Van Skoolbank tot Bordeelbed: Skrywer vertel

Van Skoolbank tot Bordeelbed (Jonathan Ball Uitgewers, R200). Foto: Jonathan Ball Uitgewers

Van Skoolbank tot Bordeelbed (Jonathan Ball Uitgewers, R200). Foto: Jonathan Ball Uitgewers

Die boek, Van Skoolbank tot Bordeelbed (geskryf deur Jaco Hough-Coetzee met Elanie Kruger), vertel die ware verhaal van Elanie Kruger, wat as ʼn 16-jarige Bloemfonteinse meisie in ʼn bordeel beland het. Ná ʼn vriend van haar broer haar onverklaarbaar een middag by ʼn bordeel afgelaai het, het haar lewe onherroeplik verander. Wat gevolg het, was ʼn lewe van dwelms, drank, satanisme en seksslawerny.

“Deur die boek probeer ek om mensehandel in Suid-Afrika ontbloot. Mense is geneig om te dink mensehandel gebeur nie in Suid-Afrika nie, maar êrens ver van hier. Dis nie so nie – iemand word elke ses ure vermis in Suid-Afrika en mensehandel vorm deel daaraan,” sê Kruger.

Sy sê dit is kommerwekkend dat niemand deesdae meer geskok is wanneer mense vermis raak nie. “Jare gelede was dit hoofnuus, maar vandag gee mense nie meer om nie. Honderde ouers wat my boek gelees het, bel my en sê hul kinders is vermis en niemand doen iets daaraan nie.”

Dít raak haar emosioneel omdat sy ook eens ʼn vermisde persoon was na wie niemand gesoek het nie. “Ek was daagliks saam met tussen 15 en 20 mans. Hulle het my fisies en emosioneel gebreek. Ek is vasgemaak aan beddens, gemartel en verkrag. Ek het daagliks met selfmoordgedagtes rondgeloop.”

Ná sy eendag besluit het om te ontsnap, het sy vir etlike weke in die veld geskuil uit vrees dat die eienaars van die bordeel haar sou vermoor wanneer hulle haar opspoor. “My lewe was verwoes. Ek het een oggend op my knieë gegaan en gevra as daar ʼn God is, dat Hy my moet help.”

Geloof het haar kruk geword. “Die Here hét my toe aangeraak. Hy het vir my gewys dat Hy altyd daar was en vir my gesê ek moet vergewe om te kan ontsnap uit die emosionele tronk waarin ek is.”

Dit het tyd geneem en sy moes al die seer konfronteer om in staat te wees om almal te kan vergewe. “Selfs toe ek vergewe het, het ek gesukkel om mense weer te vertrou. God was die eerste man in my in lewe wat ek weer kon vertrou en daarna is ek geseën met ʼn wonderlike man. Hy verstaan my heeltemal,” sê sy.

Elanie het besluit om haar storie te vertel om mense bewus te maak van hoe gereeld en maklik mensehandel in Suid-Afrika gebeur. “Vergifnis was die moeilikste deel vir my, maar noudat ek vergewe het, wil ek ander met my storie help. Mensehandel, orgaandiefstal en vermisde persone is nou erger as 20 jaar gelede toe ek ʼnslagoffer was. Ek voel die Here druk dit op my hart om mý klein bydrae te maak en dinge te probeer verander.”

  • Ontmoet Elanie saam met Hykie Berg by Solidariteit Helpende Hand se praktiese kursus oor hoe om jou geliefdes te beskerm teen mensehandel, op 5 Desember by die Laerskool Tygerpoort in Silver Lakes. Kaartjies kos R200 en is beskikbaar by Elize Bezuidenhout by 012 644 4390, of stuur ʼn e-pos na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sukijaki ·

Ek is nou besig om die boek te lees – absoluut hartverskeurend! Ek kry nagmerries daaroor, en as ek só voel na ‘n so ‘n droom, kan ek net dink watter hel jy moes deurgaan. Elanie, dankie dat jy jou storie deel, jy is ‘ n inspirasie. Hopelik raak mense bietjie meer bewus van hierdie onmenslike misdaad.

Rina Kotze ·

Word wakker ouers in SA en stel weer belang in julle kinders, van kleins af!
Hou hulle met ‘n valkoog dop en wees veral versigtig in wie se toesig jy hulle laat!
Selfs familie kan nie emosioneel na ‘n kind kyk nie. Fisies ja, maar hulle ken nie jou kind soos jy jou kind ken nie.
Gee aandag en tyd aan jou kinders, hou jou beloftes wat jy maak, dan sal hulle ook nie wil wegloop vd huis nie.

En bid vir jou kind/kinders!

Tresia ·

Ek het die boek gelees en kon dit nie neer sit nie. Het kort-kort gestop om trane af te vee. Om te lees wat sy op so jong ouderdom moes deur maak breek my moeder hart. Die boek het beslis my oë oop gemaak vir die werlikheid van mensehandel.

Charlene ·

Ek het die boek gelees,dis verskriklik!!Die fisiese en emosionele pyn waardeur sy moes gaan. Sulke goed gebeur onder ons neuse.Ek ry my kinders rond en los hulle nie om in die strate te loop nie.Dis ons as ouers se plig om ons kinders te beskerm teen die euwels daar buite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.