Van tronksel na preekstoel: Ivor Swartz se pad saam met God

Ivor Swartz, skrywer van ‘Die verlore seun vannie Gaatjie’ (Foto: Ivor Swartz/Facebook)

Die debuutskrywer Ivor Swartz meen sy storie getuig van God se liefde en genade in die lewe van ʼn Gaatjie-kind.

“Moenie jammer voel vir my terwyl jy die bladsye lees nie. Sê eerder vir God dankie vir sy genade oor my,” meen hy.

Swartz, ʼn boorling van Grabouw in die Wes-Kaap, het onlangs met Maroela Media oor sy tronk-outobiografie Die verlore seun vannie Gaatjie gesels. Hy vertel hoe sy beskouing van God oor die jare verander het, wat sy rol as jeugpastoor vir hom beteken en hy verklap ʼn geheim uit sy tronkdae.

Swarts se pa is vroeg dood en sy ma het hom en sy sibbe alleen grootgemaak. Hulle oudste broer het die rol van hul pa oorgeneem, maar in ʼn monster ontaard wat die gesin op wreedaardige wyse geterroriseer het.

Een aand het Swartz die einde van sy geduld en uithouvermoë bereik. Hy en ʼn vriend se optrede het tot die dood van sy broer gelei en Swartz is gevangenisstraf opgelê.

“Ek het geweet my ervaring van ‘huis’ was nie wat dit veronderstel was om te wees nie,” vertel hy. “Die huis wat ek geken het, was net ʼn plek om in te slaap, waar jy kos geëet en skoongemaak het.”

Dit het onvermydelik ʼn negatiewe invloed op Swartz se beskouing van God gehad. Hoewel hy God geken het en sy ma ʼn Christen was, kon hy nie verby sy eie seer en wanindruk kyk nie.

Die jongman het toe teruggegaan na sy pa se huis toe. Toe hy nog ’n hele ent van die huis af was, het sy pa hom herken. Hy was so bly dat hy dadelik na hom toe gehardloop het. Toe hy by sy seun kom, het hy hom omhels en hom gesoen van blydskap (Lukas 15:20 Die Boodskap).

“Ek is nie grootgemaak om ʼn verstaan van God te het nie,” verduidelik Swartz. “As gevolg van my eie ervaring kon ek nooit met God relate as ʼn vaderlike figuur nie.”

Hy het na God gekyk deur sy eie lens van swaarkry, geweld en beproewing, eerder as om na God te kyk vir wie hy werklik is.

Swartz het in 2006 tot bekering gekom. Hy het nie toe al geweet dat God se plan vir sy lewe hom tot by die preekstoel sou lei nie. Hy het teologie studeer en werk tans as jeugpastoor by die NG-gemeente in Oosterlig, Pretoria.

“Dit was nooit in my gedagtes dat ek met jongmense sou werk nie,” vertel hy. “Maar ek het geweet ek moes teruggee, want ek het baie uit die gemeenskap gevat.”

Dit was egter ook nie deel van Swartz se plan om ʼn boek te skryf nie, maar nou, agterna, het die skryfproses hom opnuut met emosies en herinneringe gekonfronteer wat hy moes verwerk.

Swartz erken dat die hoofstukke oor sy ma, Lettie en pa Pieter-Bingo die moeilikste was om te skryf.

“Die skryfproses het my gehelp om heel te word. Ek moes my pa vryspreek oor iets wat nie sy skuld was nie.”

Ma Lettie is op Saterdag 9 Julie 2005 onverwags aan ’n hartaanval oorlede. Swartz was nog in die tronk en die nuus het hom eers die volgende dag bereik. Hy is hartseer dat sy ma nie die voltooiing van sy boek saam met hom kan vier nie.

“Sy [ma Lettie] bly een van die groot redes hoekom ek ’n verskil wil maak in mense se lewe, hoekom ek wil teruggee, hoekom ek wil baklei vir mense, hoekom ek glo niemand se agterstand in die lewe kan so erg wees dat hulle nie kan opstaan nie.”

Soms het Swartz ure na sy rekenaarskerm gestaar omdat hy nie sy emosies kon verwoord nie. Ander kere het hy op sy suster, Tess, se herinneringe staatgemaak om die legkaart te voltooi.

Swartz het hoofsaaklik dagboekinskrywings uit sy tronkdae gebruik om sy verlore-seun-verhaal te skets.

“Ek het ʼn tronkbewaarder se notaboek gesteel waarin ek geskryf het, en ek erken dit openlik,” skerts hy.

Dié verlore seun van Grabouw is allermins dieselfde laaitie van ouds. Saam met sy vrou, Nadine, is hulle besig om sy verwronge beeld van ʼn huislike omgewing te herskep. Tussendeur wedywer hy vir God se koninkryk en soggens lees Swartz uit Die groot verseboek as deel van navorsing vir sy voorgenome digbundel oor teksgedeeltes in bendetaal.

  • Maroela Media het tydens ʼn Zoom-onderhoud met die debuutskrywer Ivor Swartz, skrywer van Die verlore seun vannie Gaatjie, gesels oor sy tronk-outobiografie. Hy vertel hoe sy beskouing van God oor die jare verander het, wat sy rol as jeugpastoor vir hom beteken en hy verklap ʼn geheim uit sy tronkdae. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
RS

Sibbe …. wat n walglike woord.

Miskruier

Selfs vir n moordenaar is daar vergifnis, dankie Jesus.

Belinda

Ek het baie respek vir jou jongman en mag jou nuwe lewe baie meer red voor hulle die stadium bereik waar jy tronk toe moes gaan.

Vrijburger

Ek wens jou net die beste toe.

Moedeloos

Solank daar Lewe is is daar Hoop is die spreekwoord. Hierdie jongman het n nuwe Lewe gekry en daar is baie Hoop vir hom vorentoe.