Uittreksel uit: Stryd in die bos

’n Witrenosterkoei en kalf stap rustig deur die gras van die Laeveldse savanna. Oudergewoonte stap die kalf voor, terwyl sy ma hom liggies stuur met die punt van haar lang voorste horing. Dit is ’n besondere horing, eenhonderd-en-vyftien sentimeter lank. Die basis is breed en stewig geanker op die dier se neus. Daarna verloop die horing smaller, om soos ’n krom swaard in ’n skerp punt te eindig. Die tweede horing is amper onbeduidend langs dié manjifieke trofee. Die koei se bek is plat op die grond, waar sy gras met haar lippe afpluk. Die kleintjie vreet speel-speel saam. Met sy lang ore en horinglose neus kon ’n mens amper dink dat jy na ’n erdvark kyk.

Die koei verstar. Sy lig haar massiewe kop. Die ore beweeg, heen en weer soek hulle. Iewers is daar ’n onvriendelike geluid. Die kleintjie kom staan teen sy ma en druk sy boude styf teen haar agterbene. Saam trotseer hulle die aankomende gevaar in hul oer-oue verdedigingsformasie. Geleidelik word ’n dreuning hoorbaar, “tjoek-tjoek-tjoek,” klink dit bo die skril geskree van die sonbesies. ’n Helikopter kom laag oor die bosse aangevlieg. Die helikopter, ikoon van wildbewaring in Afrika. Die helikopter, wat derduisende stuks wild al gevang het om hervestig te word, sodat die wildbevolking kan groei en floreer.

Die helikopter se rigting stuur hom verby die twee renosters. Die koei skrik en draf weg van die vlieënde gevaarte, terwyl die kleintjie voor haar uitdraf. Liggies stuur sy hom met die punt van haar rekordhoring; tussen die akasias deur kronkel hulle draffie. Dan draai die helikopter terug. Die behendige vlieënier, held van die publiek, stuur die helikopter in die rigting van die vlugtende renosters. Met presiesheid word die helikopter net links van die renoster geposisioneer. Behendig hou die vlieënier die helikopter in posisie, presies vyf meter agter die koei en drie meter links van haar baan, terwyl hy noukeurig haar spoed ewenaar. Hoeveel jong manne beny hom nie vir sy edelmoedige werk en amper bo-menslike vernuf nie.

’n Skoot klap. Die renosterkoei steier. Dan kom sy weer op die been en hardloop met mening om weg te kom van die gevaar. ’n Tweede skoot klap. Dié slag struikel die koei en rol in die stof. Bloed spuit met ’n dik straal uit haar kop om ’n laag rooi skuim in die sand te maak. Verward kom die kalfie tot stilstand, kyk terug en draai terug na sy ma. Hy draf nader en pomp haar met sy neus. Sy reageer nie. “Tsjwee tsjwee” roep hy, en stamp weer aan haar. Tevergeefs. Die helikopter draai in die wind in en kom land langs die lewelose renosterkoei. Die passasier spring uit. In sy hand is ’n battery-aangedrewe kragsaag. Hy stap na die koei. Die verwarde kalf draf na hom toe en druk sy neus teen sy been, terwyl hy jammerlik “tsjwee, tsjwee”.

Geïrriteerd skop die saagdraer die kalf van hom af weg. Hy skrik en hardloop tussen die akasias in. Die vlieënier druk sy donkerbril styf teen sy neus vas – hy sweet. Presisievlieg is uitputtende werk. Die saagdraer druk die lem teen die basis van die horing, styf teen die vel. ’n Mens moet nie mors nie. Die saag skree skril soos dit deur die horing sny. Die brandreuk hang swaar in die lug. Bloed en stukke vel trek in ’n stroom die grasveld binne. Dan val die horing met bebloede basis in die sand. Die tweede horing word ook gesaag, dit is ook iets werd. ’n Mens moet nie mors nie. Die taak is klaar. Die koei se gesig het verander in ’n gapende gemors van bloed, vleis en vel. Die kaal bene van die skedel wys hier en daar, rooi bevlek. Die vlieënier spoeg in die sand. Sies, dis ’n lelike gesig.

Uittreksel geneem uit Stryd in die bos deur Johan Fourie (2011), gepubliseer deur Naledi uitgewers.

Vir meer inligting oor Stryd in die bos klik hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae