Vadersdag sonder pa

reine waarheid en ander liegstories

[Die artikel is reeds in 2013 vir die eerste keer op Maroela Media gepubliseer. -Red]

Dit is vanjaar 36 jaar sedert pa Jan op die vliegtuig geklim het VSA en Japan toe, maar later in ‘n flessie teruggekom het.

Pa Jan was nog jonk, skaars 50, toe sy tyd aangebreek het, so kort na hy die Akademie se Havengaprys vir Biologie gedeel het.

Hy was na New York onderweg waar die internasionale anatomiekongres plaasgevind het, waarvan hy die president was. Pa het op ‘n manier aan die wêreld behoort. Talle oorsese reise, en talle oorsese besoekers. Hoewel hy nie selfs medies studeer het nie, het hy anatomie vir mediese studente gedoseer, en ‘n eenheid van die Mediese Navorsingsraad bedryf. Hy is nadoods deur die MNR met ‘n medalje vereer.

Eintlik was hy oorspronklik ‘n paleontoloog, en het saam met bekendes soos proff. Raymond Dart en Phillip Tobias by die Bernard Price-instituut gewerk. Hierna het hy sy tweede doktorsgraad – in embriologie, verwerf.

Maar al het pa-Jan aan die wêreld behoort, het hy ook aan sy gesin behoort. Ja, pa was ‘n man wat, as daar ‘n kerkkoor in sy gemeente bestaan het, het hy daarin gesing. Hy het ook in Pieter van der Westhuizen se Stellenbosse koor die Johannespassie uitgevoer. En veral vakansies by Kleinbrak het hy sy gesinnetjie aan die sing probeer kry wanneer Boeke gevat is. Dit sal nie as een van sy groot suksesse gereken word nie.

Maar hoekom nou, na 36 jaar, so ‘n sterk behoefte te voel om weer iets oor pa Jan neer te pen?

Onder pa Jan se vele deugde was om stories te vertel. Hy was ‘n gebore Namakwalander, en waar ‘n groep mense in ‘n kring gestaan en skaterlag het, was pa Jan dikwels in die middel besig om weer ‘n storie op te dis. Selfs met sy roudiens het een van sy hartseer vriende vir ouma gesê as Jan self hier was, sou hy weer ‘n grappie te gemaak het.

Van die stories het in my kop vasgeslaan, en ek het dit na sy dood mettertyd begin opteken. Dit het byna ‘n obsessie by my geword dat hierdie verhale nie verlore gaan nie.

Vanjaar, uiteindelik, het die stories in ‘n e-boek, Die reine waarheid en ander liegstories, ‘n werklikheid geword. Dié bundel bevat nie net pa Jan se stories nie, maar ook ander wat ek met die verloop van jare uit verskillende dele van die land bymekaar gemaak het. Dankie aan Trisa Hugo van Boekemakranka wat dit moontlik gemaak het.

Daar is ook ander redes hoekom ek juis vanjaar vir pa Jan mis. Ons oudste, Nic, het vanjaar sy honneursgraad in landbou gekry. Dit is tot so ver die naaste wat iemand uit pa se nageslag ook in ‘n wetenskaplike rigting beland het. En nou is dit Vadersdag. En die onthou lê vlak.

As iemand ‘n bietjie van hierdie herinneringe wil deel: Die Reine waarheid en ander liegstories is kontreiverhale en meestal humoristies. Koop die boek hier: TakeALot, Leserskring of KoboBooks

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae