmboog in sy sy. “Nee, rol om. Lê weg van my af, het jy nie ’n konsensie nie?”

Hy gee ’n kug en hoes tabakslym op. “Hoekom slaap jy nie?”

“Ek bekommer my. Ek het nie meer raad nie.”

Haar gedagtes hardloop rond soos tarentaalkuikens. Wat kan ’n vrou met so ’n oormag kinders doen? Seep kook en botter maak, beskuit bak, eiers verhandel.

“Los dit vir my. Ek is die man, en hulle pa.”

“Soos dit jou pas.”

“Ek doen wat ek kan.”

Dít moet sy erken, hy het probeer hier op Laaggelee. Manalleen geploeg met die twee donkies, saaisak oor die skouer, oor die sekel gebuk in die warm son. Vir ’n skepel broodkoring vir die huis. Tuie gemaak, en velskoene. Die velle by die klipbakke onthaar, in soutslaai laat lê, met ’n graaf skoon geskraap. Dan die langsame breiproses: vetsmeer en was en met die hand brei. Bosse rieme aan ’n paal ophang, opwen met ’n swaar klip, los dat dit slingerend afwentel. Totdat die laaste vog uitgewring is. Soms het sy gehelp, in haar vuiste gebrei, ’n dag lank, ’n week, etlike weke. Sy wat steun van die uitputting, en die reuk van vrot vel.

Claas het Milanner by die kalkoond gehelp, dit gepak en brandgesteek. Water gesprinkel as die skulp bros is, die gebluste skulp laat afkoel en dan gesif. Nekdoek om die gesig, sy klere en voorarms vaalwit van die stof, ’n rooierige skynsel in sy oë. Soos ’n spook gelyk sodat die klein kindertjies vir hom skrik.

“Gô!” Ellen staan op uit die kooi.

“Wat nou?”

“Ek gaan stryk.”

Sy maak vuur, pak die ysters uit. Claas, wat al van beter weet, maak koffie. Sy tel die eerste yster op en spoeg dat die druppeltjies op die warm oppervlak ronddans. Lê dan met die yster op die mansbroek, hard soos seil. Pyn soos warm vuurstrale skiet in haar rug en agter haar bene af.

“Wag, Ma, gee vir my.” Malie staan in die deur.

“En waar peul jy nou skielik uit?”

“In die buitekamer geslaap.”

Ellen blaas deur haar neus. “En die Langbáner?”

“Ma, hy’s Leopold. Hy het ’n rukkie by my gesit, ons het ’n bietjie gesels, maar hy’s lankal weg. Hy wou nie steur nie, hy weet Ma is nie lekker nie.”

“Ek het nie geweet ek het ’n kwaal nie. Los, ek sal klaarmaak wat ek begin het.”

Maar sy keer nie toe Malie en Claas die witgoed begin uitskud en die lakens strek en vou nie. Sy drink ’n mondjievol van die vars koffie toe Claas vir haar die beker gee. Hy probeer haar in die rigting van die kamer stuur, eers sagkens, maar met meer drang toe sy haar versit.

“Ellen, jy kla heeldag niemand gee om nie. Jy’s kwaad vir almal, en nou stoot jy my weg . . .”

“Het ek maar eerder.”

“Jimmel, Ma, wat gaan hier aan?” sê Malie ontsteld. “Ek ken dit mos nie só nie!”

“Dan is dit tyd dat jy jou oë oopmaak. Voor dit te laat is.”

Claas maak asof hy nie hoor nie. Hy trek die onderdeur agter hom toe en stap weg.

Ellen se gesig vertrek. Sy wil agter hom aan roep, hom keer. Kan hy nie sien hoe dit met haar is nie? Teen haar sin gaan lê sy weer. Golf op golf stoot die tamheid oor haar. Die bed van smeedyster, ’n trougeskenk van haar ouers, maak fyn tjingelgeluide as sy roer. Die matras van kapok is klonterig, deurgelê.

Dit moet ’n slag uitgeskud en gepluis, gewas en in die son gedroog word. Maar tog nie nou nie.
Om haar dein die huis, swel en sak en swel. Die voetval van die kinders klink soos ’n perdekommando toe hulle die skoolpad vat. Sal hulle die winkelgoed onthou? Anders sal Claas alsolief vanmiddag die donkies moet inspan.

Sy moet tog weggeraak het.

“Wil Ma ’n bietjie tee hê?” Liesie staan voor die bed.

“Nee, wag, laat ek opkom.”

“Ma kan maar bly lê, ons sorg vir alles.”

Die wasgoed is gestryk, ja, maar die vuurherd moet uitgewit kom, die vloer gesmeer. Met ’n drif gooi sy die komberse van haar af. Sy ken die kinders, jy kan hulle net vertrou so ver jy hulle sien. En waar’s Claas?

“Pa is met die vee die kliprug uit,” sê Malie. “Hy’t gesê hy maak sommer by die Milanners agtuur.”

Eet hom daar dik aan wors en eiers, dink Ellen. Aan die ander kant bring hy dalk ’n stukkie vleis saam. Vrugte as die smouskar omgekom het.

Sy spoel haar mond met soutwater uit. ’n Kiestand gee antwoord. Haar tande is gevoelig; elke kind vat kalk uit haar liggaam. In die kombuis woel Malie en Liesie. Daar is reeds gemelk, die skeier
gedraai, uitmekaar gehaal en gewas. Nou maak hulle die vuurherd skoon, vee die kole en as met die bossie vere bymekaar, dra die rooster en vuurysters en swart ketel uit om te skuur met bondels strooi en as.

“Die potterak hoef nie vanoggend afgeskrop te word nie, stof maar net af,” maak Ellen ’n toegewing aan Malie wat die res van die nag sit en krale vaswerk het. Sy moenie te straf op die kind wees nie. Sy stap in die oggendkoelte uit en agterom die huis, na die oorskiet van die tuintjie wat sy jare terug probeer aanlê het. Malvas en verstrengelde kappertjies en die onverwagte groen van die dillebos met sy fris anysgeur, aan die lewe gehou in die drup van die dak. ’n Aftreksel van die saad is goed vir maagkrampe en slapeloosheid by babas, en dis iets om aan te kou as daar niks anders is nie. Sy breek ’n takkie af en verbeel haar sy is dadelik verkwik.

Die buitekamer, sien sy, is aan die kant, so na as kan kom. Die kombers oor die katel is gelyk getrek, die ysterkooi agter die deur opgemaak. Aan die muur hang die tuie en stroppe. Vel en sool en naairiempies en skoenlees op hulle plek langs die boekekas. Sommige boeke kom nog uit haar skoolhoudae, ook leesboeke van die kinders, leie en griffels. Die boeke moet ’n slag uitgepak en afgestof word, dink sy, as sy maar so laag kon buk. Maar eers ’n koppie tee en ’n paar krummels beskuit teen die flou gevoel. As daar is.

Sy sukkel om kombuis toe, kyk krities na Malie wat fluks besig is om elke ding terug op sy plek te pak: koffieblik en suikerblik, blik vir sago. Droëbone en ertjies het haar pa vroeër altyd van die plaas af gestuur. Wintertyd wanneer hulle vark slag, kon sy heerlike sop kook. Ertesoep met spekkies en snye roosterbrood daarin geweek, iets om die mond te laat water…

Sy vat die onderdeur vas. “Malie!”

Die kind het die doek waarmee sy afgestof het ongeërg by haar voorskootband ingedruk. Dieselfde doek waarin Claas se middagkos gister toegeknoop was, waaraan hy sy vetterige mond en hande afgevee het.

“Het jy tog nie daai vuil doek wat na kos ruik en waarop die vlieë gepak het in my kombuis gebruik nie?” vra Ellen skerp. “En dan wil jy man vat? By jou eet ek nie!”

Sy haak haar kombuisvoorskoot agter die deur af en sukkel met haar ongemaklike lyf houthoop toe, antwoord nie toe Liesie by die skuurtafel vra wat aangaan nie. Sy maak asbostakke bymekaar en steek ’n vuur aan. Met omstand maak sy loog van die as, skep die skoon water af en gaan skrop eiehandig die potterak af. Én die tafelblad wat sy net gister afgewas het.

Sy stoom, haar vel klam soos die dood, maar die drif lewe nog in haar oë toe sy die aswater onder die boom uitskiet.

“Ma…” Malie en Liesie is albei in trane, skaam en kwaad oor die onregverdigheid. Ellen se mond is toegeskroef om nie ’n geluid te laat ontsnap nie. Sy voel siek van swakte en haal ternouernood die kamer, los haar hopie klere net waar dit val. Sy vee die sweet van haar gesig af, trek ’n afgeleefde flennienaghemp aan wat eens pienk was maar nou perkamentagtig soos haar vel lyk, en sak op die bed neer.

“Hou die kinders buite,” beveel sy Liesie toe die skool die middag uitkom.

“Moet ons vir Pa laat roep?”

“Jou pa behoort self te weet.”

“Maar sê Ma . . .”

“Trek net die deur toe.”

Die gevoel sal netnou bedaar, laat sy net ’n rukkie rus, ’n ruk lank slaap.

Uitgewer: Kwela
Prys: R285-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.