Uittreksel: “Wat’s nuus” deur Riaan Cruywagen

Riaan Cruywagen en die karakter Haas Das vir wie hy jare lank ‘n stem gegee het.

O Moedertaal, O Soetste Taal

Bladsy 209

Min dinge lê my nader aan die hart as my moedertaal, Afrikaans. Dit maak my seer as Afrikaanssprekendes my taal vermink en traak-my-nieagtig daarmee omgaan. Sedert ek die eerste keer in 1965 begin uitsaai het, het ek my dit ten doel gestel om Standaardafrikaans te help bevorder. Dit het spoedig ʼn lewenswyse geword en ek is dankbaar dat baie mense my vandag met goeie Afrikaanse taalgebruik vereenselwig. Daarom is dit gepas dat ek ook ʼn hoofstuk daaraan wy.

Dalk is ek uit die oude doos, maar dit is myns insiens ʼn ondiens aan ons taal as ʼn Afrikaanse kunstenaar sê: “Dis awesome om in hierdie beautiful dorp op stage te staan en ʼn paar van die great Afrikaanse songs te sing wat ek onlangs in die studio vir my nuutste sie-die gerecord het. Die band was stunning, die producer het sy kant gebring, en ek hoop julle love die hele show.” Party mense sal dit seker as loslit-Afrikaans beskou, maar vir my is dit geradbraakte Afrikaans. Daar was ʼn tyd toe ons met die Hollanders die spot gedryf het omdat hulle Nederlands so erg met Engels deurspek was, maar vandag staan Afrikaans self agter die deur met dié geknoei.

In Maart 2011 is ek genooi om as gasspreker by ʼn byeenkoms van die ATKV in Centurion op te tree waar daar onder meer afskeid geneem is van Peet van Staden, jare lank die uitvoerende regisseur van Afrikaanse TV-nuus en ʼn kampvegter vir die gebruik van goeie Afrikaans in ons nuusuitsendings. Ek het goeie aanklank by Peet gevind omdat hy hom daarvoor beywer het dat Standaardafrikaans konsekwent in ons bulletins gebruik word. Ons het albei saamgestem dat oordrewe purisme meer kwaad as goed kan doen, maar het saam ons bes gedoen om gemaklike, suiwer Afrikaans te bevorder. Die ATKV het my gevra om te praat oor Die Uitsaaier as normeerder van Afrikaans. My betoog het soveel gunstige reaksie ontlok, dat ek graag die kern daarvan hier wil aanhaal.

Ofskoon ek geen mandaat het om namens die SAUK te praat nie, glo ek dat ek sonder vrees vir teëspraak kan sê dat die korporasie hom vereenselwig met die proses van nasiebou en die vestiging van lojaliteit in die land. Die nasionale uitsaaier het nog altyd die bestaan van ʼn ryke verskeidenheid taalgemeenskappe erken, en hom in sy uitsaaiprodukte gerig op die behoeftes van die verskillende teikengehore en die ontginning van Suid-Afrika se taalrykdom.

Met die aanbieding van sowat 7 000 TV-nuusbulletins op my kerfstok sedert 1975 en as jare lange lid van die SAUK se komitee vir taaladvies tot met die ontbinding daarvan in 1995, glo ek dat ek maar voorbarig genoeg kan wees om my met betreklike gesag uit te laat oor die uitsaaier as normeerder van Afrikaans.

Daar is reeds so baie oor norme gesê en gespekuleer dat ek onmootlik tot buitegewoon nuwe insigte kan kom wat nie reeds deur gerekende taalkundiges geopenbaar is nie. Ek dink egter dit is nuttig om te verduidelik waarom ek reken dat taalnorme en Standaardafrikaans belangrik is – veral in die uitsaaiwese. En om ʼn tikkie geloofwaardigheid aan my betoog te probeer verleen, wil ek standpunt van ʼn vooraanstaande Nederlandse taalkundige en direkteur van die Meertens-instituut aanhaal.

Die Meertens-instituut in Amsterdam hou hom besig met die bestudering en dokumentasie van die Nederlandse taal en kultuur en is ʼn onderdeel van die Koninklijke Nederlandse Akademie van Wetenschappen – ek sou sê, ruweg vergelykbaar met die houding hier te lande van die Taalkomissie tot die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. ʼn Hoogs gerespekteerde liggaam wat hom met gesag kan uitlaat oor norme en standaardtaal, is dus hier ter sprake.

Die direkteur van die Meertens-instituut, prof. dr. Hans Bennis, is gevra wie nou eintlik bepaal wat standaardtaal (of dan Standaardnederlands) is, en wat nié. Prof. Bennis se antwoord was so in my kraal. Hy het gesê, en ek vertaal sy antwoord vry in Afrikaans: “Vir die meeste Nederlanders is die taal van die nuusleser nog steeds die beste voorbeeld van standaardtaal. Daarom beskou ons (d.w.s. die Meertens-instituut) dit ook as die norm.” Dit is ʼn hele mondvol. Prof. Bennis verwoord dit waarmee ek in die SAUK grootgeword het, nl. dat die taal wat ons praat deur die luisteraars as die norm beskou en aanvaar word. Dit geld elke taal waarin ons uitsaai, nie net Afrikaans nie. Taalversorging is ʼn sleuteldeel van die uitsaaibedryf en daar rus ʼn dure verpligting op alle uitsaaiers (omroepers, nuuslesers, nuusskrywers, programaanbieders of wat dan ook) om noulettend die vereiste waardes en norme in hulle taalgebruik te eerbiedig en in stand te hou. ʼn Uitsaaiorganisasie wat sy sout werd is, sal terdeë daarvan bewus wees dat die taalgebruik in sy uitsendings die taal van die luisteraars en kykers grootliks beïnvloed.

Ek wil hoegenaamd nie voorgee dat alles in die verlede op taalgebied net goed was en dat die moderne tyd met sy taalverskynsels nie deug nie – allermins. Maar daar is wel nuttige lesse ten goede uit die verlede te leer. Kyk, ek is bly Standaardafrikaans is van sy knellende borsrok bevry; hy is nie meer ʼn formele, oorbeklede spektakel in kisklere nie. Dis eweneens goed dat Afrikaans, wat in 1976 in die beskuldigdebank gestaan, op 2 Februarie 1990 die taal van die bevryder geword het. Sedertdien het die taal brûe oor kleur- en kultuurgrense heen help bou; mense wat voorheen verseg het om ʼn woord Afrikaans te praat, neem hom nou met vrymoedigheid op hulle lippe – al is dit met ʼn aksent, maak dit nie saak nie; wat belangrik is, is dat hy gepraat word! Afrikaans is van Afrika, vir Afrika. Gee hom kans, gun hom sy vleuels en kyk maar hoe hy versoenend te werk kan gaan. Ek merk al reeds ʼn reusetoename in die aantal swart landgenote wat my op straat geesdriftig meedeel dat hulle graag na die TV-nuus in Afrikaans op SABC2 kyk. Dit is tekenend van Afrikaans se kragtige potensiaal.

Dis vir my nogal intimiderend om te dink dat ek byna al om die ander aand met miljoene mense in die Nuus om Sewe gesels – in Afrikaans, nogal, terwyl nie naastenby almal van hulle Afrikaans-moedertaalspekers is nie. Daar rus dus ʼn onontkombare verpligting op elke uitsaaier om nie net te alle tye volkome professionele op te tree nie, maar ook te sorg dat sy taalgebruik altyd keurig is. En dit het regtig absoluut niks met oordrewe purisme te doen nie.

ʼn Beeldhouer gebruik ʼn kamera en ʼn beitel om vorm te gee aan ʼn ruwe stuk graniet. Hoe skerper en beter sy gereedskap is en hoe behendiger hy daarmee te werk gaan, hoe aanskouliker gaan sy eindproduk lyk. Die radio- en TV-uitsaaier is in ʼn sekere sin ook ʼn beeldhouer en een van sy beitels is die taal – in ons geval, Afrikaans. Tog jammer dat sommige uitsaaiers toelaat dat hulle Afrikaanse taalbeitels roes of stomp word, want so verloor andertaliges naderhand respek vir die Afrikaans wat hulle oor die eter hoor.

Eintlik het ek ʼn hekel aan die uitdrukking loslit-Afrikaans, want te veel mense (en dit sluit helaas sommige uitsaaiers in) beskou dit as ʼn ope uitnodiging om hulle taal met Engels te deurspek, slordig te praat, woorde verkeerd uit te spreek, woordklemme verkeerd te plaas en hulle nie aan sinskonstruksie, grammatika of spelling te steur nie. Ek dink nie dit was die bedoeling toe Afrikaans sy knellende borsrok afgeskud het nie, wel dat die taal minder formeel en meer gebruikersvriendelik moes word.

Die kurwes en naaktheid wat sigbaar geword het toe die borsrok uitgetrek is, het ongelukkig by sommige mense ʼn wellus gewek wat meermale tot die verminking van veral gesproke Afrikaans lei. Wyle prof. Johan Combrink, gesiene Stellenbosse taalkundige, het by geleentheid gesê dit is jammer dat soveel geskoolde mense onder die wanindruk verkeer dat die spreektaal minderwaardig en die skryftaal meerderwaardig is. “Ons is op skool geleer om te skryf en te lees (in ʼn mindere mate hoe om te lees), terwyl die spreektaal – hoe om te praat – feitlik geen aandag gekry het nie. Gevolglik reken die gemiddelde leek dat die skryftaal die enigste norm is. Dit is eenvoudig nie waar nie,” het hy gesê.

Prof. Combrink het dit onomwonde gestel dat die spreektaal in minstens twee opsigte primêr is: In die geval van alle tale, en ook in die geval van Afrikaans, is die taal dekades lank – partykeer eeue lank – gepraat voordat dit die eerste keer geskryf is. En ten tweede, elke kind wat leer skryf, praat die taal gewoonlik ʼn hele paar jaar lank voordat hy dit leer skryf.” Daar is baie waarheid in die stelling dat die skryftaal eintlik gereduseerde spreektaal is. Tot so ver van my kersopstekery by die deurlugtige prof. Combrink.

Al is die taal wat ons praat nou informeler, losser en gemakliker, en al akkommodeer ons nou uiteindelik in ons radio- en televisie-uitsendings ook variante van die taal naas Standaardafrikaans, beteken dit nié dat mens nou maar:

  • Stappe kan neem pleks van stappe doen nie;
  • Kan sê huidiglik terwyl daar nie so ʼn woord in Afrikaans bestaan nie;
  • As sulks kan sê pleks van sodanig nie;
  • ʼn probleem kan aanspreek pleks van aanpak of bespreek nie;
  • kan praat van die feesgety wat aangebreek het as jy die feestyd bedoel nie (want net die see het getye);
  • kan sê ʼn vlag hang halfmas pleks van halfstok nie;
  • kan verwys na ʼn saak van kritiese belang pleks van kritieke belang nie;
  • na die Australiërs as Australianers kan verwys nie ;
  • van Brussels pleks van Brussel kan praat nie; en
  • na Munich pleks van München kan verwys nie.

Ek kan tot naarwordens toe nog voorbeelde aanhaal. En dan het ek nog nie eens geraak aan die klakkelose navolging van die Engelse sinskonstruksie wanneer nuusberigte vertaal word nie of verkeerde woordklemplasings en ontronding voor die mikrofoon nie. Dis soms om van te ween.

ʼn Mens – en veral ʼn goeie uitsaaier – moet steeds kan onderskei tussen reg en verkeerd, al is die Afrikaans losser en minder formeel. Daar is immers steeds skryf- en spelreëls wat gevolg moet word. In dieselfde asem is daar nie meer plek in die moderne Afrikaans vir hoogdrawende, opgepompte taal nie. Dankie tog,

  • ons poog deesdae nie meer, ons probeer;
  • party van die gelukkiges onder ons se salarisse word nie meer opwaarts aangepas nie, maar verhoog;
  • ons hoef nie meer ʼn situasie deurlopend te monitor nie, ons kan sommer net die toestand fyn dophou; en
  • ons is nie meer woonagtig en werksaam te Johannesburg nie, ons woon en werk maar net daar.

Gelukkig is selfs die dae verby toe daar verwag is dat die dominee met toga en bef van die kanse af sou sê: “ Die gemeente sit haar aangevange godsdiensoefening voort deur die stem hartlik in sang te verhef…” Die standpunt dat dit nie saak maak hóé die boodskap oorgedra word nie, as dit maar net oorgedra word, is betreurenswaardig. ʼn Afrikaanse koerant wat sy sout werd is, sal nie sommer toelaat dat sy joernaliste die taalreëls oortree, spel soos hulle wil en die publikasie ʼn onversorgde, traak-my-nieagtige voorkoms gee nie. Net so behoort uitsaaiers nie geduld te word wat luisteraars en kykers met halfgebakte Afrikaans en slordige aanbieding vervreem nie.

Toe ek in die jare sestig oor die radio begin uitsaai het, is ons geleer om te dink voordat ons ons monde voor ʼn mikrofoon oopmaak. Dit was algemeen bekend dat onderwysers en dosente hulle leerlinge en studente lank voor die koms van televisie aangemoedig het om na die Afrikaanse Diens te luister as hulle goeie Standaardafrikaans wou hoor of aanleer – presies waarop prof. Bennis van die Meertens- instituut gesinspeel het. En ons was trots daarop dat ons as die normeerders van gesproke Afrikaans beskou was. Ons moet ons afvra of dit vandag nog die geval is of behoort te wees.

As ʼn mens luister na die geradbraakte Afrikaans wat in talle handelsflitse gehoor word, is dit duidelik dat reklame ʼn sluwe jakkals is wat die wingerd verinneweer, wat in sy onverdeelde gedienstigheid aan Mammon die taalstandaarde ondergrawe wat oor soveel jare met toewyding en sorg gevestig is. En talle stemkunstenaars doen lustig mee aan die verminking van Afrikaans omdat hulle die kliënt tot elke prys ter wille wil wees – ten koste van Standaardafrikaans.

Die SAUK verdien ʼn klop op die skouer omdat hy dit steeds vir toegewyde Afrikaanstalige uitsaaiers moontlik maak om ons passie en liefde vir goeie taalgebruik uit te leef. Die gulde geleentheid word op ʼn skinkbord aan ons gebied om gemaklike Standaardafrikaans die eter in te stuur, maar ongelukkig benut nie alle Afrikaanse uitsaaiers dit nie. Gevolglik verloor moderne Uitsaaiafrikaans gaandeweg sy normeringsrol, en verloor die taal wat ons oor die radio en televisie hoor sy glans en bekoring, en maak die bewondering van andertaliges plek vir ontnugtering oor die taalverwaarlosing wat ingetree het.

Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek het dit hoegenaamd nie teen aksente nie. Inteendeel – ek is dankbaar dat ons al meer streekaksente en variante van Afrikaans in ons uitsendings hoor. Dit doen egter geen afbreuk aan die feit dat bepaalde taalreëls steeds behoort te geld nie.

Elke mens praat soos hy gebek is, het prof. Combrink gesê. Wel, ek is gebek om Afrikaans te praat soos televisiekykers dit saans in Die Nuus om Sewe op SABC2 hoor. Ek is trots daarop en ek maak geen verskoning daarvoor nie. Dit beteken egter nie dat mý Afrikaans beter is as dié van iemand wat Standaardafrikaans met – byvoorbeeld – ʼn Wes-Kaapse of Namakwalandse aksent of ʼn Overbergse bry praat nie. Hoegenaamd nie!

Ons moet andertaliges lus maak om ook saam te praat in Afrikaans – deur geduldig te wees met hulle aksente, pleks daarvan om dit te kritiseer. Dikwels is dit mense wat voorheen geskroom het om Afrikaans te praat, wat nou geesdriftig is om hulle in dié taal uit te druk. Gun hulle die geleentheid, moedig hulle aan, en help só om Afrikaans vriendelik te hou, inklusief te maak en uit te brei. Maar stel dan ʼn navolgenswaardige voorbeeld van keurige Afrikaanse taalgebruik – veral oor die radio en op televisie.

Die ATKV het al by geleentheid gesê Afrikaans kook. Die bestanddele wat die Afrikaanse taal op sy beste laat kook, is gemaklike, gesellige, onopgesmukte Standaardafrikaans. Laat almal wat saamkook aan die taal daarteen waak om te veel onnodige bymiddels in te roer wat ʼn wrang smaak in die mond laat – soos om hom met Engelse woorde, uitdrukkings en invloede te deurspek.

Want dan kook Afrikaans nie meer nie. Dan brand hy aan.


Wat’s nuus?
Uitgewer: Naledi
Prys: R100-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae