UJ-prys se kortlys bekendgemaak

Boeke op die kortlys vir die UJ-prys 2017 (Foto: UJ Departement Afrikaans, Facebook)

Die kortlys vir vanjaar se UJ-prys vir sowel skeppende skryfwerk as dié van die UJ-debuutprys is pas bekend gemaak.

Die Departement Afrikaans by die Universiteit van Johannesburg se UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë (UJ-prys en UJ-debuutprys) en oor die grense van genres heen, toegeken.

Titels wat in aanmerking kom vir die UJ-pryse is kreatiewe Afrikaanse tekste wat in die voorafgaande kalenderjaar gepubliseer is. Vir die 2017 UJ-pryse is altesaam 68 titels ingeskryf (in totaal 18 meer as verlede jaar), waaronder 16 debute (5 titels meer as die vorige jaar).

Ses titels is op die kortlys vir die 2017 UJ-prys geplaas, en drie op die kortlys vir die 2017 UJ-debuutprys. Die prys vir kreatiewe skryfwerk in Afrikaans bedra R75 000 en die debuutprys R30 000.

Die helfte van die sestien inskrywings debuuttekste was romans, met een dramateks en sewe digbundels.

Dit is interessant dat twee van die titels op die kortlys, van skrywers is wat in die 1980’s by Taurus gepubliseer het: John Miles en Ryk Hattingh. Die vernuwende aanslag is by al die titels uitgewys.

Die titels op die kortlys vir die 2017 UJ-prys, is (alfabeties volgens outeur):

* Dorado – Tom Dreyer
Dorado (verwysende na die vis sowel as ʼn pot goud aan die einde van die reënboog as eindbestemming) is ʼn magiese roman met ʼn besonder filmiese kwaliteit.

* Huilboek – Ryk Hattingh
Huilboek is Hatting se been-eerlike benadering wat tref. Met ’n rou, sterk liriese (maar nie-sentimentele) inslag word die persoonlik-traumatiese verlede gekonfronteer, terwyl ook ’n stem gegee word aan talle uitgewekenes wat deur persoonlike en sosiaal-politieke trauma min of meer gedwing word om hulle land van herkoms te verlaat.

* Koors – Deon Meyer
In Koors bly Meyer getrou aan die spanningsgenre, maar vermeng dit met ʼn goeie dosis distopiese literatuur.

* Op ʼn dag, ʼn hond – John Miles
Op ’n dag ’n hond bied ʼn bra stoïsynse blik op die lewe hoewel die toonaard nooit fatalisties óf pessimisties word nie. Dit is ’n gestroopte teks met ʼn goeie filosofiese onderbou.

* 1795 – Dan Sleigh
Sleigh verpak die verhaal in 1795 in poëtiese taal, terwyl hy skryf met ʼn gesag wat die leser volkome veiling laat voel. Die roman het die vermoë om ’n pertinente stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis helder tot lewe te wek en die eietydse relevansie daarvan tuis te bring.

Syferfontein – Cas Wepener
Die volgehoue gedagte- of bewussynstroom van Peet van Jaarsveld se komplekse karakter en sy manipulering van die verlede (“Hy, Peet van Jaarsveld, hy is die sluiswagter van hulle verlede”), word met skerp ironie deur Wepener onthul.

Boeke op die kortlys vir die UJ-debuutprys 2017 (Foto: UJ Departement Afrikaans, Facebook)

Die titels wat die kortlys gehaal het vir die 2017 UJ-debuutprys, is (alfabeties volgens outeur):
Die skaalmodel – Anneli Groenewald
Hy kom met die skoenlappers – Valda Jansen
Fotostaatmasjien – Bibi Slippers

Die keurpaneel word saamgestel uit Afrikaans-lesers betrokke by akademiese instellings en die media. Vir 2017 was die paneel van nege beoordelaars:
Frederick Botha (onafhanklik)
Dr Bibi Burger (UP)
Dr Karin Cattell (US)
Prof Jac Conradie (UJ)
Prof Marius Crous (NMMU)
Dr Karen de Wet (UJ)
Prof Ronél Johl (UJ)
Johan Myburg (onafhanklik)
Prof Marné Pienaar (UJ)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JC ·

My keuse=1795 van Dan Sleigh. Sjoe, watter briljante Afrikaanse skrywers het ons nie!
Afrikaanses is bederf en bevoorreg om skrywers van ons gehalte te he!
Lank lewe Afrikaans:)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.