Unieke, kleurvolle stories vir kleinspan

Vir kinders om ʼn liefde vir lees aan te leer, moet hulle die boeke geniet waarmee hulle leer lees. (Foto: Louise Strydom)

Vir kinders om ʼn liefde vir lees aan te leer, moet hulle die boeke geniet waarmee hulle leer lees.

Dit is presies waarom Anel Ubbink en Monique Janssens in 2018 Novae Uitgewers gestig het: Met die doel om ʼn liefde vir lees by kinders aan te wakker.

Anel, die besturende direkteur van Novae, en Monique, direkteur en skrywer van die maatskappy, is twee grondslagfaseonderwysers wat albei ʼn liefde vir lees het. Hulle het mekaar lank geken voor die uitgewery tot stand gekom het.

“Ek en Monique het ontmoet toe ons drie jaar lank saam by ʼn skool in Pretoria gewerk het,” vertel Anel in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Albei het later bedank en het mekaar vir jare nie gesien nie. Toe hulle mekaar weer een dag raakloop, het Monique vir Anel van ʼn storie vertel wat sy geskryf het. Anel was nuuskierig en het Monique daaroor uitgevra.

“Monique het die storie met my gedeel, en ons koffieafsprake het gou in vergaderings begin verander. Ek het geglo dat dié storie groot potensiaal ingehou het, al was dit voorheen vir ʼn skryfkompetisie afgekeur,” sê Anel.

Monique het die storie herskryf, en só is die Pippa en Pol storie- en leesreeks gebore wat nou op die Novae aanlyn biblioteek beskikbaar is. Die reeks bestaan uit 60 boeke met bypassende storiekaarte, sowel as boekstelle en omnibusse.

Anel verduidelik dat die Pippa en Pol-verhale met ʼn eietydse konteks in gedagte geskryf is. “Dit is prettige stories wat betrekking het op vandag se gebeure en wat in die jong lesers se verwysingsraamwerk val.”

Novae Uitgewers bied prettige stories wat betrekking het op vandag se gebeure en wat in die jong lesers se verwysingsraamwerk val. (Foto: Louise Strydom)

Monique het ook ander verhale geskryf oor onderwerpe soos die koronavirus en die grendeltyd. Op hierdie manier sorg sy dat die jong leser met karakters kan identifiseer, terwyl die balans tussen die werklikheid en ʼn verbeeldingsreis gehandhaaf word. Stories uit Monique se pen bevat ʼn goeie dosis humor en die meeste van Novae se boeke eindig op ʼn ligte noot met die hele gesin wat saam lag.

“Humor is ʼn belangrike element in die stories, want dit ontsluit natuurlik leesmotivering, leesgenot en uiteindelik leesbevordering,” meen Anel.

Verouderde woordeskat en ouderwetse verhale is volgens Anel enkele van die uitdagings wat jong lesers in hierdie stadium verhoed om lees werklik te geniet.

“Baie skole in Suid-Afrika se Afrikaanse leesreekse is ouderwets en kinders kan nie noodwendig meer met die verhale identifiseer nie. Dit is grootliks as gevolg van verouderde woordeskat, en gebeure wat vandag se kinders nie beleef nie.

“Kinders is verder al hoe meer op visuele aspekte ingestel, daarom moet illustrasies modern en kleurvol wees, en soos die taal en gebeure, in die kind se verwysingsraamwerk wees,” sê sy.

Anel beskryf haarself as ʼn gedrewe persoon en meen dat sukses deur ambisie gedryf word. Sy geniet die rol wat kreatiewe denke in haar lewe en in die besigheid speel – innoverende kreatiwiteit wat sy elke dag kan toepas, en waarin sy tot die uiterste betrokke kan wees.

Novae Uitgewers se Pippa en Pol storie- en leesreeks bied unieke, kleurvolle stories vir die kleinspan. (Foto: Louise Strydom)

“My definisie van sukses is om die beste te doen met die talente waarmee ek geseën is. Dit is ook vir my lekker om nuwe mense te ontmoet en verhoudings te bou – in die bemarkingsproses, maar ook in ons eie span.”

Tesame met Anel en Monique is Michelle van Jaarsveld (taalversorging) en Reuben Kotzé (grafiese ontwerper) in die Novae-span.

Novae Uitgewers het pas sy nuwe aanlyn biblioteek bekendgestel en volgens Anel is hulle baie opgewonde oor die nuwe hoofstuk.

“Die biblioteek is beskikbaar vir enigeen met toegang tot die internet, en spesifiek ook dan vir alle skole en leessentrums. Danksy die aanlyn platform het lesers op enige tyd of plek toegang tot ons moderne leesreeks.”

Klik hier om meer oor Novae Uitgewers se aanlyn biblioteek te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.