Uittreksel: Verlief

Hoogtevrees

Deur Jaco Jacobs

“Is jy seker dis veilig?”

Ek knik. “Natuurlik, Tannie. Hier’s al honderde mense vandag hier af en niemand het seergekry nie.”
Die vrou loer weer benoud ondertoe en verstel die kanariegeel bikini wat duidelik vir ʼn ietwat kleiner lyf as hare gemaak is. “Ek weet darem nie… Dis hoog hier af…”

Die ry agter haar word al hoe langer.

“Moenie daaroor dink nie. Knyp net Tannie se oë toe en laat los,” gee ek raad.

Sy leun bewerig agtertoe. Met haar een hand vat-vat sy aan haar bos bloedrooi hare om seker te maak dit is goed vas – en dan gly haar voet op die gladde rubber.

“Whoooooeeeeeeeeee!” bulder sy met ʼn diep stem terwyl sy in ʼn gordyn van water ondertoe gly. “Whooooooooeeeeeee!” Sy kom met ʼn gespat onder in die swembad te lande.

Ek kyk op my horlosie. “Dis tyd vir my lunch break,” sê ek vir Ricardo.

Hy grinnik. “Geniet jou hotdog. En vra tog nou net die girl op ʼn date. Ek is moeg daarvoor om in jou verliefde gesig vas te kyk.”

Ek sug. “Ja-ja. As dit maar net so maklik was.”

“Woe-hieeeeeee!” gly ʼn jongerige outjie tussen ons af.

“Wat’s so moeilik daaraan, Wikus?” vra Ricardo met ʼn tergklank in sy stem. “Volg net jou eie raad: Moenie daaroor dink nie. Knyp net jou oë toe en doen dit.”

Yeah right. Maklik vir hom om te praat. Hy’t nie ʼn skaam haar op sy kop nie. Hy flirt met elke tweede meisie wat by die glybaan afgly.

Met jellierige bene klouter ek aan die agterkant van die glybaan af.

Tot dusver is dit ʼn great vakansie. Oom Bernard, die eienaar van die waterglybaan, betaal my en Ricardo heel goed. Teen die einde van die vakansie behoort ek genoeg geld te hê vir volgende jaar se hokkietoer na Australië. My pa het verlede jaar sy werk bedank en sy eie besigheid begin, so dit gaan nog maar broekskeur met sy geldsake.

Dis nie die moeilikste werk op aarde nie – ek en Ricardo moet net sorg dat daar nie meer as een persoon op ʼn slag by die glybaan afgly nie, seker maak dat ons ʼn toegangsrekkie kry by elkeen wat afgly, en kyk dat niemand seerkry nie.

Daar’s net twee dinge wat my pla – en een daarvan is die worsbroodjiestalletjie oorkant die swembad…

Die meisie glimlag vir my bo-oor die koppe van die twee kliënte voor my in die ry. My maag draai soos die vrou met die geel bikini sʼn vermoedelik gedraai het netnou toe sy met ʼn “Whoooooooeeeeeeeeee!” by die glybaan af is.

“Een met tamatiesous en mosterd en een met blatjang?” vra sy toe ek voor in die ry kom.

Ek knik stom. Sy onthou wraggies al my bestelling.

Ek hou haar al die afgelope twee weke dop. Lang, donker hare wat sy altyd in ʼn poniestert dra, groen oë, en die soort goudbruin vel wat jy eers ná weke by die see kry.

Ek móét net eenvoudig iets vir haar sê. Ek hoor Ricardo se stem in my kop: Moenie daaroor dink nie. Knyp net jou oë toe en doen dit.

Sy hou die twee worsbroodjies na my toe uit. “Vyftien rand.”

“Dankie,” sê ek en oorhandig die geld.

Ek trek my asem in om nog iets te sê… en dan begewe my moed my.

Met ʼn sug stap ek weg, ʼn worsbroodjie in elke hand.

Chicken, chicken, chicken.

“Haai, jou kleingeld!”

Dit neem ʼn oomblik voor ek besef sy praat met my. Met gloeiende wange draai ek om. Daar is ʼn tergende vonkeling in haar oë toe sy die kleingeld in my hand sit.

Moenie daaroor dink nie. Knyp net jou oë toe en doen dit.

“Hoekom het jy nog nie een keer op die waterglybaan kom ry nie?” vra ek met ʼn stem wat skielik heserig klink.

Haar wenkbroue lig. “Uhm… ek weet nie…”

“Hoogtevrees?” vra ek. Ek probeer my bes om te klink of ek net soveel selfvertroue soos Ricardo het. “Ek dare jou, kom probeer dit ʼn slag. Dis nie so erg as wat dit lyk nie.”

“Hei, dude, hier’s drie honger surfers agter jou in die ry, ingeval jy nie gesien het nie,” sê iemand ongeduldig.

Ek maak my uit die voete.

Die res van die middag gaan stadig verby. Elke keer as iemand by die glybaan opklim, hoop ek om haar gesig te sien.

“Amper toemaaktyd,” roep oom Bernard uit die kantoortjie waar hy heeldag die rekkies vir die waterglybaan verkoop. Dit beteken ek en Ricardo moet oor ʼn paar minute die glybaan laat afblaas.

Toe ek omkyk, staan sy langs my op die platform.

“Uhm… haai,” stotter ek verbaas.

“Ek sal afgaan, maar net op een voorwaarde,” sê sy. “Jy moet saam met my af.”

Ek sluk. “Dis… uhm… dis eintlik teen die reëls om twee-twee af te gly…”
Ricardo maak groot oë vir my. “Maar vir jou sal Wikus die reëls ʼn bietjie buig, of hoe?” vra hy. “Go on, Wikus.”

Ek gaan sit op die punt van die platform. My hart klop gevaarlik vinnig. Sy kom sit agter my en vou haar hande om my bors.

“By the way, my naam is Reza,” sê sy oor haar skouer.

Ek dwing myself om te kalmeer. “Oukei, Reza,” sê ek, “ek weet dis vrek hoog, maar moenie worrie nie. Probeer van jou hoogtevrees vergeet. Hier’s al honderde mense vandag hier af en niemand het seergekry nie. Moenie daaroor dink nie. Knyp net jou oë toe en laat los.”

Ek huiwer ʼn oomblik. Dan knyp ek my oë toe en begin teen die steilte afseil. Vinniger en vinniger. My maag maak ʼn wilde draai.

“Whooooooeeeeeeeeeee!”

Ek kom eers agter ek skreeu toe ek met ʼn mond vol chloorwater in die swembad beland. Die water borrel en suis ʼn oomblik lank om my ore voor ek die oppervlak breek. Haar hande laat los my en ons swem laggend tot aan die oorkant van die swembad.

“Sien,” sê ek, skielik dapper,” dis nie regtig so erg nie.”

Sy glimlag en vee haar nat poniestert eenkant toe.

Dalk is dit die adrenalien wat my moed gee. “Hoe lyk dit,” vra ek, “wil jy dalk oor so ʼn uur saam met my ʼn milkshake gaan drink?”

Een melkskommel word twee. Teen die tyd dat die kelner kom sê hulle wil die restaurant toemaak, het ons nog nie een keer ophou gesels nie. Dis ongelooflik – vanmiddag het ek nog nie haar naam geken nie, en nou weet ek dat sy sestien jaar oud is (nes ek), dat sy in Pretoria bly (nes ek), dat sy hou van perdry, foto’s neem en fliek, dat sy ʼn hond het met die naam Einstein, en dat sy baie van lemmetjie-melkskommel hou. En sy is vrek, vrek mooi.

“Ek het ʼn geheim om jou te vertel,” sê ek toe ons al met die see langs stap in die rigting van die vakansiehuise waar sy gesê het haar ouers bly.

“Watse geheim?” vra sy.

Ek steek my hand uit en vou dit om hare terwyl ons stap.

“Wel… uhm…” Ek skraap my keel. “Ek het die hele vakansie nog nie een keer by daardie glybaan afgegly nie. Vanmiddag saam met jou was die heel eerste keer. Ek het hoogtevrees, nes jy.”

In die skemer is dit moeilik om haar gesigsuitdrukking te sien. Onder ons slaan die branders ritmies teen die rotse.

“Ek het ook ʼn geheim om jou te vertel,” sê sy. “Oom Bernard is my oupa. Hy besit die glybaan al vandat ek vyf of ses jaar oud is. Ek het kleintyd elke vakansie duisende kere daar afgegly – dis hoekom dit nie meer regtig soveel pret is nie.”

Dit vat my ʼn oomblik om dié inligting te verteer. Oom Bernard haar oupa?! “Is die hotdog-stalletjie dan ook syne?” vra ek.

Sy knik.

“So, jy ly nie aan hoogtevrees nie?” vra ek afgehaal.

Sy gaan staan stil en kyk oor die see. “Nope,” sê sy. “Glad nie.”

Ek staan ʼn oomblik stil langs haar. Dan trek ek haar nader en soen haar. “Ek ook nie meer nie,” fluister ek.

Vir meer inligting oor die boek, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Zoe Labuschagne ·

Ek is verlief op die boek!!!! Kan julle dit dalk na my ma se posbus toe stuur? Dit is: bus 6231, Baillie Park, Potchefstroom, 2526.
Baie liefde Zoe!

Zoe Labuschagne ·

Ek is verlief op die boek!!!! Kan julle dit dalk na my ma se posbus toe stuur? Dit is: bus 6231, Baillie Park, Potchefstroom, 2526.
Baie liefde Zoe!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.