Uittreksel uit “Swart en wit” deur Annelie Botes

Uittreksel uit Swart op wit vir Riki Roos: Diep in die donker gang het ek na iets verlang

Ek sit kruisbeen op die vloer van die houtkerkie teen die skouer van die fynbosheuwel. My knieë druk teen die vloerhoogtevenster. Hier van bo af kan ek wyd oor die see sien. Wanneer ek so roerloos sit, word ek bewus van die fyn trillings wat sonder ophou deur my lyf trek. Asof ek ’n gloeilamp is waar rondom ’n horde motjies deurentyd wapper.

Die dokter sê dis spanning. My oortuiging sê dis langdurige skok.

Die hele Saterdagmiddag het ek hier in die kerkie afgestof, houtwerk geolie, vloer gepolitoer. Die vyf dak-tot-vloer-vensters aan die seekant gewas. Om besig te bly is die enigste manier om my swartgalligheid en woede te bedaar. Behalwe dat ek wou wegkom uit die bedrukkende huis, wou ek vandag vir die kerkie kom dankie sê dat sy my heiligdom is in die sewe maande sedert Desember.

Slegte maande.

Hartseer maande.

Al wat nou oorbly, is om in die kerkie te sit. Asem te haal, te tuur. Links in die vallei, aan die voet van die fynbosheuwel, lê ’n rykmansbuurt van Port Elizabeth. Regs lê die blokkiesrige kleinhoewes, bespikkel met weiende perde en wit paaltjieheinings. Op die gesigseinder lê die uitgestrekte see, vandag somberstil en sonder skuimperdjies. ’n Mens sou nie kon dink ek bevind my in ’n stad nie.

Soms bring ek my breiwerk saam om te verhoed dat ek myself van my sinne af dink. Wanneer ek brei, tel ek steke en daar is min inkomplek vir morbiditeit. In die sewe maande sedert die rasorkaan, het ek ag-en-sewentig hangeroortreksels gebrei. Bo in my kas by die reissakke en koffers lê omtrent nog honderd-en-twintig houthangers. Checkers se hele Green Acres-voorraad op een slag gekoop. ’n Menigte bolle wol ook. Daardie dag in die malende Checkers, knap voor Kersfees 2010, het ek ’n belofte aan myself gemaak dat ek nie sou selfmoord pleeg voor al tweehonderd hangers oorgetrek en uitgedeel is nie.

Nou, sewe maande later, is ek steeds nie ver daarvan om oor die grens te trap nie. Tog, nie meer so desperaat nie, dalk nie meer so gevaarlik naby nie. Dis net die motjies in en op my lyf wat nooit wegvlieg nie. En die nagtelike gekners wat my soggens met ’n pyn in die kake laat wakker skrik.

Dis beter dat ek vandag my breiwerk by die huis gelos het. Vandag wil ek net hier van bo af deur die dak-tot-vloer-vensters kyk na Schoenmakerskop se grou see. Na die sakkende son wat die toppe van die geel tolbosse vang en Seaview se kant toe tussen die purper-oranje wolkbondels in die see wegsink. Aanstons sal die winterse vroegaandkoue toesak. Soos dikwels in die laaste maande, sal ek die besem en emmer en skoonmaakgoed bymekaarvat. Met die veldpaadjie langs stap, kaalvoet oor die mat van verrotte blare en droë dennenaalde, tot waar Chris se bakkie onder die bome staan. Dalk verstaan ek iets van die wind se suislied in die dennetoppe. Dalk hoor ek ’n kiewiet wat roep om te sê die wind gaan môre waai.

Dalk gewaar ek ’n glimp van God in die proteas langs die veldpaadjie. Dalk nie. My geloof is wankelrig genoeg om te glo God het Sy blindekant na my toe gedraai. Sy arm is te kort. Sy ore is doof.

Dan sal ek in die bakkie klim en stadig huis toe ry. Al weet ek nie wat ek daar wil doen nie. My dringendste behoefte is om my swart voetsole te skrop. Dan padkos te maak vir môre se reis Kaap toe. Spesiale padkos, want môre is dit Vadersdag.

Dis ’n skande hoe ek Chris afskeep die afgelope maande. En nie net vir hom nie. Ons huis is nie skoon genoeg nie. Die kaste is ongeorganiseerd. Die wasgoed hoop op. As Chris nie kosmaak nie, eet ons brood. Die tuin wat deurentyd so kleurvol was, is vaal en oorgroei. My skryfwerk het agtergeraak, so te sê gestol. Daar is ’n string onbeantwoorde e-posse. Miskien moet ek voor slaaptyd klaarkry met die komende week se koerantrubriek en dit e-pos. Een taak minder om in die Kaap te verrig. Ek moet nog aan iets dink om oor te skryf.

Vir nóú wil ek net in die kerkie sit en dink oor die nuwe boek wat geskryf moet kom. Of nee, ek wil eerder hier sit en maak asof dit nie bestaan nie.

Sedert die einde van 2010 sit die uitgewers en wag vir die boek. ’n Roman. Nie ’n string aaneengelapte vertellings uit my lewe nie. Want daar is niks boheems aan my bestaan nie; my lewe lyk nes enige ander vrou s’n. Verkieslik moet dit ’n roman wees oor ’n sosiale kwessie, met ’n pakkende storielyn. Dis my sterk punt, sê die uitgewers.

Hulle is reg.

Maar daar is nie so ’n storie in my kop nie.

Ek het probeer. Weer en wéér. Tot by een-en-vyftigduisend woorde, wat verby die halfpadmerk is. Op daardie woordtelling het ek gisteroggend teen dagbreek gestop, in die middel van ’n onvoltooide sin. Die teks op ’n geheuestokkie gelaai en dit van my rekenaar afgevee. My hart is nie in daardie boek nie. Dalk poog ek oor twee jaar weer. Of oor drie jaar. Of nooit. Ek kan egter nie bekostig om my druppel energie op ’n skryfleuen te verkwis nie. Swak plot, kraglose karakters, aangeplakte dialoog. Dit wemel van skrywersmanipulasie soos ek navorsingsfeite opsluit wil inforseer. Lesers is nie swape nie. Hulle sal die onegtheid uitruik.

Dit is sinneloos om verder te baklei teen die kreatiewe leegheid in my kop. Leegheid is die verkeerde woord. Noem dit eerder ’n gedruis. ’n Kreatiewe gedruis. Want heeltyd skryf ek in my kop ’n ánder boek as die een wat op die skerm staan. Wanneer ’n boek in ’n mens se kop gebore word, laat hy hom nie doodskryf nie. Dan moet ’n mens luister. Dan bly daar niks anders oor nie as om die boek te skryf wat geskryf wíl wees.

Pen dit neer, swart op wit. Al word dit uiteindelik net ’n memorieboek vir ons kinders. Memorieboeke is belangrike boeke. Dit moet met opregte passie geskryf word.

Soos Paolo Coelho sê:

“Even a simple letter demands that we put all power into it that we have, as if we were to carve its meaning in hard stone. Thus, when holy scripts find their place on paper, they also include the person’s soul. Because the hand leading the line reflects the soul of the writer. I regard writing as a spiritual activity.”

Kardinale woorde.

Hoe langer ek vermy om daaraan gehoor te gee, hoe nader forseer ek myself aan die afgrond. Soms dink ek die beste ding wat ek kan doen, is om my skryfpen permanent neer te lê. Tog, skryf is so diep in my bloed gesetel dat ek nie weet hoe ek dít gaan regkry nie.

Terselfdertyd weet ek nie hoe ek énige boek geskryf gaan kry nie. Sedert die Rapport-artikel in November 2010, sewe maande terug, het my kreatiwiteit oornag verdwyn. Almal sê ek moet dit vergeet en ophou om my daaroor te ontstel. Gaan aan met jou lewe, sê hulle, en skryf eerder vir ons nog ’n boek. Maar my kop werk nie so nie.

Dalk keer my kreatiwiteit eendag terug.

Ek weet nie.

Al wat ek weet, is dat ’n mens soms so ontsaglik groot skrik dat jy ontspoor. Om te glo ’n aangeplakte roman sal my moeiteloos terugsit op my spore, is fataal. Al my jare is ek ’n broeier wat nooit daarin kon slaag om bo-oor slegte gebeure te leef asof dit geen hindernis is nie. Ek leef déúr elke nuanse, ongeag of dit my tot raserny dryf. Gaandeweg klim ek terug op my spore, en verstaan ek die tragedies van my lewe beter.

Net ’n bietjie, maar nogtans.

Daarom rus die halfvoltooide teks op ’n geheuestokkie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae