Uittreksel uit “Vuilspel” deur Bettina Wyngaard

Bettina Wyngaard

Hoofstuk 19
Bladsy 84

Nie sy of die ander twee ken die plek goed genoeg om te weet hoe om by die adres uit te kom nie. Nêrens is daar ʼn straatnaam te sien nie en hulle moet twee keer stop en aanwysings vra. Peters doen die vrawerk.

Dis meestal vroue op straat, met hier en daar groepies jong mans wat op die hoeke sit en rook en bordspeletjies speel of dobbelsteentjies gooi. Hoe verder hulle die gebied in ry, hoe skaarser word die mense en die teerstrate, totdat hulle op ʼn plek met ongeteerde strate beland.

Nicci ry al stadiger om die talle slaggate en klippe in die pad te ontduik. Toe hulle die huis uiteindelik vind en stilhou, lyk alles verlate in teenstelling met die besige strate waardeur hulle gery het. Die twee kinders wat voor ʼn huis ʼn entjie verder in die straat af gespeel het, het laat spaander sodra hulle die blou lig op die polisievoertuig se dak gesien het. Net ʼn paar brandmaer honde slinger lui-lui die straat af. Dis voorwaar ʼn triestige gesig, dink Nicci.

Sy en Blackie kyk na mekaar, klim uit en stap saam na die huis, Peters ʼn paar treë agter hulle.

Die huis is rooibruin geverf, soos al die ander in die straat. Dis omhein met ʼn geroeste draad wat heelwat ouer lyk as die huis self. Dan val die sonenergieverwarmer op die dak Nicci op. Een stukkie moderne gerief in die omgewing waar alles andersyds subekonomies is.

Die lendelam hekkie kraak toe sy dit oopstoot en steek dan halfpad vas. Toe Nicci afkyk, sien sy dat die hekkie ʼn voor in die grond oopgeveeg het – net mooi tot waar hy nou vashaak. Duidelik kan hy nie verder oop nie. Sy glip deur en kyk met ʼn glimlag om. Blackie het hom skuins gedraai en moet skuur om deur die opening te kom. Dan fokus sy haar aandag weer op die huis.

Die ruite is vuil. ʼn Stuk gordyn het van sy reling afgeglip en hang slap teen die voorruit. Die klein stukkie grond voor die huis is totaal verwaarloos. Net ʼn paar verdroogde dissels staan in een hoek. Die trappie is half onder die grond begrawe wat mettertyd teen die deur begin vaswaai het.

“Beslis nie tuisteskepper van die jaar nie,” brom Blackie langs haar.

Nicci onderdruk ʼn glimlag. Toe sy haar hand oplig om aan die afskilferende voordeur te klop, merk sy op dat dit op ʼn skrefie oopstaan en daar ʼn smeersel bloed aan die deurraam is.

In ʼn oogwink, instinktief, is haar pistool in haar hand. Sy beduie met twee vingers na haar oë en dan die deurkosyn om Blackie attent te maak op wat sy sien. Dan beduie sy dat Peters na die agterkant van die huis moet omgaan.

Peters drafstap, pistool in die hand, saggies en gebukkend langs die symuur af, so laag dat niemand hom deur ʼn venster sal kan sien nie. Nicci en Blackie, wat ook sy pistool oorgehaal het, het hulle intussen aan weerskante van die deurkosyn teen die muur platgedruk.

Hulle kyk mekaar in die oë, en dan begin Nicci woordeloos tel. Toe sy haar kop liggies knik, stoot Blackie die deur suutjies met sy voet oop terwyl hulle steeds teen die muur skuil om so ʼn klein moontlike teiken te wees.

Nicci trek haar asem in. Groot plasse halfgestolde bloed lê in die ingang, en daar’s bloederige handafdrukke laag teen die muur. Hoër op streep daar ʼn boog vars bloed teen die muur. Onder die dun lagie wit verf op die muur begin die sement deurslaan.

Hulle beweeg vorentoe. In die klein sitkamertjie lê twee wit plastiekstoele op hulle kant. Die een se poot is af. Oral is daar nog plasse bloed te sien, veral langs en onder ʼn houtkoffietafeltjie wat uitmekaar gebreek is.

Hulle trap versigtig om die bloed, pistole in ʼn dubbelhandgreep voor hulle uit. In die smal gangetjie is daar verdere sleepmerke en bloedplasse. Nicci beduie dat sy die deur aan die regterkant sal vat. Blackie knik, en beweeg dan na die deur links.

Hulle glip gelyktydig by die deure in, vinnig en laag. Daar is niemand in die twee vertrekkies nie. In die piepklein slaapkamer waarin Nicci haar bevind, lê slegs ʼn matras op die vloer neergegooi. Die verslete deken is gedeeltelik van die bed afgetrek, en soos elders tot dusver, is daar bloedstrepe en kolle op die grond en teen die mure. Daar is nêrens plek waar iemand kan wegkruip nie.

Terwyl Nicci na die gang terug beweeg, hoor sy ʼn gekreun agter uit die huis uit. Sy verstyf en kyk vinnig na Blackie om seker te maak hy het dit ook gehoor. Sy beduie dat sy voor sal loop na wat, sy vermoed, die kombuis moet wees.

Dan kraak ʼn deur vinnig oop. Daar’s ʼn dowwe slag, en Peters wat skree, gevolg deur die geluid van voete wat weghardloop…

Uittreksel uit: Vuilspel
Uitgewer: Random House Struik, Umuzi
Prys: R180-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.