Uittreksels: Die dinge wat Rian nié moes sê nie

Rian van Heerden (Foto: Facebook)

Aanhangers van die dikwels omstrede radio-omroeper en televisiepersoonlikheid Rian van Heerden kry die geleentheid om 16 van sy mees omstrede uitlatings van nader te beskou in sy boek wat pas verskyn het, 16 dinge wat ek nié moes sê nie.

Van Heerden het vroeër in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê die hoofstukke bevat besprekings oor die dinge wat hy volgens ander mense nié moes sê nie én grepies uit sy lewe wat nog nooit voorheen in die media bekend was nie.

“Ek bied ʼn ander blik op Rian van Heerden as die radio- of televisiepersoonlikheid wat mense leer ken het. Ek het besluit as ek eerlik wil wees, moet ek dit 100% doen en nie halfhartig nie. Ek het nog nooit dié goed wat in die boek is in enige onderhoud bespreek nie. Daar is dele van die legkaart wat ineenpas en mense ken nie altyd die volle storie nie. Die hoofstukke bied ander skakerings en fasette van die geheelbeeld van my lewe. Hulle sal heel moontlik iets sien of leer oor my waarvan hulle nié geweet het nie,” het hy vertel.

Hy takel dié omstrede uitlatings een vir een – selfs al sou hy hom nie noodwendig as omstrede bestempel nie. “Daar was ʼn tyd in die begin van my loopbaan wat ʼn mens uit jou pad gegaan het om omstrede te wees. Dit was ʼn thing gewees. As jong omroeper wou jy gehoor word. Daar was tye dat ek doelbewus omstrede was. Maar in my mees onlangse lewe het dit begin gaan oor eerlikheid en om ʼn mening oor iets te hê. Ek beskou myself nie nou as omstrede nie.”

Lees hieronder uittreksels uit hoofstuk agt van 16 dinge wat ek nié moes sê nie. Die uittreksels word met vergunning van NB Uitgewers op Maroela Media gepubliseer. Vir meer inligting besoek NB Uitgewers se webwerf. Besoek ook Rian se amptelike Facebook-blad.

Oor ʼn onderhoud met Eugène Terre’Blanche ná die beëindiging van die AWB

Dit was lateraan, toe ek vra oor die toesprake, dat ek die volle mag van ’n siedende Eugène Terre’Blanche gevoel het. Ek wou weet oor die perd-insident, daardie dag toe hy van sy perd afgeval het en of dit wel so was dat hy die vorige aand hard gekuier het.

Hy wou weet wat ek bedoel.

Met verwysing na al die gerugte van Eugène se liefde vir die bottel vra ek toe of hy dronk was tydens sommige van sy toesprake.

Eugène het ontplof.

Die beste hoe ek dit kan beskryf, is soos ’n stoomtrein wat direk op jou afpyl. Nadat hy my eers goed die kop gewas het, het hy dit ontken. Ná die tyd het ek nogal sleg gevoel, omdat ons ’n goeie verhouding gehad het. Ek onthou dat ek hom gevra het of ons maar êrens vorentoe kan braai, ’n vraag waarop ek nie eintlik ’n antwoord gekry het nie. Ek vra toe, net om ’n gesprek aan die gang te hou: “Waar is Martie?” En Eugène kyk my stip in die oë en sê in sy tipiese diep Eugène-stem: “Sy het seker maar die koekroller gaan haal.” Daar was ’n vonkel in sy oog.

Hierna het ek nog ’n keer of wat telefonies met Eugène gepraat in my tye by OFM in Bloemfontein en hy was altyd bereidwillig om te gesels. Gewoonlik, wanneer ek gebel het, was hy iewers op sy plaas besig. Die plaas waar hy vermoor is … April 2010. Ek was in my gunstelingkuierplek in Bloemfontein, Barbas, toe ek ’n SMS kry dat Eugène Terre’Blanche vermoor is. Ek het eers gedink dis daardie tipiese vals nuus wat geskep word om paniek te saai. Kort hierna, toe meer en meer boodskappe deurkom, was dit duidelik dis waar. Hy is gewelddadig met pype en pangas op sy eie bed op die plaas vermoor. Ek het op ’n trappie buite gaan sit en gehuil. Nie net oor hierdie fassinerende man wat ek oor die jare heen leer ken het nie, maar ook oor ons bloedige tragedie van ’n land …

Deel 2

Ons het die AWB-leier [Terre’Blanche] alleen op sy plaas aangetref en ek moet erken ek het hom baie aangenaam gevind. Hy was aanvanklik vol grappies en het vertel hoe hy in die tronk geleer het om water met ’n bedveer te kook. Later die middag het hy ons na sy ma se graf geneem waar hy vir my gefluister het: “Gelukkig is hierdie vernedering haar gespaar …

Ek was op die trappe op pad na Tuks FM waar ek maar ’n paar maande vroeër aangestel is. Ná my pa se dood daardie jaar het ons (veral ek) goeie nuus nodig gehad. Ek was net baie spyt dat ek nie onmiddellik die goeie nuus met hom kon deel nie … dieselfde man wat daardie vorige drie televisieverskynings van my op Felicia en Isidingo opgeneem en oor en oor gekyk het. Ek weet dat hy baie trots op my sou gewees het.

Ek onthou dat die eerste program gegaan het oor kinders wat hulle ouers vermoor of probeer vermoor het en ek onthou ek’t gewonder of hierdie tipe program by my styl sou pas. Eintlik het ek humoristiese programme verkies aangesien ek altyd, nes my pa, die humor in alles kan raaksien.

In daardie heel eerste episode het my gas begin huil en ek het my sakdoek vir haar aangegee. Hierdie oomblik is deur ’n Huisgenoot-fotograaf vasgevang en is later gebruik in ’n artikel oor my: “Vat my sakdoek, jou trane roer my.

Ek moet bieg dat, alhoewel ek beslis empaties was in die oomblik, ons al lekker oor daardie spesifieke opskrif gelag het.

Oor sy tyd by die SABC2-program Skuur

Ek onthou hoe ek en hy [Chris du Plessis, die vervaardiger] ’n geweldige stryery gehad het oor een van ons gaste. Die arme man was vas oortuig dat hy ’n vampier was en wou op die program “uit die kas klim”. Chris het gevoel die man moet dan ’n glas bloed drink, maar ek het gevoel dis heeltemal te vroeg op ’n Saterdagaand vir hierdie tipe gruwels! Uiteindelik het ons ooreengekom op bosbessiesap.

En daar’s die man toe die aand op die program. Hy het in een van die kameras gekyk en gesê: “Ma, Pa … Hester … ouma Tillie … Ek is ’n vampier.

Mense het nie heeltemal geweet hoe om op hierdie nuwe program te reageer nie. Die gaste was beslis nie mense wat jy in jou normale gang van sake sou raakloop nie.

Vat nou maar die boudleser in ons eerste program. Hierdie man was nogal befaamd in sy tuisland, Duitsland, want hy was blind, maar sou deur bloot die kontoere van jou boude te volg ’n voorspelling oor jou toekoms maak! Die probleem was egter dat niemand bereid was om daardie tyd van die aand hulle boude op nasionale televisie te ontbloot nie.

Dit is toe dat Chris die idee kry om ’n boemelaar van Melville met die belofte van R150 en ’n bottel Mainstay stel toe te lok. En daar was die boemelaar toe, half dronk en kaal op ’n masseerbed en die boudleser in sy volle gewaad wat na ’n vinnige streel verklaar: “Jy het ’n drankprobleem!

Deel 2

Ons het gedoen wat ons kon om kykers te trek en het toe vorendag gekom met ’n plan wat ons seker was heelwat media-aandag sou trek.

Hennie Bosman is ’n reuseman wat as waaghals al in heelwat internasionale rolprente sy verskyning gemaak het. Hy het selfs praatrolle gehad. Hy was ook ’n swartgordel-houer en het kinders in karate afgerig.

Ek het vooraf met Hennie gesels en wou hoor of hy nie sal saamspeel met ons plan nie. Die idee was dat ek in die program kamma vir Hennie sou kwaad maak waarna hy moet maak asof hy my ’n behoorlike oorveeg gee. Ek het selfs vir hierdie doel ’n buisie vals bloed saamgebring.

Maar Hennie was nie te vinde hiervoor nie. Hy was bekommerd dat mense hom as ’n gewelddadige persoon sou sien, en veral omdat hy kinders afgerig het, het hy gevoel dit kan sy loopbaan skade berokken. Ek het besluit om in elk geval voort te gaan.

Dis toe tydens daardie onderhoud met Hennie dat ek sê wat ek eerder nie moes gesê het nie … Ek het Hennie uitgevra oor sy praatrolle en wou weet hoe hy sy woorde onthou. Hennie wou weet wat ek dan nou presies bedoel en dis toe dat ek opmerk: “Ek wonder maar net, want groot ouens is mos gewoonlik dommer!

Hennie het my die hardste klap van my lewe gegee. Een oomblik was ek op die stoel en die volgende oomblik langs die stoel. Ek het ’n los tand gevoel, maar darem onthou om van die vals bloed in my mond te spuit. Toe ek opstaan, het die gehoor die bloed gesien en gesnak na asem.

En, ja, ’n Son-joernalis wat ons vir die episode gereël het, het ’n foto geneem! Hennie het ná die tyd my hand geskud en wou weet of ons gekry het wat ons wou gehad het. Ons het. Dit het die koerant gehaal …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marius ·

Ek moet erken, hy is fasinerend. Ek kan wragtig nie van hom hou nie, maar hy is fasinerend.

vonnie ·

Het die artikel baie geniet maar net so by myself gewonder of ou Hennie dalk bietjie harder kon klap nie?

Rissiepit ·

Het nog nooit van hom gehou nie en sal ook nie – soos ek van Steve Hofmeyr hou en ander mense nie. Rian dink om abrupt, sinies en sarkasties te wees om tot die hype by te dra sal luisteraars (Jacaranda FM) en kykers (Skelpie) lok. Nope, dis soos naels teen ‘n swartbord. Each to their own, ek vermy plekke, radio en programme waar hy is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.