Vat hande oor toekoms van Afrikaans

 philip-spies-boek-afskeid-van-n-volk

Prof. Philip Spies se boek vra jou om saam te dink oor die toekoms van Suid-Afrika en Afrikaanse. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Suid-Afrikaners is op talle terreine in die moeilikheid. Veral Afrikaners, Afrikaanssprekendes – hul taal is onder druk soos nog nooit vantevore nie.

Boonop voel dit ook of enige kritiese debatvoering en denke oor dié gemeenskappe en hul taal verdwyn het, en gesprekke oor die saak slegs neerdrukkend en op die hede gerig is.

Prof. Philip Spies, ʼn toekomsnavorser aan die Universiteit Stellenbosch (US), se boek Afskeid van ʼn volk – Op soek na ʼn toekoms stel dwingende vrae oor die pad vorentoe vir Suid-Afrika en sy mense.

In die boek behandel Spies vier hooftemas. Hy kyk na die toekoms van Afrikaners in ʼn uiters onseker land en ondersoek die aard van Afrikaans- en Afrikaner-wees. Spies stel ʼn paar sleutelvoorwaardes vir ʼn vooruitstrewende Suid-Afrika. Hy vra ook in sy boek wat Afrikaners te doen staan om ʼn goeie toekoms te help skep.

“Ek dink nie ons kan net terugsit en van die politici en die regering verwag om die probleme in Suid-Afrika te beredder nie. As ons dit doen, staan ons bitter na aan ʼn afgrond.

“Soos wat die politiek in die land nou bedryf word, is dit eintlik ʼn vyand van die land se toekoms.”

Spies glo ook nie daar bestaan iets soos Suid-Afrikaners nie. “Ons is nie een nasie nie, ons is nie eers ʼn samelewing nie. Mens is so besig om met mekaar te baklei en mekaar af te breek dat daar nie eintlik tyd is vir skeppende en opbouende denke nie, wat nog te praat van ʼn ordentlike samelewing.

“As ʼn mens met só ʼn rugbyspan op die veld sou draf, sal hulle nie wen nie, al het die span die beste spelers in die wêreld. Die belangrikste taak wat ons nou voor oë het, is om ʼn samelewing in Suid-Afrika te bou en dit gaan ʼn ander soort denke en ʼn ander soort mens vereis.”

Spies het 40 jaar se ondervinding op die gebied van toekomsnavorsing. Hy is ook die voorsitter van Gelyke Kanse, ʼn groep wat die verengelsing van die US beveg en hulle beywer vir Afrikaanse moedertaalonderrig.

Uit die ondervinding wat hy daaruit opgedoen het, het hy gesien mense binne die Afrikaner- en Afrikaanssprekende gemeenskappe neem op twee maniere afskeid van hulle volk:

“Mense emigreer na ander lande, maar ander mense onttrek hulself eenvoudig net van hul geskiedenis en kultuur.”

Hy sê dit is een van die redes waarom die een ná die ander gevestigde instelling tuimel, maar hy is ook oortuig dat dit nie so hoef te wees nie. “Philip Jonker van Bonnievale het saam met sy plaaslike gemeenskap ʼn tegniese skool vir plaaswerkers begin. In Paarl het ons ʼn plaaslike jeuginisiatief wat soortgelyke projekte doen. As almal só kan saamwerk, is daar beslis ʼn mooi toekoms vir hierdie land.”

Hoe sien Spies die rol van Afrikaners in die toekoms?

“Afrikaners gaan hulself moet vra wat hulle in die land wil en kan doen.”

Dit is ʼn taak wat Spies sê elkeen vir homself sal moet uitpluis en as hulle die antwoord het, sal hulle die taak moet voorop hou en binne hul gemeenskap en omgewing gaan uitvoer.

Hy hoop dat mense met die lees van sy boek ook ʼn beter begrip sal ontwikkel vir die geskiedenis van Suid-Afrika, waarheen dit die land geneem het en wat die stand van sake nou is.

“Dit help nie om net allerhande wilde stellings te maak en jou vuis in die lug rond te swaai as jy nie ʼn begrip het van waaroor dinge gaan en waarheen dit op pad is nie.”

“My boodskap aan die breë gemeenskap is: Leer ken jouself en jou kultuur. Respekteer jou kultuur se tradisies en moet dit nie weggooi nie. Bly eerbaar en werk saam met die kulture om jou.”

  • Luister ook na die podsending boaan hierdie artikel. Prof. Philip Spies het uit die Paarl met Esté Meyer Jansen gesels oor hoe hy die toekoms van Suid-Afrika sien. Hy verduidelik ook hoe hy die rol van Afrikaners, Afrikaanssprekendes en die Afrikaanse taal in hierdie land sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.